Hanna

29 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hanna

1 Samuel 1

Video

Audio

Ons volgende vrou se naam is Hanna. Sy was nie ‘n groot figuur uit die geskiedenis nie. Sy het nie enige hoë status gehad nie. Sy was, om die waarheid te sê, ‘n doodgewone vrou, en boonop het sy ‘n baie groot probleem gehad. Maar nou loop ek die verhaal vooruit. Kom ons kyk gou net eers ‘n bietjie na die agtergrond waarteen Hanna se verhaal afspeel.

Haar verhaal speel af ongeveer in die jaar 1000 vC naby die einde van die Rigtertydperk. Dit was natuurlik voordat Israel ‘n koning gehad het, en die volk het bestaan uit twaalf stamme wat los van mekaar gefunksioneer het. Die stamme was gelei deur rigters wat hulle leiding moes gee op geestelike gebied maar veral ook wanneer die ander volke hulle aangeval het.

Daar was die talle ander vyandige volke wat rondom hulle en selfs tussen hulle gewoon het, soos die Mideaniete. Aan die westekant op die kusvlakte het die Filistyne vir Israel ‘n harde tyd gegee! Aan die oostekant, oorkant die Jordaan was dit weer die Ammoniete en Moabiete wat die lewe vir hulle suur gemaak het.

Verskeie rigters het probeer om die volk op die regte spoor te bring. Party van hulle het groot welslae behaal, soos Gideon en Debora. Ander weer, soos Simson het jammerlik misluk! Simson se groot probleem met mooi meisies het uiteindelik sy ondergang beteken!

Die volk het dikwels van die Here af weggedwaal. Telkemale lees ons die refrein: “Die volk het alweer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. Die rigters het ook maar gesukkel om hulle op die regte pad te hou. Hierdie weerbarstige volk was desperaat vir ‘n sterk geestelike rigter om hulle op die pad van God te lei.

En toe gebeur Samuel!

Samuel se pa, Elkana het ‘n groot probleem gehad. Hy het twee vrouens gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar die arme Hanna was, tot haar groot skande kinderloos. En Peninna het met haar die spot gedryf daaroor en haar verneder. Eintlik is dit baie ironies, want Hanna se naam beteken “Genade” maar dit wil lyk asof sy absoluut géén genade van God ontvang het nie.

Dit was Elkana se gewoonte om elke jaar sy gesin te neem na Silo, waar hulle die Here aanbid het en offers aan Hom gebring het. Hierdie was ‘n vreugdevolle feesgeleentheid. Maar vir Hanna was dit ‘n hartseer tyd, want daar het sy haar kinderloosheid baie intens ervaar. Elke jaar het dit geëindig in ‘n tranedal waar Hanna bitterlik gehuil het in plaas daarvan om vrolik te wees soos al die ander.

By een so ‘n geleentheid het dinge vir Hanna nét een te veel geword. Daar by die gebou waar die Verbondsark en die Tent van Aanbidding gehuisves word, ervaar sy God se teenwoordigheid baie intens. Terwyl trane oor haar wange stroom, stort sy haar hart uit voor die Here. Sy kan nie langer so bly voortleef sonder kinders nie, en sy smeek die Here om asseblief vir haar uitkoms te gee. Moontlik uit vrees dat iemand anders dalk van haar verleentheid sal hoor, bid sy nie hardop nie. Slegs haar lippe beweeg. Dan maak sy ‘n gelofte aan die Here: As Hy vir haar ‘n seun gee, sal sy hom vir die Here teruggee sodat hy die Here kan dien.

Die bejaarde ou priester Eli het daar naby gesit op sy stoel en die petalje bekyk. Natuurlik kon hy nie hoor wat sy sê nie, dus maak hy die verkeerde afleiding: “Nee wat, so kan dit nie aangaan nie! Jy is mos dronk! Gaan huistoe en word eers nugter voor jy kom aanbid!”

Dan vertel Hanna hom van haar verskriklike dilemma, en hoe sy die Here gesmeek het vir ‘n kind. “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het,” stel hy haar gerus.

Dan gebeur die groot wonderwerk in Hanna se lewe. Nie lank na hierdie drama in die Verbondstent nie raak Hanna swanger. Borrelend van vreugde weet sy dat sy in haar buik die kleine Samuel dra.

Dikwels bid ons baie ernstig vir iets in ons lewe, maar dit lyk asof die Here nie op ons smeking ag slaan nie. Dit voel asof ek teen die plafon vasbid! God is egter almagtig en Hy hoor elke gebed. Ons moet egter onthou dat Hy baie beter weet as ek. Hy weet dalk dat die tyd nog nie ryp is nie. Of dalk beplan Hy iets baie groter vir my as waarvoor ek vra. Hy het ‘n doel met elke ding wat in jou lewe gebeur, en Sy tydsberekening is perfek.

Hanna het in haar wildste drome nie gedink dat hierdie seuntjie in haar so ‘n magtige invloed op die geskiedenis van die volk Israel sou hê nie. Van kleins af sou klein Sameul reeds dinge verander!

Gebed:

Dankie Here, vir iemand soos Hanna wat vir my die voorbeeld gestel het dat ek moet aanhou bid, en dat ek op U moet vertrou. Dankie dat U ook na my gebed luister.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026