Herodus die Grote

5 December, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Herodus die Grote

Matteus 2:12-23

Toe die wyse manne die ster gevolg het, het hulle die logiese afleiding gemaak dat die Koningsbaba wat hulle soek in die paleis van Koning Herodus in Jerusalem gevind sou word. Groot was hulle teleurstelling toe Hy nie daar was nie. Maar dan vra Herodus hulle om hom tóg te laat weet wanneer hulle die Baba opspoor, sodat hy ook sy hulde kon gaan bewys.

Nadat hulle egter vir Jesus gevind het, kry hulle ‘n vreemde droom, waarin hulle gewaarsku word teen Herodus. Die gevolg was dat hulle ‘n ompad geneem het terug na hulle eie land om sodoende vir Herodus te vermy. Was dit dalk ‘n engel wat in die droom aan hulle verskyn het? Dan sou dit die vyfde keer in ‘n baie kort tyd wees wat ‘n engel die hemel verlaat om ‘n boodskap oor te dra.

Maar nóg is dit het einde niet! Kort na hulle vertrek, bevestig God die wyse manne se waarskuwing, wanneer ‘n engel ook aan Josef verskyn in ‘n droom. Dus die sesde keer in een jaar, wat ‘n engel aan mense verskyn! Hier kry Josef ‘n direkte opdrag van God deur die engel om Maria en die Baba te neem en na Egipte te vlug. Die engel deel vir Josef mee dat Herodus beplan om hulle Baba te vermoor. Haastig pak hulle op en vertrek in die middel van die nag, sodat die wrede koning nie sou agterkom dat hulle weg is, en hulle dalk sou agtervolg nie. Hulle reis in ‘n suidelike rigting na die mees onwaarskynlike plek denkbaar, Egipte! Maar waarom juis Egipte?

Egipte het ‘n baie belangrike rol gespeel in die geskiedenis van die Joodse volk. Josef was die eerste prominente Jood met Egiptiese bande. Hy het sy loopbaan daar as slaaf begin en toe in die tronk beland vir ‘n paar jaar. Daarna het hy eerste minister van Egipte geword op presies die regte tyd, sodat sy familie gered kon word uit die knellende hongersnood. Dit is dan juis in Egipte waar daardie enkele gesin só voorspoedig lewe dat hulle uiteindelik ‘n volk word om mee te reken. Egipte was dus vir die Jode ‘n plek van toevlug in nood. Die Baba, Moses word hier beskerm deur die Farao se dogter wanneer haar pa die seuntjies uitmoor. Hy kry sy opleiding in die koningshuis, waar die fondament gelê word vir sy uitsonderlike leierskap om jare later die Joodse volk na die beloofde land te lei.

Telkemale lees ons deur die verloop van die geskiedenis van persone wat na Egipte vlug wanneer die een of ander groot gevaar dreig. Abraham het dit óók gedoen toe ‘n droogte sy land teister. Dit is dus gladnie ongewoon dat Josef juis na Egipte vlug wanneer die engel hom kom waarsku nie.

Intussen sit Herodus op hete kole en wag dat die wyse manne kom terugrapporteer oor hierdie Koningsbaba. Maar dan kom berig sy amptenare: “Hulle is weg, Majesteit, spoorloos verdwyn! Ons dink hulle is terug sonder om ons te laat weet!”

Herodus is woedend! Niemand uitoorlê óóit vir Herodus die Grote nie! “Maak hulle dood!” gil hy op sy verbouereerde amptenare. “Nou onmiddellik! Kry die hele weermag bymekaar. Ek wil elke seuntjie jonger as twee jaar dood hê, elkeen in die omgewing van Betlehem. Daar mag nie ‘n enkele baba oorbly nie!”

Jeremia het dit voorspel, baie jare terug al: “'n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg.” (Jer. 31:15)

Die volk was in rou gedompel oor die walglike wreedheid van die Joodse koning, Herodus die Grote.

Herodus die Grote was in die tyd van Jesus se geboorte koning oor Israel. Hy het toe alreeds 37 jaar lank op die troon gesit. Herodus was ‘n uiters slim en geslepe heerser, berug vir sy wreedheid. Hy het selfs sy eie seun laat teregstel! Herodus was fisies ‘n baie sterk man, en hy het die Romeine baie beïndruk met sy slinkse metodes om belastings te vorder en rykdom aan Rome te besorg. Hy het selfs Dawid se graf beroof, en sodoende die Jode die harnas ingejaag. Hy het ‘n besonderse smaak gehad in argitektuur, en sy bouwerke was baie indrukwekkend. Ongelukkig het hy allerhande uitheemse goed, soos teaters en amfiteaters gebou, wat die Griekse en Romeinse filosofieë bevorder het, en terselfdertyd die ortodokse Jode hewig ontstel het.

Maar hy het ook die tempel herbou tot ‘n manjifieke stukkie argitektuur, en daarmee die Jode se vertroue herwin. Sy lewe word gekenmerk deur wreedheid, moord, jaloesie en magsug.

God het ingegryp en Josef en sy gesin betyds uit die wrede kloue van Herodus gered. Die kosbare geskenke van die wyse manne het waarskynlik vir hulle verblyf in Egipte betaal. En só begin Jesus se lewe op aarde in ‘n vreemde heidenland. In die land van die Volk van God was Hy nie welkom nie!

Gebed:

Here, dis met ‘n beklemming om die hart, dat ek die verhaal van Jesus lees. Maar ek weet dat U elke keer op presies die regte tyd ingegryp het sodat die heilsgeskiedenis die volle pad kon loop.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026