Huis op die Sandduin

5 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Huis op die Sandduin

Lukas 6:46-49

Dit was in die vroeë sewentigs toe die gróót reën eendag ons ou slapende dorpie, Ballito tref. Teen die skuins helling het ‘n jong paartjie ‘n huis gehad, een met ‘n uitsig oor die wye oseaan. Die tweetjies is die aand kooi toe met die heerlike gedruis van reën in hulle ore. Sy gaan lê en lees. Stadig kry sy die vreemde gewaarwording van gróót water, amper soos ‘n rivier in vloed. Dis seker maar haar verbeelding! Sy verdiep haar in haar boeiende boek.

Skielik is daar ‘n rammeling en ‘n sieklike gekraak, en sy voel met ‘n skok hoedat haar bed begin beweeg. Sy vlieg vervaard uit die bed uit, net betyds om te sien hoedat hulle huis besig is om onder hulle voete uitmekaar te breek. Beangs hardloop hulle in hulle nagkabaai uit die huis uit in die gietende reën. 'n Stormwaterpyp bokant die huis het gebreek en daar stroom 'n jong rivier in ‘n reuse sloot van drie meter diep deur die erf, en dit is besig om die fondamente onder die huis weg te vreet. Die huis hang letterlik aan ‘n draadjie, besig om stadig middeldeur te breek.

Vandag, baie jare later, is daardie skuinste waar hulle huis gestaan het steeds die gewildste deel van Ballito, bloot oor die asemrowende uitsig. Die duurste paleise word daar gebou. Wat mense egter nie besef nie, is dat dit ‘n oer-sandduin is, en as daar weer so ‘n stormwaterlekkasie kom, kan dit weer ‘n baie duur ineenstorting veroorsaak as die fondamente nie ontwerp is om tot op vaste rotse te reik nie.

Jesus vertel ‘n gelykenis oor twee tipes bouwerk: die een waarvan die fondament op die rotsbodem gelê was en die ander wat sommer so op die sand was. Op die oog af sien jy nie ‘n verskil tussen die twee huise nie, maar wanneer die vloedwater kom, dan tuimel die huis sonder behoorlike fondamente inmekaar, terwyl die ander bly staan. Tydens die vloede wat die kus in 2007 getref het, was daar huise wat eenvoudig verkrummel het onder die aanslag van die golwe. Helfte van ‘n gewilde restaurant is eenvoudig ingesluk deur die see. Hy was, terloops, óók op ‘n sandduin gebou! Een gebou het egter almal verstom: die lewensredders se geboutjie wat reg op die strand gebou was, het ongeskonde daarvan afgekom. Die rede? ‘n Inginieur wat daarop aangedring het dat die fondament met groot moeite op vaste rots gegiet word!

Waaroor gaan dit alles?” wil jy dalk vra. “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” vra Jesus. Jesus is die Rots waarop ons die gebou van ons lewe moet bou, want sonder daardie Fondament sal daar die een of ander tyd baie groot probleme kom. Soos met ‘n huis, sal alles piekfyn lyk solank dit goed gaan, maar wanneer die aanslae van die lewe kom, is dit slegs die persoon wat Jesus as Fondament het wat sal staande bly.

Die vraag is: Hoe bou ek op daardie Jesus-fondament? Jesus gee die antwoord helder en duidelik: “Doen wat Ek sê”.

Maar waar begin ek?” mag jy dalk vra. “Daar is so baie dinge?”

Ek staan by die deur en Ek klop,” nooi Jesus ons uit in Openbaring 3:20, om ons harte vir Hom oop te maak en Hom binne te nooi. Jy hoef Hom nie te gaan soek nie, Hy wag alrééds daar, net om toegelaat te word in jou lewe. Dit is die eerste en belangrikste stap.

O, maar Jesus is reeds deel van my lewe,” sê jy dalk. “Volg My,” het Jesus vir Petrus gesê (Mat 4:19). “Volg My!” sê Hy vandag ook vir jou en my. Om Jesus te volg is beslis nie maklik nie. Petrus en sy maters het dit op die harde manier uitgevind. Maar die beloning is een wat jy nie kan beskryf nie.

Om Jesus te volg, beteken nie noodwendig dat jy jou werk en huis en alles moet los, en gaan sendingwerk doen in Timbaktoe nie. Dit beteken egter dat jy wél sekere opofferings moet maak en voluit vir Hom lewe. Dit beteken dat jy die regte prioriteite in jou lewe moet hê, waar die saak van Jesus voorrang moet kry bo wêreldse dinge. Dit beteken dat jy ‘n ambassadeur vir Jesus sal wees by jou werk en oral waar jy gaan. Dit is baie moeilik, maar die Here het geweet dat ons dit nie op ons eie kan doen nie, en daarom het Hy ons die Heilige Gees gegee om ons die krag, wysheid, inspirasie en moed te gee om op te staan vir Jesus.

Liefde is die sement wat jou lewenshuis aanmekaar hou en dit anker op die Jesus-fondament. Daarsonder val alles uitmekaar. Jy kan die beste betonmengsel aanmaak vir ‘n fondasie, maar sonder sement is alles puur verniet. In 1 Kor. 13 besing Paulus die betekenis van liefde. Ek en jy behoort hierdie gedeelte gereeld te lees om ons geheue te verfris, en dit dan prakties te gaan uitleef. Liefde, soos wat Paulus dit beskryf, is waarlik die sement van die fondament waarop ons lewenshuis gebou moet word.

Kom ons bou vandag in alle erns op die Jesus-fondament!

Gebed:

Here, vandag pleit ek alweer skuldig, want my bouwerk is nie op standaard nie. Help my asseblief om te begin by die regte fondament.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026