Filippense 4:8-9
Dikwels word gelowiges geteister deur negatiewe gedagtes. Ons wil so graag positief leef, die blydskap waarvan Paulus in Filippense skryf uitleef. Maar dis nie so maklik nie! Veral wanneer ons op die sosiale media en selfs die nuus gebombardeer word met hope negatiewe dinge. Hoe oorkom ek die negatiewe in my lewe?
Paulus sê in Filippense 3:7-11 dat jy bo alles veral daarop moet fokus om Jesus te ken as jou Here.
In Filippense 3:12-16 sê hy dat jy jou moet inspan om Jesus se weldade werklik jou eie te maak.
In Filippense 3:17-4:1 sê hy dat die regte rolmodelle in jou lewe baie belangrik is. Hoe lyk jóú lewe as ‘n voorbeeld vir ander?
In Filippense 4:4-7 sê hy dat ‘n borrelende blydskap ‘n integrale deel van elke gelowige se lewe moet wees.
En dan kom die belangrike in Filippense 4:8,9: Dink reg en doen reg!
Wanneer jy wors maak, gooi jy ‘n mengsel van gemaalde vleis en kruie in die worsstopper. Die smaak van die wors wat anderkant uitkom, word bepaal deur dit wat jy insit. Net so sal die dinge wat jy in jou gedagtes laat ingaan, bepaal wat aan die anderkant van hierdie “meul” gaan uitkom. Die proses word genoem: GIGU - Gemors In, Gemors Uit. In kort beteken dit dat as jy toelaat dat ‘n spul gemors in jou gedagtes ingepomp word, jy nie kan verwag dat daar enigiets anders as gemors aan die anderkant gaan uitkom nie.
In die praktyk beteken dit dat die tipe boeke en tydskrifte wat jy lees, jou ganse gedagtewêreld kan besoedel. Die talle skindertydskrifte wat probeer om net die slegte in mense raak te sien, het byvoorbeeld die afgelope paar jaar soos paddastoele opgeskiet. Ek wonder hoeveel keer daar al hofsake gemaak is teen hulle deur bekendes wat in hulle eer gekrenk is. Sommige sogenaamde “gesinstydskrifte” moet jy ook nie weggooi nie, want daar word ook maar lekker geskinder. Die probleem is dat jy gekondisioneer word wanneer jy hulle lees, en skinderstories begin vir jou deel van die alledaagse word. Voor jy jouself kan kry, is jy maar net nóg ‘n skakel in die skindernetwerk. Mense kry hierdeur seer, bitter seer. Die blote feit dat jy ‘n gelowige is en steeds deelneem aan skinderstories, maak dat ongelowiges die verkeerde beeld kry van hoe ‘n gelowige se lewe behoort te lyk. As jy deur sulke dinge iemand die rug laat draai op geloof, dan het jy geestelike moord gepleeg!
Dit is egter nie net skindertydskrifte wat jou lewe kan besoedel nie. Internetpornografie besoedel jou gedagtewêreld en lewe so erg dat dit naderhand ‘n muur begin bou tussen jou en God. Nee, dit is nie Hy wat die muur bou nie, maar jy sélf, deur die gemors wat jy in jou gedagtes inpomp.
As jy daarby voeg ‘n besoek aan ‘n kasino – noem dit maar by die naam: ‘n dobbelhuis, dan word dinge net nóg erger. Die voortdurende lawaai van dobbelmasjiene wat in jou ore dreun en die flikkerliggies wat jou uitlok om nog en nóg en nóg geld in die gulsige keelgat van die dobbelvraat te gooi, in die hoop dat die groot geluk jou sal tref en miljoene op jou skoot uitbraak. Dit maak dat jy die geluksgodin as’t ware aanbid en in die proses totaal vergeet van jou afhanklikheid van God. Weereens dryf dit ‘n wig in tussen jou en die Here.
In skrille teenstelling hiermee, moedig Paulus die leser aan om eerder op die mooi dinge in die lewe te konsentreer: “alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is” (v. 8). hierdie is die dinge wat jou gedagtes en ook jou lewe moet vul. Hoe kry jy dit reg? Deur die regte dinge te lees, en jou besig te hou met dinge wat mooi is. In plaas daarvan dat jy ‘n hygroman lees, lees eerder ‘n Christelike roman soos byvoorbeeld “Paulus, die dertiende Apostel.” Hierdie roman deur Jaco Thom (CUM Boeke) beeld die lewe van Paulus uit. Ek kon die boek net eenvoudig nie neersit nie! Dit is uiters boeiend! Lees die Bybel saam met ‘n goeie kommentaar, soos Die Bybellennium. Lees dele wat jy nie gewoonlik lees nie, soos Miga, Amos, Habakuk en Job, en kyk hoe die Woord vir jou lewend word! Word deel van Lofprysings geleenthede, en sien hoe jou geestelike lewe begin blom. Raak deel van ‘n selgroep, en jy sal agterkom dat jy geestelik groei. Doen hierdie dinge opreg, en jy kom agter dat die sonde al minder in jou lewe begin word.
Hierdie idee van Paulus het 'n naam: Die 4:8 beginsel! Lees meer hieroor by dagstukkie.co.za/aflaai/4-8-Beginsel.pdf
Gebed:
Here, gee my asseblief die krag en wil om die lelike dinge in my lewe uit te smyt. Vul my asseblief met mooi dinge.