Goud

11 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goud

1 Petrus 1:3-9

VIDEO * OUDIO

Goud is ‘n wonderlike ding! Ek was maar ‘n jong seun toe ek in groot verwondering by die Randse Paasskou onder in ‘n “myn” sit en kyk het hoe hulle goud bewerk. Eers word dit gesmelt in ’n vuuroond, wat so warm is dat jy nie daarin durf kyk nie, waarna dit in die vorms gegiet word. Dan word die rooiwarm geel stawe weer in ’n bad met suur gedompel. ‘n Asemrowende gesig vir enige seun!

Goud het ‘n groot rol gespeel in my kinderjare, alhoewel ons nooit sulke rykdom besit het nie. Ek het grootgeword in die fokuspunt van die fabelagtige Krugermiljoene. Die laaste hoofsetel van ou President Paul Kruger was skaars ‘n paar kilometer van ons plaas, en oral rondom ons, in al die koppies en klowe, was daar tekens waar mense gesoek het vir plekke waar Oom Paul sy miljoene kon versteek het. Stories van mense wat in ‘n droom gesien het waar die skatte begrawe is, was volop. ‘n Ou oom het eendag op ons plaas aangekom en vertel dat hy ‘n spook raakgeloop het wat hom haarfyn verduidelik het presies waar daardie goud versteek was, nogal op óns plaas! Ongelukkig het dit toe geblyk dat sy “spook” se GPS ‘n bietjie deurmekaar geraak het!

Oupa het sélf ook gegrawe vir goud. Nee, dit was darem nou nie Oom Paul se goud nie, maar hy het goud probeer myn. Die myntjie het egter te min opgelewer om dit winsgewend te maak. Nie só ver van ons af nie was daar natuurlik destyds ryk goudneerslae ontdek by Pelgrimsrus en Barberton, gevolglik het duisende fortuinsoekers daarheen gestroom in ‘n reuse goudstormloop. Hulle was bereid om alles op te offer, selfs hulle lewens om van daardie geel metaal in die hande te kry!

Wat maak goud dan so gesog? Ja, dit is baie skaars en moeilik om te delf. Maar die eintlike waarde lê in die onverganklikheid daarvan. Yster roes en selfs die mees gesogte houtsoorte vrot of word deur rysmiere opgevreet. Selfs koper verloor baie gou sy glans en word groen. Maar goud? Dit is nie verniet die edelmetaal by uitstek nie. En nou kom sê Petrus dat ons geloof baie kosbaarder is as daardie gesogte geel skittermetaal. Wat ‘n wonderlike vergelyking!

Net soos goud, is ons geloof nie goedkoop nie. Jesus het baie duur daarvoor betaal! Hy het met Sy lewe daarvoor geboet en ‘n afgryslike dood gesterf aan die kruis.

Ook vir jou en my is dit nie goedkoop nie. Ja, natuurlik kry ons dit gratis, vry en verniet van God. Dit is ’n geskenk van God se groot genade. Dit vra egter van ons dankbaarheid, want vir so ’n kosbare geskenk móét ons net eenvoudig dankbaarheid voluit uitleef. As ons dus eenmaal daardie kosbare geskenk van God gekry het, kan ons nie maar net gaan terugsit en dit bewonder nie. Dit vra van ons harde werk om daardie geloof te vertroetel, op te pas, te koester en veral om dit met ander te deel. ‘n Meisie met ‘n splinternuwe verloofring trek mos nie handskoene aan sodat niemand daardie ring kan sien nie? Nee, sy loop met haar hand só in die lug dat almal dit moet raaksien. Sy adverteer as’t ware die liefde wat haar bruidegom vir haar het aan die wêreld. Net so is dit met die goud van ons geloof: jy steek dit nie weg nie, jy adverteer dit aan elkeen wat jy teëkom!

Daardie meisie met die skitterende ring loop baie beslis ook nie met ‘n lang, droewige gesig rond nie! Sy straal van opgewondenheid, en jy kan die liefde en blydskap op haar gesig lees. Net so moet die skittergoud van ons verlossing ons ook opgewonde maak, só opgewonde dat jou gesig straal en elkeen wat met jou te doene kry die stralende liefde en blydskap in jou oë kan lees.

Om skitterende goud te verkry, word die gouderts gebreek, gemaal en met vuur, bytende suur en selfs dodelike gif soos sianied gesuiwer. Net so is geloof wat in sy erts-vorm is, waardeloos. Dit moet met harde werk gevorm en gesuiwer word. Dit is ‘n harde pad wat deursettingsvermoë, teleurstellings en bloedsweet vra. Ons het gister gepraat van diskriminasie en vervolging wat dikwels op ons geloofspad kom. Moenie moedeloos raak wanneer dit met jou gebeur nie, want dit is alles deel van die louteringsproses om jou geloof sterk te maak en dit te suiwer. Daar is nie so ’n ding soos ’n “kitsgeloof”, waar alles net in plek val en jy eensklaps ’n skitterende Christen is nie. In ’n goudmyn kry jy dikwels klatergoud, wat pragtig geel en blink is en nes die ware Jakob lyk. Die Engelse naam, Fool’s Gold is só beskrywend! Dis waardeloos! Dit verg harde werk om jou geloof te bou, maar die eindproduk is skitterend, ewig en onverganklik.

Daar is egter een ding wat ons nooit mag vergeet nie, en dit is dat ons in hierdie geloof nooit vir onsself die eer mag toeëien nie, want alles, alles is genade. Petrus het hierdie gedeelte so treffend begin met die woorde: “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons 'n lewende hoop mag hê op 'n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word.” (1 Pet. 1:3,4)

Gebed:

Dankie Here, dankie vir my geloof. Gee my asseblief die krag en ywer om dit volmaak en aanneemlik vir U te maak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026