Géén Uitkoms!

31 July, 2026

Habakuk 1:12-17

Habakuk se mond hang behóórlik oop van verbasing en verbystering as hy die Here se antwoord hoor op sy gebed. Dit kan tog nie wees nie?! Die Here gebruik dan ‘n goddelose nasie om die Volk te straf! Is die Here dan nou aan die Galdeërs se kant? Daardie roekelose, Goddelose klomp wreedaards?!

Maar dan sien ons dat Habakuk hierdie situasie op ‘n interessante manier hanteer. Dit wil dalk voorkom asof God hom totaal versaak het. Nogtans skud hy nie die stof van sy voete af en draai sy rug op God nie. Nee, hy gaan júis NA God toe en worstel met Hom oor die probleem. Hy worstel nie OOR God nie maar MET Hom. Daar is ‘n baie groot verskil!

Wat behels Habakuk se verskriklike worsteling? In vers 12 tot 14 sien ons dat Habakuk vir die Here sê dat wat Hy nou gaan doen darem nou nie regverdig is nie…... Sê ek en jy nie óók maar partykeer so nie? Nogtans bely Habakuk dat hy ten spyte daarvan stééds glo dat die Here onverganklik en ewig is: “Bestaan U dan nie van altyd af nie, Here, my God, my Heilige?” Vir Habakuk is die Here stééds sy Rots waarop hy kan vertrou, sterk en magtig. En hy besef maar ál te goed dat die reinheid en heiligheid van die Here só skitterend is, só glansend dat Hy net eenvoudig nie eers kan verdra om al die onreg in die volk te sien gebeur nie.

Dink net: hoe moet die Here vandag voel oor die gruwels wat in ons eie land aan die gang is? Hoe voel die Heilige oor die vlaag van prostitusie, pornografie, dwelms, drankmisbruik, mensehandel, dobbel en losbandigheid? Dan het ons nog nie eers geraak aan dinge soos geweld, roof, diefstal, moord, kindermishandeling en al die ander lelike dinge nie. En dan is daar al die korrupsie wat nou oopgevlek word in die polisie leierskorps en ander staatsamptenare! Hierdie goed spoel soos ‘n wal vuil, stinkende rioolwater elke dag oor jou.

Hoe verskriklik seer moet dit nie die Heilige God maak nie?! Hy wat hierdie mense Sélf geskep het! As die Here vandag die ganse aarde uit die hemelruim sou wegvee oor al die gruwels daarop - sou dit dan onregverdig wees? Ek dink jy sal met my saamstem dat dit hééltemal regverdig sou wees!

Wat Habakuk egter grief, is die manier wat die Here kies om die volk te straf vir hulle gruweldade. Waarom dan die Galdeërs gebruik om dit te doen? Waarom moet ‘n nasie wat bekend is vir sy goddeloosheid dan die vonnis voltrek? Habakuk kan nie verstaan nie! Kan die Here dan nie insien dat onskuldige mense, regverdige mense óók daaronder gaan ly nie? Daardie arme mense gaan net eenvoudig verslind word deur die Galdeërs, asof hulle maar net nietige visse is, of insekte wat vertrap word. “Waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle?” (v 13) Só snik Habakuk sy nood uit teenoor sy Rots, sy Anker van Wie hy so pas bely het.

Is dit nie ook maar hoe ek en jy soms voel nie? Só dikwels kruip die geheime vrees ook maar in ons harte in! Hoor die Here ooit nog my soebat-gebed? Is Hy nie dalk dood nie? Is Godsdiens nie dalk net oëverblindery nie? Dalk skrik jy vir hierdie vrae, maar hulle is aktuele vrae wat selfs die diepste gelowige soms teister!

Vir Habakuk voel dit nou kompleet asof God totaal afwesig is, want hierdie Galdeërs neem oor. Hulle is soos ‘n reuse vissersboot wat sy nette en gevaarlike hoeke uitgooi en vang nét wat voorkom. Niks ontsnap hulle reuse treknette nie, en daar is groot joligheid op die skip oor hulle gulde vangs. Die walglike geur van hulle offers aan hulle afgode styg in die lug op, en die walm van wierook hang swaar in die lug - wierook wat getuig van die sukses van hulle vangs. Hulle word stink-ryk uit hulle vangs, en hulle leef in die grootste weelde. Vir Habakuk voel dit asof daar géén einde is aan die marteling nie. Dit hou net aan en aan en aan. “Hoe lank nog, Here?” hoor ons hom swaar sug. Hy het breekpunt bereik. Sy lyding het ondraaglik geword.

Hoor jy dalk in Habakuk se wanhoopskreet so ‘n ietsie van die wanhoop wat jy sélf ervaar? O ja, daar is beslis gelowiges wat op hierdie oomblik so ‘n sieleworsteling beleef. Ervaar jy dalk vandag daardie verskriklike worsteling? Moenie alleen voel nie! Jy is beslis nie die enigste wat so voel nie.

Maar dan wil ek vir jou vanoggend sê dat jy nie moedeloos moet word nie. Net in die volgende hoofstuk van hierdie kosbare boek kom Habakuk en hy gee vir ons hoop. Kom luister saam met my in afwagting na hoe Habakuk op ‘n uitkyktoring gaan staan en uitkyk het. Hoe hy gesien het dat alles beslis nie maar net wanhoop is nie. Een van die baie mooi oomblikke in my lewe het ek beleef in die noorde van Zoeloeland, toe ons in Thembe Olifant Park een aand met sononder op ‘n verlate plek tot bo op ‘n watertoring geklouter het. Terwyl ek en Mosbolletjie oor die eindelose bosse tuur, het die lug verander in die mooiste kleure van geel, oranje en rooi, wat die ongerepte bos omtower het in ‘n wonderwêreld van kleur, en ons kon die asemrowende wonder van God se nabyheid indrink. In die volgende dagstukkie gaan ons DV saam met Habakuk op sy toring staan en die troosboodskap van die Here ervaar!

Gebed:

Here, dikwels lyk dit asof daar absoluut géén uitkoms is nie. Dankie dat U steeds daar is, en dat ek maar net na U kan uitreik!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026