Groot Wonders Op Pad

17 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Groot Wonders Op Pad

Eksodus 7:1-13

VIDEO | OUDIO

Moses het as jong man uit Egipte gevlug. Wanneer hy nou terugkeer om die volk uit Egipte uit te lei, is hy ‘n man wat al aanstap in die jare - ‘n man van tagtig jaar oud. Dus het die wysheid reeds diep spore op sy gesig ingeëts. Die Here gee nou vir Moses die opdrag om vir ’n tweede keer na die Farao te gaan. Dan sê die Here dat hy vir Moses gesag sal gee oor daardie magtige “godeseun”, die Farao.

God waarsku Moses egter dat daardie Farao nie sommer net gaan bes gee en die Israeliete laat gaan nie - hy gáán hardkoppig wees! Om die waarheid te sê, dit is God sélf wat hom hardkoppig gaan maak! Nou wil ons sommer dadelik dink dat dit darem nie heeltemal regverdig is van die Here nie. Maar dan sien ons dat Hy dit doen met ‘n doel: Hy wil júís hê dat die man moet vasskop sodat die Here wonderwerke in Egipte kan doen, sodat die Egiptenare sowel as die Israeliete Sy mag kan ervaar en sien Wie Hy werklik is.

Dit is interessant dat die letterlike vertaling lui dat die Here die Farao se hart sal verhard. Dikwels wil mense die Bybel té letterlik verstaan. Daar was per geleentheid ‘n ekspedisie gefinansier om te gaan soek na ‘n mummie van ’n Farao met kardiosklerose (verharding van die hart). Net soos ons vandag dikwels van beeldspraak gebruik maak, was daar dikwels ook in die Bybel gebruik gemaak van beeldspraak.

Maar terug by Egipte: Wanneer God hier aankondig dat Hy Egipte gaan tref met plae, of dalk eerder wondertekens, dan is daar ‘n groot doel daaragter. Dit is nie soseer om die Egiptenare te straf nie, maar om Sy almag te vertoon!

Vandag word ons dikwels ook “getref deur plae”. Ons word “gestraf deur God” omdat ons nie Sy wil doen nie. God word as liefdeloos beskou omdat Hy die dinge met ons laat gebeur. Maar is dit werklik wat gebeur? Wanneer God jou “straf” is dit nie noodwendig ‘n plaag wat jou tref nie, maar baie eerder ‘n teken van God se almag en ‘n poging van Hom om jou tot besinning te ruk sodat jy aan Hom gehoorsaam sal wees. Dit is God se genadige betrokkenheid in jou lewe wat jy aansien vir ‘n “plaag”.

En so, in opdrag van God, is Moses en sy broer, Aäron weer terug na die Farao. Die arme Koning het sékerlik swaar gesug toe hy die twee ou manne voor hom sien. Het hulle dan nog nie geleer nie? Maar hy sal hulle toets om te sien of daar darem iets in hulle steek. As hulle dan waarlik gestuurdes is van hulle God, dan moet hulle mos kan optree soos ware priesters en dan moet hulle mos wondertekens kan doen? Maar soos hy hierdie twee aankyk, kan hy beslis nie sien dat hulle tot sulke dinge instaat kan wees nie!

Doen ‘n bietjie vir my ‘n wonderteken,” beveel hy hulle half spottend. En dit is net waarvoor Moses gewag het! Die Here het hom mos al daar in die woestyn gewys van die slang en die kierie. Moses beduie vir Aäron om sy kierie op die grond neer te gooi. Oombliklik verander dit in ‘n groot slang, reg voor die oë van die verbaasde Farao.

Dis maar net ‘n goëltoertjie!” besluit die koning, en hy laat roep sy towenaars en goëlaars bymekaar. “Kan julle hierdie toertjie doen?” wil hy van hulle weet.

Natuurlik ken hulle ook die toorkunsie. Hulle gooi hulle kieries neer, en dit verander in slange. “Niks nuut nie!” wil die Farao nog sê, maar dan kom Aäron se slang en hy sluk al die ander in - ‘n vertoning van mag oor die Egiptiese towenaars. Die Farao moes hier al besef het dat hy op dun ys loop, maar hy bly onversetlik: “Nee! Jou mense sit nie hulle voete uit Egipte nie!”

Nou is die verhoog opgestel vir God sodat Hy kan wys dat Hy nie maar een van die Egiptiese dooie gode is nie, maar die Lewende, Almagtige God wat hemel en aarde geskep het en steeds volle mag het oor die ganse skepping. Hy sal ook aan hulle toon dat hulle gode nietig is en dat Hy volle mag het oor hulle gode. Hy sal slaan waar dit vir hulle die seerste maak, juis in hulle vals godsdiens! Hy sal hulle sogenaamde gode tref sodat hulle kan sien dat hierdie gode niks werd is nie!

Ons sal sien dat daar ‘n besliste patroon is in die formulering van die tien plae. Daar is drie groepe van drie plae elk, en uiteindelik loop dit uit op ‘n dramatiese klimaks, waar die Farao en die ganse Egiptiese volk totaal platgeslaan is. Soos wat die plae vorder, sien ons hoedat die Farao se hart algaande vermurwe, totdat hy uiteindelik totaal ingee en die Israeliete smeek om asseblieftog die land te verlaat. Ons sien ook dat die Farao se towenaars probeer om die “toorkuns” in die plae na te maak, om te wys dat dit niks met ‘n Goddelike handeling te doene het nie, maar hulle kan dit nie regkry nie.

Die Farao en sy Egiptiese volk het nie vir God ernstig opgeneem nie en hulle moes die gevolge dra. Vandag sien ons dikwels presies dieselfde tendens. Mense neem nie vir God ernstig op nie en uiteindelik sal die gevolge afgryslik wees. Ek het al koue rillings gekry as ek hoor dat iemand so half spottend sê dat hy seker maar hel toe sal gaan - so asof dit ‘n kindertuin is. Sulke mense besef nie dat hulle met vuur speel nie. God se genade is oneindig groot, maar die straf van die ewige vuur is eweneens ‘n werklikheid vir diegene wat God se aanbod van die ewige lewe van die hand wys!

Gebed:

Here, ek staan dikwels in verwondering oor die groot tekens wat U doen - aardbewings, tsoenami’s en vuurspuwende berge, maar ook die reënboog en die delikate klein blommetjie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026