Hanna se Seuntjie

30 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hanna se Seuntjie

1 Samuel 1:19-28

Video

Audio

Nege lang, maar opgewonde maande het verbygegaan nadat Hanna agtergekom het dat sy swanger was. Almal in Rama het geweet dat die onmoontlike besig was om met haar te gebeur, en natuurlik het Hanna gestraal!

Toe die groot dag uiteindelik aanbreek, was al wat ‘n vrou is in die dorp om Hanna se huis saamgekoek. En toe die eerste skree van die baba uit die kamer weerklink, hoor almal saam daarmee Hanna se stem: “Sy naam is Samuel!” Van die oomblik toe sy swanger geword het, het sy gewéét dat dit ‘n seuntjie sou wees. Die Here het dit mos vir haar belowe!

Dit was weer tyd vir die jaarlikse feesgeleentheid in Silo en Elkana het gereedgemaak om, soos sy gewoonte was, sy gesin daarheen te neem om te gaan aanbid. Maar vir die eerste keer in baie jare, besluit Hanna dat sy nie dié slag sou saamgaan nie en ook nie die volgende twee jaar nie. “Klein Samuel moet eers gespeen word,” verduidelik sy.

Nou begin ons al wonder of sy ooit haar gelofte aan die Here sou nakom? Is sy nie dalk besig om haar hier uit te wurm nie? Die spanning in die verhaal loop hoog!

Dit was daardie jare gewoonte dat ‘n vrou haar kind geborsvoed het totdat hy drie of selfs vier jaar oud was. Ek dink Hanna het dit dalk so lank moontlik probeer uitrek, want sy het geweet wat op haar wag. Aan die een kant was sy opgewonde, want sy kon haar gelofte aan God gestand doen. Maar aan die ander kant het dit ‘n groot, ongemaklike knop op haar maag gesit, want dit sou beteken dat sy van haar enigste geliefde seuntjie sou moes afstand doen!

Uiteindelik was Samueltjie gespeen. En toe begin Hanna planne beraam. En die arme Elkana moet net gedweë spring!

“Ek het ‘n bul nodig, Elkana!”

“Waarvoor nogal?”

“’n Offer vir die Here natuurlik!” Elkana durf nie stry nie, want hy sien sommer dat vroulief Hanna nie “nee” vir ‘n antwoord sal aanvaar nie!

“En ek het ‘n kruik wyn nodig en sestien kilogram meel!”

“Nou wat wil jy daarmee maak my vrou?”

“Om saam te vat Silo toe! Dis vir die Here natuurlik!”

“O…...”

Die jaarlikse uittog na Silo was op hande, en in Hanna se huis was alles in rep en roer om duisende dinge gereed te kry en die arme Elkana moet dit ontgeld. Hanna het ‘n pragtige stuk materiaal in die hande gekry en vir ure aanmekaar sit sy, besig om dit te omskep in ‘n fyn kunswerk. Uiteindelik is sy klaar.

“Elkana, wat dink jy?” Sy hou die fyn geborduurde stukkie materiaal op vir hom om te sien.

“Wat is dit?”

“Kan jy nie sien nie? Dis ‘n manteltjie vir Samueltjie!”

“O? En waarvoor nogal? ‘n Kind dra mos nie sulke grênd goeters nie? Dis net priesters wat sulke mantels dra!”

“En?” Hanna is skoon omgekrap dat Elkana nie kan insien nie. “Onthou, ek het belowe om hom vir die Here te gee, en die tyd het nou aangebreek!”

“Maar hy is dan nog skaars vier…..” wil Elkana nog protesteer, maar Hanna het klaar besluit. Sy vat die seuntjie saam na Silo, en basta met die res!

Dit was ‘n gróót en moeilike trek daardie jaar na Silo! Elkana het hom so ver moontlik uit die voete probeer hou op pad, want met Hanna kon hy nie huishou nie. Haar emosies was so deurmekaar soos ‘n trapsuutjies op ‘n Smartieboksie. Die een oomblik was sy nog in trane en die volgende het sy gehardloop en huppel van pure uitgelatenheid. Die taak wat vir haar voorgelê het was beide verskriklik swaar en hartseer. Sy sou haar enigste seuntjie daar agterlaat. Terselfdertyd was dit ook ‘n jubel-dag, want sy kon haar gelofte aan die Here gestand doen.

Die driejaar-oue bul is opgepas soos goud op pad. Hy moes nie ‘n hoef skraap teen ‘n klip nie! En toe hulle in Silo aankom, kry Elkana die taak om die dier te slag vir die offer aan God.

Vir die eerste keer sedert daardie droewige dag, sien Hanna weer die stokou, gryse Eli. Met klein Samuel aan die hand, met natuurlik sy manteltjie aan, stap sy na die ou priester.

“Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar Meneer, ék is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.”

Eli kan sy oë nie glo nie! “En dié fraai manteltjie? Foeitog, hy lyk dan nés ‘n klein priestertjie!”

“Maar meneer, dis omdat hy van nou af hier by u kom werk in diens van die Here!”

Eli skrik hom yskoud: “Nee, nee Mevrou, jy kan dit mos nie aan my doen nie!” protesteer Eli. Wat doen hy nou heeldag met ‘n vierjarige seuntjie hier in die heiligdom? Hierdie vrou is van haar trollie af!

Maar Hanna het klaar besluit, en die moedelose Eli moet dit nou maar net eenmaal aanvaar. Met ‘n vasberade vrou stry jy nie!

Hanna se offer was baie groot, maar dit was alles die moeite werd, want Samuel se impak op die geskiedenis was astronomies. Die Here vra soms van ons groot opofferings, en dan durf ons dit nie weier nie. ‘n Klein opoffering mag dalk nét ‘n reuse verskil maak!

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld van Hanna om te doen wat sy U belowe het. Gee my asseblief ook die gewilligheid om opofferings te maak en te doen wat U van my vra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026