1 Johannes 5:1-5
Gister het ons gekyk na die vier stappe na ‘n lewe saam met Jesus. Om op te som:
Stap 1 - Bely jou sondes.
Stap 2 – Vra om vergifnis.
Stap 3 - Sê dat jy glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het.
Stap 4 - Glo dat jy nou Sy kind is.
Die Here het ons die wonderlike gawe van gebed gegee. Dit ‘n kanaal wat elke oomblik van die dag oop is om met die Here te kan praat en selfs gesels. Hierdie is ook die kanaal wat ons kan gebruik om hierdie kind-word van die Here te beseël.
Hier is ‘n gebed wat jy saam met die persoon kan bid om hierdie vier stappe hier bo uit te voer:
“O Here, as ek nou voor U stil word, dan is dit werklik met die besef en afhanklikheid dat U die Vader van liefde is en dat my hele lewe geheel en al in U hande is.
Ek wil dan ook kom bely dat my lewe tot dusver gekenmerk is deur sonde. Ek het al die verkeerde dinge gedoen, en U wet herhaaldelik verontagsaam en gebreek. En ek het versuim om die regte dinge te doen.
Daarom kom vra ek dan nou om vergifnis. Vergewe my asseblief vir al die verkeerde dinge wat ek teenoor U en teenoor my medemens gedoen het. En vergewe my vir my versuim om die regte dinge te doen.
Ek wil vir U dankie sê dat U, U Seun gegee het om aan die kruishout vir my sondes te sterf, en om sodoende volledig te betaal vir al my sondes. U het die volle prys betaal, Here, sodat ek vryspraak kan kry.
Ek wil vir U vra dat U my geheel en al sal kom reinig van enige skuld wat nog binne my is en wat ‘n skeiding maak tussen U en my. Reinig my ook van die skuld wat ek teenoor my naaste het en help vir my om hulle geheel en al vry te spreek.
Dankie dat U my lewe deur Hom geheel en al kom skoonwas het en dat ek deur Sy sterwe en opstanding kind van U kan wees.
Vader, ek wil nou kom en my hart geheel en al aan U opnuut kom oorgee. Ek wil bid dat U die totale beheer van my lewe, my emosies, my gedagtes, my gesondheid en my alles sal neem. Help vir my om werklik elke dag as kind van U te leef.
Dankie vir U genade en liefde. Dankie vir die groot genade, dat U my nou U eie kind gemaak het.
Amen.”
Wanneer jy hierdie groot stap in jou lewe geneem het, HÉT jy die ewige lewe! Skielik het jou status totaal verander, want jy het van ‘n buitestaander verander na ‘n kind van God! Nou deel jy in ál die voorregte van ‘n kind van God.
Die héél eerste voorreg is dat die Heilige Gees nou in jou lewe ingekom het om permanent in jou te woon, dag en nag. En niemand kan Hom van jou wegneem nie!
Nou is dit egter jou plig om vir die Here dankie te sê daarvoor, dat Hy jou gered het, jou Sy kind gemaak het en jou die Heilige Gees gegee het.
Hoe doen jy dit? Deur bloot net te sê: “Dankie Here”? Nee, deur dankbaar te lewe en te probeer doen wat God van jou vra, soos byvoorbeeld om nie te sondig nie.
Soos wat ons reeds baie duidelik gesien het, kan niemand die wet van God onderhou nie, en almal sondig, selfs die heel heiligste mens. God weet dit. Hy weet baie goed dat ons menslik is, en daarom vergewe Hy gedurigdeur maar weer en weer ons sondes.
Maar uit dankbaarheid dat Hy jou die ewige lewe gegee het deur die verskriklike prys wat Jesus aan die kruis daarvoor moes betaal, is dit ’n mens se plig om te probeer om beter te lewe, en minder sonde te doen. Op hierdie manier sê ek vir Hom dankie dat Hy vir my sondes betaal het.
Ek wil dit met ‘n voorbeeld verduidelik: Sê nou maar jy beland in ‘n rowwe see en jy is besig om te versuip. Iemand waag sy lewe en spring in en red jou. Natuurlik sal jy mos dankbaar wees teenoor hom. Jy sal vir hom dankie sê, en dalk nooi jy hom uit vir ‘n ete, en bederf hom, want sonder sy daad sou jy dood gewees het.
Jy doen nie hierdie dinge sodat hy jou weer kan red nie, want jy is mos nou klaar gered; jy doen dit omdat jy dankbaar is.
Net so is dit met ‘n gelowige se lewe. Lewe dankbaar teenoor God.
Hoe lyk so ‘n lewe van dankbaarheid? In die laaste deel van hierdie reeks gaan ons so ‘n klein kykie gee van hoe dit moet lyk.
Gebed:
Here, U het my uit die poel van verlorenheid gered. Dankie daarvoor, Here, wys my asseblief hoe om my dankbaarheid volkome uit te leef.