Daniël 9:15-19
Verkeer die kerk in ‘n Krisis? In gemeentes regoor die land sien ons hoedat kerke besig is om leeg te loop - al hoe minder mense het die behoefte om ‘n erediens by te woon. Talle gemeentes maak hulle deure toe en hou op om te bestaan, bloot omdat daar nie meer belangstelling is nie. Ander moet weer met buurgemeentes saamsmelt, anders kan hulle nie die mas opkom nie. Iemand berig uit Australië dat slegs 3% van die land se inwoners nog Christene is! Blykbaar is die Suid-Afrikaners daar feitlik die enigste gelowiges wat in die land oorgebly het. Intussen doen die ontstellende berigte die rondte van teoloë wat totaal die kluts kwytraak en dinge begin verkondig wat totaal teen die grein van die Bybelwaarhede insny. Die kerk is in ‘n krisis!
In Daniël se tyd was die kerk óók in ‘n krisis - sommer ‘n baie gróót krisis! Wat doen Daniël? Hy bid! Na Daniël se uitgebreide skuldbelydenis in verse 5-14, kom die bejaarde ou profeet, en lê sy gebedsversoek voor God se voete. Dit is ‘n aangrypende gebed vir kerkherstel. Hy begin deur terug te gryp na die verlede en vir God te vertel dat hy die wonderlike dinge onthou wat God in die verlede vir Sy volk gedoen het. Hy herinner God aan die groot verlossingswerk wat Hy gedoen het - ‘n verlossingstaak wat wêreldnuus geword het, toe God hierdie weerlose volkie uit die magtige hand van die Egiptenare gered het, waar hulle slawe was in diens van die Farao.
Gedurende hierdie magtige reddingspoging, het God tyd gemaak om ‘n verbond wat Hy met Abraham gemaak het te bekragtig op die berg Sinaï. Vandag het die woord verbond nie werklik vir ons ‘n betekenis nie. In die antieke tye van 4000 jaar gelede het ‘n koning ‘n verbond gesluit met ‘n volk wat hy oorwin het. In hierdie verbond word sekere voorwaardes gestel, maar ook beloftes gemaak. Die ondergeskikte moes byvoorbeeld belasting betaal aan die koning, maar die koning sal hom dan weer beskerm teen ander vyande. As die ondergeskikte egter die verbond verbreek, is daar straf. God het hierdie idee gebruik wat al goed bekend was by die mense, en so ‘n verbond met die volk gesluit. Hy belowe om vir hulle ‘n God te wees, maar die voorwaarde is dat hulle Sy volk sal wees, met ander woorde dat hulle Hom sal aanbid. Weier hulle om dit te doen, dan is die straf die ewige verderf. As hulle egter die verbondsvoorwaardes nakom, is daar groot seën.
Ons mag vandag ook ‘n beroep doen op God, en Hom wys op die wonderlike verlossingsdade wat Hy vir ons gedoen het. Inderdaad het die slawerny van Egipte nie vandag betrekking op ons nie, maar die slawerny van die duiwel, toe ons nog ongelowig was, is ‘n harde werklikheid. Kyk maar rondom jou, hoe die Moslems vasgevang is in ‘n slawerny-godsdiens. Nog baie erger is die Hindoes met hulle magdom van gode, waarvan die helfte bose magte is wat dreig om hulle te verswelg. Hulle leef in ‘n gedurige vrees vir demone. Dieselfde geld vir die tradisionele Afrika-godsdiens, waar bose magte en heksery hulle met kettings van vrees bind. Selfs in ons “verligte” Westerse beskawing is die ongelowige ‘n slaaf van sy sonde - dwelms, rook, drank, losbandigheid, dobbel - noem maar op. Jesus se groot versoeningsdaad het ons verlos van hierdie dinge. Die verbond vandag bepaal dat ons in Hom sal glo en Hom aanbid. In ruil daarvoor gee Hy ons die ewige lewe en saam daarmee hope ander seëninge! Verwerp ons egter Sy aanbod, is die straf die ewige verderf. Verskriklik!
Daniël se gebed is ‘n aangrypende boetedoening, waar hy bely dat God se verbondsvolk gesondig het en dat hulle nie God se genade verdien nie. Hy pleit om vergifnis.
My vraag vanoggend is, of dit nie dalk is as gevolg van ons as gelowiges se afvalligheid wat dit so sleg met ons gaan nie? Baie gelowiges het lou geword in ons ywer vir die Here. Ons het oorgenoeg tyd om sepies te kyk en sport, maar ons het nie meer tyd om ‘n erediens by te woon, te bid of die Woord van God in te drink nie. Ons kan reuse paaiemente bekostig op luukse motors en huise, maar kan nie meer bekostig om ons dankoffers vir God te gee nie. Is dit nie dalk waarom ons kerke in winkelsentrums en moskees omskep word nie? Is dit nie dalk waarom misdaad besig is om ons land te verswelg nie? Ons kinders kry nie meer ‘n Christelike opvoeding nie! Nee ek praat nie van die skole nie, maar van in die huis! Is dit nie dalk waarom ons hier in Ballito in spanning sit en wag vir die Matrieks wat ons dorp in Desember gaan binneval nie? Ja, baie van hulle kan hulle nog gedra, maar die oorgrote meerderheid van hierdie kinders gaan hulleself totaal te buite aan drank, en maak dit bitter onaangenaam vir almal om hulle.
Voordat ons na die wêreld gaan vinger wys, moet ons as gelowiges eers weer na die balk in ons eie oog kyk, want ons is besig om God se verbondsvoorwaardes so stilletjies by die deur uit te gooi.
Gebed:
Saam met Daniël bid ek vanoggend, Here: “Hoor tog, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor U volk uitgeroep!”