Goeie Leierskap

24 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Goeie Leierskap

Titus 1:5-9

Leierskap het die afgelope tyd weer die nuus oorheers. Onlangs 'n nuwe president vir Suid-Afrika, nuwe besems in die parlement ens. Die probleem is egter dat die swaard van korrupsie en allerhande ander soorte misdaad stééds oor die koppe van sommige van die prominente leiers hang. Kort-kort is die een of ander leier in die nuus oor bedrog of wan-administrasie of iets dergeliks. En dan vra ons: “Maar hoe kan dit!? Waar het dit verkeerd geloop?”

Die feit is dat hierdie leiers almal demokraties verkies is deur ons samelewing, en daarom weerspieël hulle in werklikheid die standpunt en optrede van die gemeenskap wat hulle verkies het. Wanneer ‘n samelewing siek is, en hom in ‘n spiraal van geweld, misdaad en korrupsie bevind, dan is die kanse dat die leiers van daardie samelewing aan presies dieselfde soort siekte ly, en dat hulle eerder die sosiale agteruitgang sal aanhelp as om dit te stuit. Is dit nie presies wat op die oomblik besig is om te gebeur in ons land nie?

Nou klink ek darem verskriklik negatief vanoggend! Maar ek wil baie vinnig bysê dat dit geensins die geval is nie, en dat ek Suid-Afrika vir geen ander land sal verruil nie! Ek is inderdaad baie positief oor ons land, ten spyte van die probleme. Kom ek verduidelik:

Ons het reeds gesien dat Kreta met dieselfde soort probleme gesit het. Paulus het maar ál te goed besef dat in ‘n siek samelewing, daar baie spesiale maatreëls moet geld om leiers daar te stel met onberispelike waardes. Titus kry dus die opdrag dat hy, as deel van die geestelike heropbouprogram, ouderlinge in elke dorp moet aanstel. Hierdie mense moet aan streng Bybelse voorskrifte voldoen om die boodskap van die betroubare God geloofwaardig te kan verkondig.

Ek het al dikwels beleef dat ‘n gemeenteleier ander kerke of gemeentes beswadder en kwaadpraat van hulle. Met sulke gedrag gooi jy die Bybelse voorskrif van liefde totaal oorboord. Sulke dinge help die gelowiges in sy gemeente van die wal af in die sloot! Dit is presies wat Paulus wil probeer keer! Die leiers moet die voorbeeld stel vir die ander gelowiges om na te volg.

Wanneer Paulus hier praat van ouderlinge, dan is daar drie aspekte wat ons in gedagte moet hou: die eerste is dat daar na ouderdom verwys word. Dit beteken nie noodwendig dat so ‘n persoon fisies oud moet wees nie, maar dat hy (of sy) ervaring en bekwaamheid moet hê. ‘n Persoon wat maar ‘n dag lank gelowig is, sal mos nie as ouderling kan dien nie, want hy het geen geestelike ervaring nie! Die tweede aspek wat na vore kom is dat so ‘n persoon ‘n opsiener sal wees, met ander woorde iemand met ‘n toesighoudende taak. Die derde aspek is dat hy ‘n bestuurder of ekonoom moet wees in die huishouding van God.

Paulus het maar ál te deeglik besef dat Kreta leiers nodig gehad het om rigting te gee aan die samelewing, leiers wat hulle verantwoordelikheid teenoor God besef het. Hulle moes leiers wees wat nie maar net van die kantlyn af kommentaar lewer soos wat ons doen wanneer ons ‘n rugbywedstryd dophou nie, maar wat as bestuurders ‘n aktiewe, skouer-aan-die-wiel bestuurstyl volg. Sulke leiers moet heeldag sigbaar en aktief met mense te doen hê, en hulle eie geloofwaardigheid moet hulle boodskap ondersteun. Daarom stel Paulus baie streng vereistes wat betrekking het op hulle gesinslewe, hulle openbare gedrag en hulle toerusting.

Die gesin is die boustene van ‘n samelewing, en dit is tragies dat die samelewing in Suid Afrika agteruitgaan juis omdat daar ‘n algemene verbrokkeling is in gesinne. Om ‘n goeie leier te wees, moet jy ook vir die samelewing wys hoe ‘n gesin behoort te funksioneer deur self die voorbeeld te stel. Jy moet in die eerste plek ‘n rolmodel wees vir jou kinders, en hierdeur is jy outomaties ‘n rolmodel vir ander gelowiges.

Verder praat Paulus van ‘n leier, oftewel ouderling se openbare gedrag, wat onberispelik moet wees. Hy noem vyf voorbeelde van dinge wat belangrik is wat ‘n ouderling NIE moet wees nie en ses wat hy MOET wees. Al hierdie dinge is daarop gemik dat hy nie sy eie belange op die hart dra nie, maar sy medemens eerste sal stel. Afrika is besaai met selfsugtige, verwoestende leiers. ‘n Ware leier is onselfsugtig en offervaardig.

Laastens is daar die leier se toerusting: dit is nie op eie krag wat ‘n ware leier staatmaak nie, maar hy hou vas aan die betroubare Woord van God. Dit beteken dat die ouderling die Bybel moet bestudeer en ken en dit toepas in sy alledaagse lewe. Lééf die Woord uit!

Die vraag is of ek en jy bereid is om leierskap te aanvaar? En indien ons reeds daar is, watter soort leier is ons? Watter soort voorbeeld stel ons? Ek en jy kan ‘n baie groot verskil maak! Kom ons doen dit!

Gebed:

Here, help my asseblief om ‘n leier te wees volgens Paulus se voorskrifte.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026