Het jy My lief?

7 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Het jy My lief?

Johannes 21:15-25

VIDEO * OUDIO

Ons het gister gesels oor die groot visvangs. Ds. Gert Vorster gee my hierdie interessante inligting oor die 153 visse wat hulle uitgesleep het: Konvergensie in wiskunde is om ‘n sekere reeks getalle in volgorde bymekaar te tel. As jy 1 by 2 by 3 by 4 tot by 17 tel, kry jy 153. Wat hier gebeur, is simbolies van wat gaan plaasvind as die dissipels vissers van mense word (God vertrou om die net aan die ander kant in te gooi / te waag in die geloof). Die begin gaan klein wees, 1, dan 2, dan 3... Maar dan kry jy byna eksponensiële groei. Die proses tel momentum op en die groei word al hoe meer dramaties.

Hoekom tot by 17? Een teorie is dat 17 die somtotaal is van 7 (die verbondsgetal) en 10 (volmaakte getal). In God se bemoeienis met die wêreld, sal ALMAL gered word wat glo. Die net was “vol” en dit was “gróót” visse!

Nadat die visse uitgetrek is, sit Jesus en sy dissipels op die strand en eet ontbyt. Op die spyskaart is brood en vis. Dis ‘n rustige toneeltjie met die klein brandertjies wat saggies teen die strand aanklots. ‘n Groot rustigheid het ook toegesak op die vissermanne na hierdie groot vangs waarmee hulle moes stoei. En dan, uit die bloute vra Jesus vir Petrus hierdie indringende vraag: "..... het jy My baie lief...?”

Wat sou jou antwoord wees as Jesus jou vandag daardie vraag moes vra? Natuurlik sal jy nés Petrus antwoord: “Maar natúúrlik Here, U weet mos dat ek U liefhet!” Natúúrlik het ek en jy vir Jesus lief. Ons sê dit dikwels vir Hom wanneer ons met Hom praat. Ons sê dit selfs vir ander mense.

Wanneer Jesus ‘n tweede keer vir Petrus hierdie vraag vra, begin daar ontstellende gedagtes deur sy kop gaan: "Hoekom sou die Meester die vraag vir my tweekeer vra? Weet Hy dalk iets van my af wat ek baie goed wegsteek?” Daar sak ‘n ongemaklike stilte toe oor hierdie groepie manne. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. "Pas My skape op,” sê Jesus vir Petrus.

Dit is ‘n baie groot opdrag wat Petrus hier kry. Jesus het ‘n groot "kudde" bymekaargemaak oor die drie jaar van Sy openbare optrede, ‘n reuse skare mense wat Hom gevolg het en dag-vir-dag aan Sy lippe gehang het oor die wonderlike dinge wat Hy gesê en gedoen het. Nou is dit Petrus se plig om hierdie kudde te gaan versorg. Petrus herkou nog aan hierdie groot opdrag, dan bars die bom, want ‘n derde keer vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet.

Petrus bars in trane uit: Waarom sou die Here hom driemaal vra of hy Hom liefhet? Die Here weet alles- ÁLLES! Natúúrlik weet Hy van al sy mislukkings! Natúúrlik weet Hy van al die kere wat hy so liederlik gefaal het! Natúúrlik weet die Here van daardie verskriklike nag toe hy Hom in Sy uur van nood verloën het. Hy weet van elke dingetjie wat in Petrus se gedagtes aangaan, selfs elke ding waarvan niemand anders weet nie! Petrus is maar net ‘n sondige mens, maar ten spyte van al sy swakhede en gebreke kry hy stééds die opdrag van Jesus om Sy kudde op te pas. Hoe kán Jesus hom só vertrou ten spyte van sy liefdeloosheid en al sy ander swakhede?

Vanoggend praat Jesus net so duidelik met my en met jou, liewe Vriend, Vriendin. Hy gesels nou al geruime tyd elke dag met jou deur die oordenkinge. Enkele van die lesers ken ek persoonlik maar vir jou ken ek waarskynlik gladnie eers nie - nog nooit gesien nie! Ek wens so dat dit anders kon wees en dat ek elke leser kon ontmoet en dat ons saam oor 'n koppie koffie kon gesels oor hierdie dinge, maar dit is natuurlik totaal onmoontlik!

Maar Jesus ken my en jou deur en deur. Die Here weet alles - ÁLLES! Soos Petrus kan ons ook maar net vanoggend in trane voor Hom kom staan en ons harte uitstort, want ons liefde vir Hom skiet so verskriklik ver tekort. Dag-vir-dag bedroef ons Hom met ons liefdelose optrede en ons talle sondes. Maar ten spyte van dit alles het Hy ons steeds só onmeetlik baie lief. Hy het elke sonde van my en jou reeds vergewe en vergeet!

Sy opdrag aan ons is dan ook vanoggend om te gaan skape oppas. Hoe jy daardie opdrag gaan uitvoer is ‘n saak tussen jou en Jesus. Party van ons het baie skape gekry om na om te sien en party dalk net een skapie, maar die Here gee vir elkeen na sy eie vermoë. Hy vra net dat ons daardie skape wat Hy ons gegee het goed moet versorg, met liefde.

Johannes het sy Evangelie begin deur te sê dat God Sy wonderbare lig gestuur het na hierdie donker wêreld. Dit het Hom duur gekos, want in die proses moes sy Seun, Jesus, verneder word en met Sy lewe daarvoor betaal. Dit het bewys hoe ongelooflik groot God se liefde vir jou en my is. Ek en jy is nou die ligdraers in die wêreld sodat elkeen met wie ons in aanraking kom Jesus kan sien. Op hierdie manier pas ons Sy skape op en betoon ons ook ons dankbaarheid en sê ons dat ons ook vir Jesus lief is.

Gebed:

Here Jesus, dankie dat U my so vertrou dat U my opdrag gee om U skape te versorg. Gee my asseblief baie wysheid, geduld en liefde asook die gewilligheid om die opdrag te kan uitvoer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026