Maleagi 2:10-16
Vanoggend se gedeelte gaan oor 'n baie teer sakie, een wat al baie pyn en hartseer in feitlik elke gelowige se lewe gebring het. Dit gaan oor die huwelik. Nee, dit is nie die huwelik wat pyn en smart bring nie, maar wanneer 'n huwelik skeefloop dat hierdie dinge gebeur. Maleagi spreek hierdie saak aan sonder om doekies om te draai.
Die profeet begin met 'n inleiding waar hy die stelling maak dat ons almal tog mos net een Vader het en dat ons almal deur één God geskep is. En dan vra hy die vraag: “Waarom is ons dan ontrou aan mekaar en ontheilig ons die verbond wat met ons voorouers gesluit is?”
Hierdie vraag is spesifiek gerig met die oog op die huwelik.
Maleagi noem huwelikstrou of -ontrouheid in dieselfde asem as trou of ontrouheid aan God.
Die volk se eerste misstap was dat die manne getrou het met vrouens van 'n ander geloof. Dit gaan nie hier oor die verskille tussen volke of kultuur of selfs ras nie, maar oor mans wat vrouens gevat het met ‘n ander geloof. Dit het beteken dat man God Almagtig aanbid het, terwyl sy vrou die een of ander afgod aanbid het. In so 'n huwelik is dit totaal onmoontlik om 'n ware eenheid te hê, want hoe gesels jy oor sake wat jou geloof raak? En wat van die kinders? Hoe word hulle geleer wie die ware God is? Die ma gaan hulle een ding leer en die pa iets héél anders.
Maar dit het ook so 'n man permanent onrein gemaak, want hy het dan saam met 'n heiden gebly, 'n afgodsaanbidder. Hy moes dan verbied word om in die tempel te kom en in werklikheid was hy streng gesproke nie eers geregtig om in aanraking te kom met ander Israeliete nie.
Sulke huwelike gebeur dikwels vandag nog steeds, waar die een huweliksmaat 'n gelowige is en die ander totaal ongeërg staan teenoor die Here of selfs afgode aanbid. Daar het al verskeie kere mense op my skouer kom huil oor die bitter pyn wat so 'n huwelik veroorsaak. Daar is géén ondersteuning van die kant van die ongelowige huweliksmaat nie en dikwels word sy selfs gespot en verag oor haar geloofsoortuigings.
Gewoonlik eindig so 'n huwelik ook in die skeihof, want versoening is totaal onmoontlik. Ek het al soveel keer gehoor dat 'n verliefde meisie sê dat sy die man in haar lewe sal regkry. Sy sal hom lei na ander insigte. Dit gebeur egter feitlik nooit en 'n jaar of twee later is die arme vrou bitter ontnugter.
Die groot hartseer is verder dat so 'n verhouding ook jou verhouding met die Here baie nadelig kan beïnvloed. Waar daar 'n verhouding vol vreugde en blydskap en volheid met God moet wees, is dit nou een waar jy gedurig huil voor God. Dit voel asof die Here nie luister na jou smeekroep nie en nie jou trane raaksien nie. Jou gebedstyd word opgeneem deur bitter versugtinge eerder as lofprysing en aanbidding. Uiteindelik dryf jy selfs weg van God af.
Die tweede saak wat Maleagi aanraak is een wat vandag 'n kenmerk van ons lewe geword het: egskeiding.
Maleagi beklemtoon die band waarmee die huwelik twee mense verbind aan mekaar. Dit is 'n band wat gesmee is wanneer die twee mense plegtig trou aan mekaar belowe het. Wat die band heilig maak, is die feit dat die Here as getuie geroep is toe die band gesmee is (vers 14). Ons durf nie hierdie huweliksband geringskat nie!
Een van die hoof oorsake van 'n egskeiding is ontrouheid. Luister net hoe kras stel Maleagi hierdie euwel: “Moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy getroud is toe jy jonk was nie. Want Hy haat egskeiding, het die Here, die God van Israel, gesê. So iemand het hom met geweld omhul.” (vers 15b & 16)
Sjoe! Dit is harde woorde! God haat egskeiding! Egskeiding is geweld! En wat vir die man geld, geld vandag natuurlik ook nét so vir die vrou.
Egskeiding en huweliksontrou is op die oortreffende trap die verbreking van die liefdesgebod, die grootste gebod in die wet. In die eerste plek is dit liefdeloosheid teenoor jou huweliksmaat, die een met wie die liefdesband op sy sterkste moet wees. Maar dit is terselfdertyd ook liefdeloosheid teenoor God, want Hy was as getuie geroep tydens julle huweliksbevestiging en nou word Sy getuienis in die grond getrap.
Maar daar is verdere implikasies, want die kinders kry baie seer tydens 'n egskeiding of ontrou en so ook die ander familie en vriende. Boonop ly die kerk skade, want 'n egskeiding het ook 'n rippeleffek op die onmiddellike samelewing en hoe die ongelowiges die kerk sien wanneer lidmate liefdeloos optree.
Hierdie gedeelte praat seker die sterkste van almal in die Bybel oor egskeiding. Kom ons onthou dit!
Gebed:
Here, help my asseblief om my huwelik rein te hou en propvol liefde en trou.