Hartsgesindheid

28 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hartsgesindheid

Matteus 3:1-12

VIDEO | OUDIO

Matteus vertel nog van Jesus se geboorte, en dan spring hy skielik na Johannes die Doper, dertig jaar later, amper asof dit in dieselfde tyd gebeur. Matteus wil hiermee eintlik Johannes se optrede onlosmaaklik met dié van Jesus verbind.

Johannes die Doper was ‘n baie reguit man, en hy het gesê presies wat hy gedink het, sonder om doekies om te draai. Dit sou hom uiteindelik sy lewe kos! Hy was egter só ernstig oor sy boodskap, dat hy nie vir ‘n oomblik geskroom het om dít wat hy geglo het reg was, reguit te sê nie. Selfs die koning en die kerkleiers is nie sy tong gespaar nie! Ten spyte van sy pynlike reguit boodskap, het die Jode na hom toe gestroom, en mense het in groot getalle tot bekering gekom!

Waarom was daar so baie mense wat agter Johannes aangestroom het? Daar was sékerlik die honger na ware, onafgewaterde Godsdiens, en Johannes die Doper het vir hulle iets gebied wat die Skrifgeleerdes nie kon bied nie.

Hy het iewers in die woestyn van Judea gepreek, en sy voorkoms was rof. Sy klere was van growwe kameelhaar en daar was ‘n indrukwekkende leergordel om sy heupe. Die ergste was egter dat hy van sprinkane en veldheuning geleef het! Dit moes hulle sékerlik laat dink het aan die prentjie wat hulle in hulle gedagtes saamgedra het van Elia, ‘n profeet wat óók ‘n lang tyd in die woestyn deurgebring het. Hier was nou ‘n wáre man van God!

Johannes het die mense só aangegryp dat daar selfs van die kerkleiers, Fariseërs en Sadduseërs gekom het om te sien wat hy doen of dalk gedoop te word. Johannes het egter dwarsdeur hulle motiewe gesien, en vir hulle presies gesê wat hy van hulle gedink het: “Addergeslag!” het hy hulle uitgekryt. Hulle was eintlik maar net daar om vroom te lyk, maar was hulle ooit rêrag bereid om reg te maak wat verkeerd was in hulle lewens? Wanneer Jesus in jou lewe kom, moet jy met jou lewenswyse wys dat Hy waarlik deel van jou lewe geword het. As jou dade van liefde teenoor God en jou medemens nie sigbaar word nie, dan beteken dit dat jy nie ernstig was toe jy jou hart aan Hom gegee het nie.

Ek was eenmaal ernstig oor die vingers getik omdat ek geskryf het dat dit slegs nodig is om Jesus aan te neem om die ewige lewe te verwerf, en dat jy gladnie die wet hoef te onderhou nie. Die persoon was hoogs ontsteld, en het gevra of dit dan reg is dat ’n mens dan maar kan gaan sonde doen soos jy lus voel? Inderdaad was sy hééltemal reg! Maar laat my eers toe om my stelling te kwalifiseer: Geen wetsonderhouding sal ooit vir jou saligheid besorg nie! Alleen die kosbare bloed van Jesus, met ander woorde om in Jesus te glo, kan jou die saligheid gee. MAAR, wanneer Jesus die dag in jou lewe ingekom het, moet daar ‘n radikale hartsverandering in jou kom. Nou gaan jy ophou om sonde te doen en jou lewe gaan mooi word, nie omdat dit jou die saligheid kan verdien nie want Jesus het dit mos alreeds namens jou verdien! Jy doen dit uit dankbaarheid vir God se groot genade oor jou. Jou lewe moet wys dat jy werklik ernstig was oor jou besluit om Jesus te volg. Dit mag nie maar net ‘n besluit wees wat jy moes neem omdat mense dit van jou verwag het nie. Jakobus het dit so mooi gestel: “Wat help dit as iemand glo, maar sy dade bevestig dit nie?” Jakobus 2:14.

Dit is presies wat Johannes vir die kerkleiers gesê het: hulle was daar net vir die skyn, en hulle lewens het gladnie gewys dat hulle ernstig was nie. Inderdaad is die wet nie belangrik vir jou saligheid nie, maar die wet is uiters belangrik in die oë van God, en Hy wil hê dat ons die wet moet onderhou. Daar is egter ‘n reuse klemverskuiwing, want dit is nou nie meer ‘n lang lys van moets en moenies wat jy slaafs moet navolg nie, maar eerder ‘n gesindheid wat in jou hart geskryf is.

Jesus het die hele wet opgesom deur te sê dat dit gaan oor liefde, eerstens liefde vir God maar terselfdertyd ook liefde vir jou medemens. As jy werklik vir God lief is, dan sál jy mos Sy Naam eer en die afgode in jou lewe uitsmyt. Dan is dit nie meer ‘n wet nie, maar ‘n gesindheid. As jy lief is vir jou medemens, sal jy hom mos op geen manier wil seermaak nie! Of dit dan nou sy besittings betref, sy goeie naam of op wátter manier ookal. Om die waarheid te sê, as jy werklik vir jou medemens omgee, sal jy uit jou pad gaan om hom met liefde te oorlaai, met vriendelikheid, omgee, gasvryheid en nog baie meer. Dan is dit mos nie meer ‘n wet nie, maar ‘n lewenswyse!

Dit is presies wat Johannes bedoel het. Vir die kerkleiers van daardie tyd het dit net gegaan oor die onderhouding van wette ten alle koste en nie oor die regte hartsgesindheid en lewenswyse nie. Ten spyte van die feit dat hulle hulle laat doop het, was hulle later briesend kwaad vir Jesus, en het hulle Hom uiteindelik laat vermoor. Hulle het Hom onskuldig aan die kruis laat vasspyker!

Is dit liefde?

Die vraag is, hoe lyk my hartsgesindheid? Om watter rede gaan ek kerk toe en doen ek goed aan andere? Is dit om beter te lyk vir die wêreld? Of is dit waarlik ‘n lewe van dankbaarheid wat diep uit my hart uit borrel?

Gebed:

Here, kweek asseblief in my hart die regte gesindheid teenoor U en my medemens!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026