Hoe Hanteer Ek Begeertes?

23 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hoe Hanteer Ek Begeertes?

Efesiërs 4:17-24

Kyk die Video

Paulus pleit vanoggend by my en jou om nie langer soos heidene te leef nie. Met heidene bedoel hy ongelowiges. Die gedrag van heidene van daardie tyd, laat die hare op jou nek regop staan! Dronkpartytjies en seksorgies was ‘n alledaagse, en baie van hierdie dinge juis in die tempels van hulle afgode bedryf. Daar was dikwels selfs tempelhoere aangestel in die tempels. Daar was ‘n magdom afgode wat aanbid is. Sommige van die tempels staan vandag nog.

En dan was daar die Romeine. Hulle het die ganse wêreld oorwin deur hulle oorlogmasjien wat net eenvoudig oor alles en almal geloop het. Diegene wat nie wou saamspeel nie, is eenvoudig vernietig. Bloeddorstig was hulle, nie alleen in hulle veldslae nie, maar ook in hulle ontspanning. Dink maar aan die Kolosseum wat vandag nog in Rome pryk as monument vir die talle mense, veral Christene wat daar omgekom het. Vriende moes teen mekaar veg tot die dood toe. Christene is lewendig vir leeus gevoer of deur Gladiators vermorsel, alles net om die Romeine se bloedlus te bevredig!

En dan was daar natuurlik al die onderstrominge tussen die manne in die boonste gestoeltes. Verraad, korrupsie, moord, rugstekery (letterlik en figuurlik) was aan die orde van die dag. Selfs die keisers het dit nie ontkom nie.

Verskriklik!” sê jy? Miskien, maar is dit nie maar presies wat vandag gebeur nie, dikwels selfs nog baie erger! Dronkpartytjies is steeds aan die orde van die dag, en die skokkende is dat dit deesdae nie ‘n skande is om met ‘n babbelas by die werk op te daag nie, jy spog eerder daarmee! In die kroeg spog die manne oor hoeveel “onskuldige” meisies hulle al op hulle kerfstok het, en wanneer ‘n klomp vrouens partytjie hou hoor jy nét so hoeveel mans hulle al verlei het.

Die afgodstempels het vandag dalk ‘n bietjie verander, maar hulle is steeds daar. Die flikkerliggies van die talle dobbelhuise in ons land skyn dag en nag helder. Slaafs kom offer mense hulle geld en besittings aan die god wat meer en meer vra. Soms gee hy iets terug, om dit maar net weer later alles in te sluk. Dan is daar die talle ontkleeklubs en naas hulle die bordele. Inderdaad is hulle onwettig, maar die owerhede draai gerieflikheidshalwe maar die kop weg en maak of hulle niks sien nie.

Ook die bloeddorstige geweld van daardie tyd het ons vandag nie vrygespring nie. Moord, verkragting, roof, kapings en molestering is die norm. Korrupsie, rugstekery, bedrog en diefstal is ‘n alledaagse, tot in die heel hoogste gestoeltes in ons land.

As Paulus vra dat ons asseblief nie soos die heidene moet leef nie, is ons eerste reaksie sommer dadelik: “Maar Christene maak hulle mos nie aan sulke dinge skuldig nie!” Rêrag? ‘n Baie bekende predikant het ‘n paar jaar gelede ‘n dringende veldtog teen dobbelary geloods nadat hy sélf daarin verval het en verswelg is deur die dobbelduiwel. Slegs genade het hom uit daardie modderpoel gered. Ja, tragies is dit gewoonlik slegs die predikante wat struikel wat die nuus haal. Iemand vertel ‘n rukkie gelede van ‘n predikant wat by hom kom pleit het om hulp omdat hy vasgevang was in ‘n rottingspoel van pornografie.

Ek noem hierdie dinge slegs om te wys dat niemand onfeilbaar is nie, nie eers die dominees en pastore nie. Talle Christene is ingesuig deur die dobbelhuise. Dit begin met ‘n onskuldige aandjie van pret saam met ‘n paar vriende, en voor jy weet waar jy is, is jy vasgevang in daardie net. Dieselfde geld vir al die ander verleidelike dinge van die wêreld. Dit het alles te doen met begeertes, sondige begeertes wat jou al hoe meer verteer. ‘n “Onskuldige” flirtasie kan begeertes in jou wakker maak wat later ‘n onblusbare vuur word en in ‘n tragedie eindig.

Breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word,” pleit Paulus in vers 23. “Jou gees en gedagtes moet nuut word, en jy moet lewe as ‘n nuwe mens wat na God se beeld geskep is.

Christus het vir ons ‘n voorbeeld gestel oor hoe om te lewe. Hy het gewys dat jy voluit kan leef sonder om jou oor te gee aan losbandigheid. ‘n Gelowige se lewe hoef geensins saai en lang-gesig te wees nie, maar bly weg van die dinge wat sondige begeertes in jou kan opwek. Vul jou lewe met mooi dinge, en daar sal nie meer plek wees vir die sondige nie. As jy besig bly met opwindende aktiwiteite wat volgens God se wil is, sal daar net eenvoudig nie tyd wees om te tob oor begeertes wat jou na die verderf lei nie.

Gebed:

Rig asseblief vandag my lewe sodat ek volkome volgens U wil sal leef, en heilig sal wees soos wat U van my vra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026