Johannes 12:12-19
Die spanning is besig om op te bou tot ‘n geweldige crescendo. Twee dae nadat Maria die duur nardusolie oor Jesus se voete uitgegooi het, stap Jesus en Sy dissipels uit Betanië na Jerusalem. Van heinde en verre kom mense aangestroom vir die Paasfees. Dan herken iemand vir Jesus, en binne minute gons dit onder die menigtes wat soos ‘n lewende rivier die laaste entjie na Jerusalem kronkel, dat Jesus ook daar is op pad is na die fees toe. Almal is vrolik en opgewonde, want só ‘n gebeurtenis kom net eenkeer per jaar! Maar vanjaar is dit asof iets anders knaag aan die stemming. Almal besef dat daar iets baie groot gaan gebeur, maar niemand kan sy vinger daarop lê nie!
“Daar is Jesus!” Binne minute breek ‘n groot groep mense weg soos ‘n reuse swerm kommandowurms agter Jesus aan. ‘n Jong donkie - ‘n eg-koninklike rydier - word nadergebring. Wanneer Jesus opklim, raak die skare histeries. Hulle dreunsang weerklink oor die klowe en eggo dat dit kilometers ver gehoor kan word. Hy ry die steilte af na die stad op die donkie wat Sy dissipels vir Hom gaan haal het. Oral langs die pad pluk die mense palmtakke en al takswaaiende en singende drom hulle om Jesus saam. “Hosanna!” sing hulle uit volle bors. “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”
Hosanna is ‘n Hebreeuse woord uit Ps 118:25 en dit beteken “verlos ons tog.” Dit word uitgespreek hosji-a na. “Die Koning van Israel! Die Koning van Israel!” dreun dit deur die menigte, wat nog al die tyd aangroei teen ‘n verbysterende tempo.
In Sagaria 9:9 word hierdie intog van die Messias op die rug van ‘n donkie letterlik woord-vir-woord voorspel. Die mense is baie opgewonde! Het die einde van die Romeinse oorheersing nou uiteindelik aangebreek? Hierdie skare dink beslis so! En ja, daar is die klein handjievol wat bitter bekommerd ook maar deel in die feesvreugde. Wat gaan môre oplewer? Gaan hulle Meester dalk veroordeel word deur die kerkleiers? Besef hierdie jillende skare dit dan nie?
Maar daar is ook ‘n groepie manne wat gladnie meedoen nie. Rasend van woede staan hulle eenkant en beraadslaag. “Kyk net wat doen Hy!” sis een Fariseër. Hy slinger woedende verwyte na sy moedelose kollegas: “Sien julle nou! Julle het net mooi niks uitgerig gekry nie! Hier het ons dit nou - die ganse wêreld tou nou agter Hom aan!”
“Ja,” brom ‘n ander een nors “as ons nie nou blitsig optree nie, gaan hierdie ding baie lelik skeefloop! Dink nou maar vir julleself: wat gaan die Romeine doen as hulle sien dat hier ‘n groot opstand aan die uitbroei is? Dan is dit klaarpraat met ons! Al ons harde werk van die afgelope jare gaan tot niet gemaak word! Daardie Romeine gaan ons opfrommel!”
“Ons moet onmiddellik van Hom ontslae raak of ons is in groot moeilikheid!” stem die nors manne saam.
Die woorde van Sagaria 9:9 spring uit die bladsye van die profesie: “Jubel, Sion! Juig Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ‘n oorwinnaar, Hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”
Het enigeen van die duisende mense wat so al singende agter Jesus aan dans, hierdie woorde van Sagaria onthou? Eers later, toe alles verby was het die profesie begin sin maak vir die dissipels. Nou wil hulle egter huil want hulle sien hoe Jesus in die moeilikheid inry. Daardie manne gaan Hom beslis nie weer laat wegkom nie. Tóg ry Hy gedweë die stad binne, soos ‘n Lam ter slagting gelei. Hulle verstaan dit nie. Hoe kan Hy so willens en wetens reguit in die slagyster inry?
“Hosanna!” skreeu die skare histeries. “Hosanna! Gee ons nóú verlossing!” Hoe profeties is hulle woorde nie! “Hosanna! Hosanna!” weergalm dit teen die stadsmure wat al nader kom. Dit is presies wat Jesus op pad is om te gaan doen, om verlossing te gaan bewerkstellig! Maar dit is beslis nie die soort verlossing wat hierdie mense verwag nie. Hierdie Koning ry nie op ‘n vurige perd om oorlog te gaan maak, soos wat hierdie skare éintlik wil hê nie. Nee, hierdie Koning ry op ‘n sagmoedige donkie! Hy bring vrede! Die verlossing en vrede wat hulle soek, kan alleen met geweld kom. Ja, die skrikwekkende geweld wat teen Jesus gebruik is, laat ‘n mens sidder. Maar Hy het dit nie met geweld beantwoord nie. Wanneer hulle Hom op die mees grusame manier behandel, antwoord Hy met liefde: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Die gebeure daar voor Jerusalem se trotse stadspoorte ruk my aan die hart, net soos wat dit sekerlik ook Sy dissipels geruk het. “Kon die Vader nie maar net verlossing gegee het nie? Waarom moes Jesus nou juis so verskriklik ly?” Moontlik kon Hy, maar dan sou dit goedkoop en afgewater gewees het! Ons verlossing het verskriklik duur gekom! God se genade is nie goedkoop nie en juis dáárom vra dit van jou en my om ons dankbaarheid met passie uit te leef. Jesus was bereid om die volle pad te stap. Hy was bereid om doelbewus in die put vol adders in te klim om ons te red. Die skrikwekkende is dat Hy presies geweet het waarvoor Hy Hom inlaat!
Gebed:
Here, dit ruk in my, en ek kry diep seer as ek dink aan U groot offer vir my. Ek wil U dien, Here, met alles wat in my is omdat ek so dankbaar is vir wat U vir my, sondaar, gedoen het!