Hoëpriester

31 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoëpriester

Hebreërs 4:14-5:10

Gister het ons gepraat van die donker kant in my lewe, die ID, “nagvark.” Nie één van ons wil só wees nie! Ek wil bitter graag daardie donker “ek” wegwens! Maar hoe?

Ek kan die probleem op verskillende maniere hanteer. Ek kan dalk bloot ontken dat ek ‘n probleem het! As ek natuurlik erken dat ek ‘n swakheid het, is my “image” daarmee heen, dus klink ontkenning na ’n baie goeie opsie. So sal ek egter nooit geestelik kan groei nie. Maar erger nog, is die feit dat ek hierdeur nie alleen vir myself en die mense om my lieg nie, maar ook vir die Here. Ontkenning is dus gladnie ‘n opsie nie.

n Ander alternatief is dat ek myself straf op die een of ander manier. Ja, baie mense doen dit! In Suid-Amerika gaan mense so ver as om hulleself te gésel en selfs te laat kruisig. Ek kan myself eintlik baie makliker straf as dit, deur bloot met ’n skuldige gewete rond te loop! Maar al wat dit my gee is ‘n lae selfbeeld, en boonop verhoog dit my stresvlakke en my bloeddruk.

Ek kan natuurlik ook probeer om sélf te betaal vir die gevolge van my skewe duister lewe. In die ou tyd het die Hoëpriester dit namens die mense gedoen. Hy was natuurlik ook maar ’n gewone mens, en sy taak was om namens jou by God in te tree. Omdat hy self ‘n mens was met sy eie swakhede, het hy medelye gehad met die mense vir wie hy moes intree. Hy moes offers bring vir die mense se sondes, maar ook vir sy eie sondes. Hierdie stelsel het baie nadele gehad, want die menslike onvolmaaktheid het pynlik soos ‘n seer duim uitgestaan. Ja, selfs ‘n Hoëpriester het ook maar sy skadukant, daardie boesemsondes waarvan slegs hy (en God) weet. Dit het duidelik uitgekom in die verhoor van Jesus, toe die Hoëpriester en ander kerkleiers selfs vals getuienis ingebring het om Jesus te probeer skuldig vind. Van liefde was hier absoluut géén sprake nie.

Nou waar lê die antwoord dan? Is daar enige alternatief wat kan werk?

Die enigste antwoord lê by Jesus! Hy het alles volmaak kom maak. As Hoëpriester by uitstek is Hy persoonlik deur die Vader benoem. Nie een ander hoëpriester het ooit die voorreg gehad om met ’n stem uit die hemel, die stem van God georden te word nie. Dit was egter nie al nie, want anders as die aardse hoëpriesters soos Kajafas, het Hy nooit enige sonde gehad nie. Was Jesus ooit met sonde gekonfronteer? Inderdaad! Kort na Sy doop is Hy die woestyn in om voorberei te word vir Sy taak. Daar het die duiwel op allerhande maniere probeer om Hom te verlei om te sondig. Jesus het egter deur die ergste verleiding steeds staande gebly, en nooit óóit gesondig nie. Boonop kan Hy Homself volkome met ons probleme vereenselwig, want Hy was waarlik mens met al die menslike probleme, selfs versoekings. Ons sondes word vandag dus deur ‘n Sondelose Hoëpriester, die énigste sondelose hanteer, ’n Hoëpriester wat waarlik empatie het met ons gewone mense.

Die priesters van ouds moes na die Allerheiligste van die tempel gaan om in te tree vir die mense se sondes, want dit is dáár waar God was. Omdat Jesus Sélf God is, hoef Hy nie in die Allerheiligste te gaan soos ander priesters nie, Hy het immers direkte toegang tot die hemel. Om die waarheid te sê, was dit juis Jesus, die “Engel van God” wat destyds vir Moses in die tent van samekoms ontmoet het wanneer Moses vir die volk moes intree by God.

Waar die ou orde slegs die Israeliete kon betrek, het almal vandag toegang tot Hom. Jesus se Persoonlike opdrag was dat die Evangelie na al die nasies uitgedra moes word.

Jesus is ook nie aangestel uit die tydelike priesterorde van Aäron soos van ouds nie, maar die ewige priesterorde van Melgisedek (Gen. 14:18-20), ‘n tydlose Goddelike orde. Hoe tydloos dit is, gaan ons nietige menslike verstandjies totaal te bowe. Hy was alreeds daar voor die Skepping, en Hy is vir ewig, hoe lank dit ookal mag wees.

In die ou tyd het mense betaal vir hulle skuldvergifnis. Jesus het egter gekom en nou sélf die prys ten volle betaal met Sy offer op Golgota. Dit beteken dat ek en jy nou onder ‘n verpligting staan teenoor Jesus, om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Dit beteken nie dat ons nou nog steeds moet betaal nie, maar alleen dat ek my beste vir Jesus sal gee uit eie vrye wil, omdat ek daarmee dankie wil sê.

Kom ons bring vandag al ons laste en sondes na Jesus, ook daardie duistere skadusondes waarvan ons nooit vir enigiemand iets van durf sê nie. Hy sal verstaan, en Hy is bereid om dit totaal en al te vergewe en daarvan te vergeet.

Gebed:

Here, U alleen ken my hart - die duister dinge wat ek met my saamdra. Dankie dat ek dit vir U mag bring. Vergewe my asseblief, en was my skoon.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026