Goliat die Verskriklike

3 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goliat die Verskriklike

1 Samuel 17:1-19

VIDEO | OUDIO

Dwarsdeur Israel het dit weergalm: “Oorlog! Oorlog!” Dit was die Filistyne wat alweer moeilikheid gemaak het.

Die sogenaamde “Seemense” het ‘n langdurige oorlog teen Egipte gevoer in ongeveer 1175vC. Hierdie oorlogsugtige mense was hoofsaaklik afkomstig van die eiland Kaftor oftewel die moderne Kreta. Oor die volgende klompie jare het hierdie mense die kusgebied van die suidelike deel van Kanaän begin beset, totdat hulle uiteindelik vyf stadstate, Gasa, Askelon, Asdod, Ekron en Gad regeer het. Vir Israel was hulle ‘n groot pyn, want hulle het gedurig probeer om hulle grondgebied ooswaarts uit te brei, en dit was natuurlik in Juda se gebied in. 150 Jaar nadat hulle vir die eerste keer voet aan wal gesit het in Kanaän, is hulle ‘n gedugte vyand wat seker al 30’000 man sterk is. Ten spyte hiervan was die Israeliete baie afhanklik van die Filistyne, want hulle was meesters met ysterwerk, en die Israeliete moes hulle gereedskap na die Filistyne neem om geslyp te word.

Oorlog het natuurlik altyd ‘n baie duur prys om te betaal in lewensverlies, en albei kante sal van nature probeer om verliese so ver as moontlik te beperk. Dit was dus een opsie om ‘n geveg te beslis deur twee vegters uit te sonder wat dan die geveg namens die hele weermag gaan veg. En dit is presies wat die Filistyne met hierdie veldslag probeer het. Hulle het egter ‘n troefkaart gehad - ‘n vegter wat soos ‘n paal bo water uittroon bo al die ander soldate: Goliat (die Verskriklike, kon ons dalk byvoeg?)

En so ontvou sekerlik die bekendste van ál die Bybelverhale. Dit gryp jou aan die hart dat ‘n onervare jong man sonder enige oorlogswapens te staan kom teen die gebreide reus wat gepantser is soos ‘n tenk en met ‘n arsenaal wapens wat enige mens sal laat bibber van angs. Maar nou loop ek die storie vooruit!

Soos ons weet, het Dawid vir koning Saul gewerk - hy moes vir hom musiek maak wanneer hy sleg voel, en boonop het hy ook die aanstelling gekry as die koning se persoonlike wapendraer. Maar ‘n man moet darem ook verlof kry, en so is Dawid vir ‘n tyd lank huistoe waar hy moes gaan skape oppas vir sy pa. By die huis was Dawid maar steeds “kleinboet” en hy het stééds nie juis veel aansien gehad by sy broers nie. Dit laat ‘n mens herinner aan Josef van ouds, wat dieselfde probleem met sy broers gehad het.

Dit was juis in hierdie “verloftyd” wat die Filistyne besluit het om hulle grondgebied ‘n bietjie uit te brei ten koste van Israel. Saul roep sy weermag op en ‘n ent suidwes van Betlehem, by die Laagte van die Groot Boom slaan hulle kamp op. Hulle was gereed om die Filistyne vir die sóveelste keer terug te jaag oor die grens. Maar toe speel die Filistyne hulle troefkaart. Terwyl die twee magte besig was om weerskante van ‘n smal vallei op die rante teen mekaar stelling in te neem, tree daar ‘n man na vore. In vulgêre taal het hy Saul se magte uitgedaag om iemand te stuur om teen hom te kom veg namens Israel. Die Israeliete se oë het gerek, want hierdie man was reusagtig groot - ‘n volle drie meter het hy in sy leersandale gestaan. Hy was beslaan met pantser dat géén wapen naby sy massiewe lyf kon kom nie. Om hom van ‘n afstand af met ‘n pyl en boog te benader, sou nutteloos wees, want om sy lyf was daar ‘n bronsharnas met skubbe wat 57 kilogram geweeg het. Dit was afgerond met ‘n bronshelm asook bronsskerms om sy bene. Om nie eers te praat van sy asemrowende wapens nie - ‘n spies met ‘n steel so dik soos ‘n wewersbalk met ‘n 7 kilogram lem. En natuurlik ‘n swaard om jou te laat ril!

Vir veertig dae lank het die twee linies teen mekaar gestaan, en dag-vir-dag was Goliat (die verskriklike) daar met sy verkleinerende haatspraak teen Israel. Niemand het die moed gehad om teen hom te gaan veg nie - dit sou selfmoord beteken! Die enigste Israeliet wat naastenby Goliat se lengte gehad het, was koning Saul. Maar selfs hý was bang vir die reus!

Saul sowel as die Israeliete se grootste probleem was dat hulle in hulle eie krag wou gaan veg, sonder om kennis te neem daarvan dat God ook betrokke was by hulle. Dit was so byna-byna ‘n fatale fout!

Intussen was alles baie rustig op die rantjies van Betlehem waar Dawid besig was om skaap op te pas. Maar Pa Isai was bekommerd oor sy seuns - die drie oudstes was oorlog toe om saam met Saul te gaan veg. Hy het gewonder hoe dit met hulle gaan? Hulle kos moes seker al op wees. Hy het die gerugte gehoor dat die manne nog steeds net vir mekaar staan en knor het, en van die verskriklike Filistyn. Dit het vir hom altevol baie na ‘n tipiese visvangstorie geklink!

Toe Dawid weer die aand by die huis kom met die trop skape, kry hy ‘n opdrag van Pa Isai: “Jou broers is al dood van die honger daar op die slagveld. Môre vroeg moet jy asseblief in die pad val en vir hulle kos wegbring. En vind sommer vir my uit hoe dit met hulle gaan.” Dawid was dadelik opgewonde - nou kon hy ook deel hê aan die oorlog. Wie weet, dalk sou sy broers hom ‘n kans gee om ‘n bietjie swaard te swaai..…!

Gebed:

Here, dikwels is daar ook ‘n “Goliat” in my lewe, waar die situasie vir my te groot lyk om te hanteer. Leer my om verby die reus te kyk en U daaragter raak te sien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026