1 Korintiërs 13:1-7
Ons kom vanoggend by nog ‘n paar van die eienskappe van liefde. Eerstens sê Paulus dat daar vir afguns géén plek is in ‘n gelowige se lewe nie, en dat eie belang géén rol durf speel nie. Verwaandheid, afguns en grootpraterigheid, is almal dinge wat ver verwyder is van ware liefde.
Die woordjie “afguns” beteken dat jy jaloers is op iemand oor iets wat hy het. Jy misgun die persoon sy besitting. Hy verdien dit nie, dit moet eintlik eerder aan mý behoort! ‘n Voorbeeld sou wees as iemand anders die bevordering kry terwyl jy dink dat jý eerder die pos verdien het. Dit veroorsaak dat jy met ‘n wrok in jou hart loop teenoor daardie persoon. Jy is beslis nie meer lief vir hom nie!
Om liefdevol op te tree, sou eerder beteken dat jy iemand anders dít gun wat na sy kant toe gaan. Ek is bly dat Gert daardie bevordering gekry het, al is dit ten koste van my eie bevordering! En ek sê vir Gert hoe bly ek vir hom is, met opregtheid in my hart en op my gesig!
Nog ‘n “NEE!” wat Paulus noem is “verwaandheid.” Die woordeboek gee die sinonieme: eiewaan, selfvoldaan, hooghartig, aanstellerig, beterweterig, almal lelike woorde! Met só ‘n houding kyk ek neer op iemand want ek is mos beter as hy!
Liefde beteken dat ek eerder nederig moet wees. Ek ken hoogs-geleerde professore en mense wat tot héél bo in die lewe gevorder het, wat nederig is en in groot liefde met die eenvoudigste mens sal gesels sonder om sy geleerdheid of status te wys. Nederigheid in alle omstandighede, is wat liefde beteken.
Paulus se derde lelike woord is grootpraterigheid. Dit gaan gewoonlik hand-aan-hand met verwaandheid. “Kyk, waar ek vandaan kom is dinge darem baie beter as hierdie armsalige ou gehuggie van jou!” of “Ek het darem nou al gevórder op die geloofspad - jy moet nog vér loop om by my te kom!” Ek laat die ander persoon klein en minderwaardig voel! Om in liefde op te tree sou beteken dat ek nederig moet wees oor wat ek bereik het en eerder die ander persoon prys vir wat hy wél reeds bereik het en hom aanmoedig. Wat ek het, is in elkgeval nie deur my eie goedheid nie, maar is Godgegewe!
Die vierde is “onwelvoeglik” of “onbehoorlik” soos in die 2020 vertaling. Dit kan ook onsedelik of onbetaamlik beteken. As ek so aantrek dat ek iets onbehoorlik in iemand anders wakker maak, is dit liefdeloos. En as ek vuil grappe vertel wat mense se onbehoorlike gedagtes prikkel, is dit ook liefdeloos! Dit kan oor vuil taal, vulgêre handseine en nog baie meer gaan. Liefde beteken om ‘n skoon en rein lewe te leef wat kan dien as ‘n voorbeeld vir ander mense wat sukkel hiermee. Dit beteken dus om Jesus se liefde uit te straal en blydskap uit te leef terwyl jy probeer leef soos wat die Here dit van jou vra.
Paulus druk dit verder op ons harte dat jy nie jou eie belang najaag nie. Stel ander mense se belange altyd voor jou eie, al beteken dit ook dat jy dalk self skade ly daardeur. Sodoende leef jy liefde uit.
Verder mag ‘n gelowige nie liggeraak wees nie, dit beteken kort van draad, oor-sensitief, fyngevoelig. Met ander woorde, ek moenie op my perdjie spring as iemand net iets skeef vir my sê nie. Dis gladnie maklik, as iemand jou beledig, om steeds met liefde teen die persoon op te tree nie. Jou eerste reaksie is om terug te slaan! Jesus het gesê: “draai ook die ander wang!”
Totale vergifnis, met ander woorde, vergewe EN vergeet! is een van die groot kenmerke van liefde. Paulus stel dit so mooi, dat jy nie moet boekhou van die kwaad nie. Ons moet onthou hoe die Here se vergifnis lyk. Jesaja stel dit so, dat al was jou sonde bloedrooi of skarlaken-pers, dat Sy totale vergifnis jou soos wit wol of skitterwit sneeu maak. En Hy dink nooit weer daaraan nie, want dis klaar vergewe! Nou vra Hy my om ook so te vergewe, en nie eers weer te dink aan die onreg wat iemand my aangedoen het nie.
En as die ongeluk iemand tref wat volgens my opinie swaar gestraf moes word, dan sê ek nie “Lekker! Hy het mos daarvoor gesoek!” nie. Ek voel opreg jammer vir hom! Al is hy ook wíé! Ek verbly my eerder in die waarheid! Liefde moet dus niks met enige onreg te doen hê nie maar die waarheid nastreef.
Dan sê Paulus iets wat my al baie laat kopkrap het: “Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Beteken dit nou dat liefde totaal naïef moet wees? Maar net enigiets gelate verdra? Nee, ek dink nie dis sy bedoeling nie, maar eerder dat die eienskappe van liefde, verdraagsaamheid, geloof en hoop ewigheidswaarde het, dat dit vir altyd sal bly staan.
Elke gelowige behoort baie gereeld 1 Kor 13 te lees, en sy lewe hierin te spieël, want ons vergeet só maklik. Leef ek werklik nog liefde uit soos wat die Here dit van my verwag? Het ek werklik die allerbeste gawe wat die Here my gegee het bemeester?
More sluit ons die reeks oor liefde af met die pragtige lied wat die onverganklikheid van die liefde besing.
Gebed:
Here, ek moet vanoggend my kop in skaamte laat sak, want my lewe skiet so bitter ver tekort wat die uitleef van my liefde betref. Help my asseblief om weer waarlik lief te kan hê.