1 Timoteus 2:1-7
As Christenleier is dit dikwels nodig dat ek moet stil word en introspeksie doen, nie alleen oor my eie lewe nie, maar oor my gemeente. Ek moet gaan sit en myself die vraag afvra: “Waaroor gaan dit presies in my gemeente?” Dalk nog belangriker: “Waaroor behóórt dit in my gemeente te gaan? En bereik ons werklik ons doel?” En dan die vraag: “Wat is die doelwit wat ek as leier na moet strewe?”
As ons oor die vrae hierbo nie absolute duidelikheid het nie, kan dit tot allerhande ongewenste verskynsels lei. So sal jy byvoorbeeld kry dat sommige leiers hulle posisie misbruik om hulleself te verryk. Ander weer dink dat ‘n gemeente ‘n plek is waar mense vermaak moet word en dat die erediens slegs ‘n geestelike belewenis moet wees. Dat dit ‘n plek is waar orkeste en kore hemelse musiek verskaf vir ‘n aand van geestelike ontspanning. Dikwels gaan kerk oor die voortreflike prediker wat met mooi woorde ‘n gehoor in vervoering kan bring. Vir sommige is die gemeente ‘n knus, eksklusiewe warmbroei plek wat slegs na binne gerig is - pragtige geboue, ‘n hemelse orrel, net die beste predikers!
Dan word die buitewêreld met al sy probleme gerieflikheidshalwe gladnie raakgesien nie. Ja, inderdaad kan ‘n gemeente met sy selfgerigte bedieningsstyl totaal die aandag weg van God af lei, en sodoende die eintlike doel van die gemeente totaal mis.
In 1 Tim. 2:4 stel Paulus dit baie duidelik dat ‘n gemeente diensbaar moet wees aan God se plan om alle mense te red, nie maar net eksklusiewe gemeentelede nie!
Hoe doen jy dit? Mense moet kennis van die waarheid gegee word (v.4). Wat is die “waarheid”? Dat daar slegs een God is (v.5) en dat daar slegs een manier is om in die regte verhouding met hierdie God te staan, deur Jesus die enigste Middelaar wat Homself as Losprys vir almal gegee het (v.6).
Die vraag is: Hoe bereik jy hierdie doelwit? Die bekende spreekwoord sê: “Woorde wek maar dade trek.” Om te praat en preek help meestal absoluut niks. Deur vir die wêreld met jou eie lewe te wys hoe mense lewe wat in die regte verhouding met God staan, stel jy ‘n voorbeeld vir mense om te kan navolg. Dit kan egter slegs gebeur as jy jouself volledig aan die Here toewy en met groot respek teenoor almal optree. Nie hoogdrawend met ‘n “ek is beter as jy” houding nie, maar in nederigheid. Om daardie soort voorbeeld te stel, is dit ook nodig om “’n rustige en stil lewe te lei” (v.2). Dit beteken dat jou lewe gekenmerk word deur uiterlike kalmte, wat natuurlik wys dat jy met jou hele hart, siel en optrede aanvaar dat die Here te alle tye in beheer is. So ‘n kalmte kry jy alleen as jy ‘n innerlike stilte beleef sodat jy die Stem van die Heilige Gees kan hoor.
Wat bereik jy met so ‘n lewe? Met ‘n stil, rustige, Godgesentreerde lewe oortuig jy in die eerste plek jou medegelowiges dat hulle deur Jesus se offer vrede het met God en dat niks hulle kan skei van God se liefde nie. Hierdie wete maak weer dat ook húlle die innerlike kalmte en stilte prakties kan ervaar. Onthou: Vrede met die Here is nie maar net ‘n feit waarvan jy bewus is en van weet nie, maar jy moet tyd maak om dit prakties te kan belewe en dit toepas in jou alledaagse lewe. Daar is baie hulpmiddels om dit deel van jou lewe te maak, soos deur die Bybel te lees, bepeinsing, gebed, Christelike musiek en die rustigheid van die natuur. Hierdie dinge help jou om bewus te word van die wonderlike vrede wat die Here gee.
Die groot doel is egter dat hierdie dinge nie maar in ‘n geslote groep eksklusiewe gelowiges moet bly nie, maar dat daardie vrede na buite moet uitstraal om alle mense, veral ongelowiges te bereik, en hulle ‘n kykie te gee op die vrede wat Jesus waarlik kan bied. Dit moet hulle lus maak om ook van daardie wonderlike vrede asook die vreugde wat daarmee saamgaan te wil hê. Daarom is dit juis so belangrik dat ek en jy as gelowiges blydskap oor daardie vrede op ons gesigte sal dra. Dat ons nie as doemprofete die oordeel van God sal vertoon nie, maar eerder Sy wonderlike genade, liefde en vrede.
Een van die belangrikste punte wat Paulus noem in vers 1 is “voorbidding”. Die gesagsdraers van ons land word summier afgeskryf deur ons as gelowiges, want hulle is goddeloos. Dit is juis belangrik dat ons vir hulle sal bid, want die moontlikheid van ‘n rustige lewe hang dikwels af van die omstandighede wat hierdie einste gesagsdraers skep. Ons moet bid dat die Here deur hulle die regte omstandighede sal bewerk sodat ons die ware vrede wat Jesus gee kan uitleef. Gebed is ‘n magtige wapen, en kan wondere verrig - so het talle gelowiges al uitgevind. Vriend Julius byvoorbeeld, is so 'n charismatiese leier, maar sy talente word in haat gekanaliseer. Dink net wat hy vir die evangelie kan beteken as hy sy talente in koninkrykswerk kan uitleef! Ons kan dus bid vir 'n hartsverandering in hom. Kom ons dra vandag die regering en al die amptenare in besluitnemende posisies aan die Here op.
Gebed:
Here, ek bid vanoggend dat U ons regering wysheid sal gee om vir ons ‘n rustige land te skep sodat ons U kan dien met blydskap.