Johannes 3:16-21
Gister het ons gesien dat Jesus die enigste Weg is na saligheid en na God. Die baie belangrike vraag is nou: Hoe kom ek by Hom uit? Wat moet ek dan doen om gered te word? Hierdie is sekerlik die héél belangrikste vraag in énige mens se lewe!
Die antwoord is eintlik baie eenvoudiger as wat meeste mense dink.
In Johannes 3:16 het ons aan die begin van die gesprek gesien dat “dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
1 Johannes 5:12 stel dit ‘n bietjie anders, maar daar word die vers hier bo ook bevestig. “Wie die Seun het, het die lewe.”
In Johannes 5:24 lees ons dat - “Wie luister na wat Ek (Jesus) sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe.”
1 Johannes 5:13 plaas net die stempel op alles wat hier bo geskryf is. “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.”
Ons het dus nou drie waarhede:
1. My eie pogings kan my nie red nie.
2. Jesus is die ENIGSTE weg na saligheid
3. Slegs om in Jesus te GLO kan my red.
Maar die vraag is: wat beteken dit om te glo in Jesus?
Kom ek verduidelik. Glo jy in Koningin Elizabeth? Maar natúúrlik! Almal weet mos dat sy ‘n werklikheid is! Die vraag is egter of sy ooit iets vir jou sal doen? Beslis nie, want julle ken mekaar nie eers nie. As julle egter sou ontmoet, en daar ‘n vriendskapsverhouding tussen julle ontstaan, dan begin sake verander.
Dieselfde met geloof in Jesus. Dit is veel meer as bloot om te seker te wees dat Jesus bestaan en dat Hy God is. Die duiwel glo ook hierdie dinge, maar hy is verlore! Geloof in Jesus beteken dat jy Hom aanneem as jou persoonlike Verlosser. Dit impliseer verder dat daar dus ‘n intieme verhouding moet ontstaan tussen jou en Jesus, en dat jy jou volle vertroue op Hóm alleen plaas.
Die vraag is nou, hoe kry ek dit reg om so ‘n verhouding tot stand te bring? Wat moet ek doen om by Jesus uit te kom?
Die antwoord is weereens eintlik baie eenvoudiger as wat jy besef. Sien, Jesus het alrééds al die voorbereidings klaar getref. Hy het reeds die volle prys vir jou verlossing betaal. Verder het Hy jou alrééds die uitnodiging gestuur om in hierdie verhouding met Hom te staan. Al wat jy moet doen is om Sy uitnodiging te aanvaar. Jy doen dit in vier eenvoudige stappe.
Stap 1 - Bely jou sondes. Bid en vertel die Here dat jy besef dat jy verlore is, want jou sondes hou jou van Hom af weg.
Stap 2 - Vra Hom dan om jou sondes te vergewe. Hy is getrou en regverdig, en Hy is bereid om AL jou sondes te vergewe, maak nie saak hóé groot hulle is nie.
Jesaja 1:18 gee vir jou die versekering dat Hy jou sondes totaal vergewe: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”
Stap 3 - Sê nou vir die Here dat jy glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het, en dat Hy sodoende ál jou skuld reeds betaal het. Sê ook vir Hom dat jy Sy uitnodiging om deel te word van Sy gesin, aanvaar. Vra Hom dan om jou Sy kind te maak.
Stap 4 - Glo dan dat jy nou Sy kind is, want in Galasiërs 3:26 staan daar baie duidelik: “Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God.”
As jy hierdie eenvoudige aksie in jou lewe geneem het, kan jy maar vir die Here dankie sê dat Hy jou uit die ewige verderf gepluk het en vir jou die ewige lewe gegee het. Hy belowe dit vir jou in die baie bekende Johannes 3:16 wat ons netnou gelees het.
Wat meer is - die oomblik toe Jesus in jou lewe gekom het, het Hy ook vir jou die Heilige Gees in jou gegee. Die Heilige Gees sal jou nou krag gee en jou lei om die regte dinge te doen.
Hoe meer jy ophou om sonde te doen en nader aan God leef, hoe meer intens sal jy die werk van die Heilige Gees in jou lewe ervaar.
Maar daaroor gaan ons gesels in die laaste deel van hierdie baie belangrike dokument.
Gebed:
Here Jesus, ek is U ewig dankbaar vir wat U alles vir my gedoen het. Dat U my die ewige lewe saam met U gegee het deur die hoogste prys te betaal.