Herodus Agrippa I

13 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Herodus Agrippa I

 

Handelinge 12:1-6

VIDEO | OUDIO

Die manne in Jerusalem is ontsteld: “Het julle gehoor wat Petrus aangevang het?” 'n Berig het hulle bereik dat Petrus die onvergeeflike ding gedoen het - hy het onbesnede heidene besoek! Ja, hy het selfs saam met hulle geëet en in hulle huis oorgeslaap! Hoe kón hy?!

Wanneer Petrus dus weer met 'n jubeling in die hart en 'n huppel in sy stap in Jerusalem aankom, loop hy hom vas in 'n paar baie nors medegelowiges. “Wat nou?” wil hy weet. Dan word hy sommer dadelik ontbied om op die rooi tapyt te kom staan en mooi te verduidelik oor sy onbetaamlike gedrag want die manne wil weet!

Met 'n hart wat in sy keel klop, verduidelik Petrus van die laken en al die diere en dat God vir hom gesê het: "Petrus, slag en eet!" Hy vertel van Cornelius se geestesvervoering en hoe die heidene óók die Heilige Gees ontvang het. “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?”

Almal is tevrede met Petrus se verduideliking. En skielik besef hulle dat Jesus nie net vir die Jode gereserveer kan word nie. Hy het ook vir die heidene gekom!

In Jerusalem begin dinge egter baie moeilik raak vir die gelowiges. Herodus is soos 'n beer met 'n seer kop. Kort-kort word van die gelowiges gearresteer en in die tronk gesmyt en selfs wreed mishandel.

Herodus Agrippa I is die kleinseun van Herodus die Grote, die koning wat tydens Jesus se geboorte regeer het en al die babaseuntjies laat vermoor het. Op 26 jarige ouderdom word Agrippa aangestel as koning oor die noordoostelike deel van sy Oupa se ou ryk en in 41nC word hy ook verder aangestel deur Keiser Claudius as koning oor Judea.

Herodus probeer baie hard om in die goeie boekies van die Joodse Godsdienstige leiers te kom en daarom begin hy met hierdie wrede vervolging van Christene. Waar dit eers net die Joodse leiers was wat die gelowiges vervolg het, kom dit nou ook van Herodus se kant af.

Op 'n dag kom die skokkende nuus: Jakobus is gevang en Herodus het hom laat onthoof! Die gelowiges is totaal verslae. En so sneuwel die eerste van die apostels. Hierdie lot sou almal van hulle uiteindelik tref, buiten natuurlik Johannes. Johannes is troosteloos oor sy ouboet se wrede dood. Herodus het nou heeltemal te ver gegaan!

Herodus het gesien dat Jakobus se teregstelling baie byval gevind het by die Joodse ringkoppe, dus het hy alweer iemand in sy visier. Hierdie slag moet hy 'n baie prominente leier onder die Christene teregstel en wie sal dan nou beter wees vir sy status as die nimlike Petrus, die leier van die gelowiges? Hy laat summier vir Petrus arresteer en in die tronk stop. En dan wéét Petrus sommer dat hy dieselfde paadjie as Jakobus gaan loop. Die swaard is sy voorland!

Herodus se raadgewers waarsku hom oor Petrus se onverklaarbare vermoë om uit die tronk te ontsnap. “Nie uit my tronk uit nie, daarvoor sal ek sorg!” bulder Herodus ongedurig en dan kry die soldate baie spesifieke opdragte oor presies hóé hulle hierdie glibberige visserman moet bewaak.

Onder die strengste sekuriteit word Petrus na die kerker geneem. Hy word geboei met swaar kettings aan sy hande en voete. Vier afdelings van vier soldate elk word aangestel om hom te bewaak. Nie minder nie as sestien soldate marsjeer saam met hom tot by die maksimum sekuriteit gevangenis. 'n Swaar ysterdeur slaan agter hom toe. Ses van die soldate is saam met hom in die tronk. Twee staan wag in die gang sodat niemand daar verby kan kom nie. Twee van die soldate moet saam met Petrus in die koue, donker sel toegesluit word en daar neem hulle stelling in weerskante van hom. Die seldeur word gegrendel en nog twee soldate bewaak die deur. By die buitedeur staan 'n verdere twee wagte. Niemand kan óóit hier uit nie!

Petrus se lot was beseël deur Herodus Agrippa. Hy was baie seker van homself dat hy op hierdie manier die Christelike kerk sou uitroei met wortel en tak en sodoende die held word van die Joodse Godsdienstige leiers.

God het egter nog groot planne vir die kerk én vir Petrus gehad. Nie eers die magtige Herodus Agrippa I kon God se plan laat misluk nie!

Herodus se regering het egter nie baie lank gehou nie. 'n Skamele drie jaar nadat hy die aanstelling gekry het as koning oor Judea, sit Herodus eendag selfvoldaan homself en verlustig in die lofbetuigings oor hom. Hy hoor die mense oor hom sê: “Hy is nie 'n doodgewone mens nie, hierdie koning is 'n god!”

Herodus se hart swel van trots. “Nou het ek die hoogste sport in die lewe bereik! Ek is verhef tot 'n godheid!”

Dan kry Herodus besoek van 'n engel, nie om hom te vereer nie, maar om die dood oor hom te bring. Herodus word lewendig deur wurms verteer en hy sterf 'n gruweldood. Sy hooghartigheid het tot sy ondergang gelei. Dit is ook 'n groot gevaar vir gelowiges, dat ons onsself soms verhef bo die res. Ons is beter as die ongelowiges, want ons is mos gered! Werklik? Is ons 'n trappie hoër as die res?

En Petrus? Hy kry óók besoek van 'n engel! Maar daaroor vertel ek jou DV more!

Gebed:

Here, bewaar my asseblief van hooghartigheid. Hou my asseblief nederig in alle omstandighede!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026