God se Troonkamer

27 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Troonkamer

Openbaring 4

Watter jong seun soek dan nou nie avontuur nie? In 1960 vertel iemand ons van ‘n grot iewers in die Laeveld, en ons gesin besluit om te gaan kyk. En so lei hierdie gids, ‘n klein Swazi seuntjie, ons daardie oggend na die gat bo in die berg. Wat ek daar in die ingewande van die aarde gesien het in die flou lig van ons flitse, het my laat snak na my asem. Skielik was ons in ‘n reuse saal wat gestrek het tot in die oneindigheid, gevul met talle asemrowende kalksteenformasies. Later is die grot ontwikkel as ‘n toeriste aantreklikheid, die Sudwala grotte.

God gee ons in Openbaring 4 die onbeskryflike voorreg om so ‘n klein kykie te kry in die asemrowende Hemelhof. Vir Johannes was dit ‘n reuse probleem om die dinge wat hy gesien het in mensetaal te probeer oordra, want hoe beskryf jy iets wat niemand nog ooit gesien het nie? Hoofstukke 4 en 5 is die aanloop tot die eindgebeure. Sy beskrywing loop oor van beeldspraak, en jy moet dus baie fyn luister wanneer jy hierdie gedeelte lees.

Mense het geglo dat daar ‘n hek is na die hemel. Vandag word daar steeds grappenderwys gepraat van die hemelpoorte waar Petrus as hekwag sit. Johannes sien die deur na die hemel egter bloot in die sin dat God die hemel oopgemaak het vir ‘n wyle sodat ons ‘n ietsie daarvan kan sien.

In ‘n Geesvervoering word Johannes die wonder van die troonkamer van God gewys. Hy probeer dit dan beskryf deur van bekende dinge gebruik te maak, want alles is so wonderlik en oorweldigend en anders. Hy sien daar vir God op die troon sit, vanwaar Hy regeer en regspraak lewer. Hy beskryf God nie direk nie, maar sê dat Sy voorkoms soos opaal en karneool was. Opaal is ‘n deursigtige edelsteen wat suiwerheid simboliseer. Karneool het ‘n rooi glans en simboliseer oordeel. Die reënboog met die glans van smarag rondom die troon is simbool van God se genade en goedheid.

In Esegiël 1:4-28 word ‘n soortgelyke visioen beskryf. Dis ‘n aangrypende gesig, en Johannes vind dit baie moeilik om te beskryf. Baie opvallend, is die sirkels. Vier lewende wesens wat die troon omsirkel, die reënboog wat God omsirkel, die 24 ouderlinge wat in ‘n sirkel op trone sit, die engele wat die troon omsirkel. Simbolies kan ons dit beskryf, dat God die middelpunt en sentrum van alles en almal is.

Die ouderlinge stel die kerk, die gelowiges voor. Hulle het wit klere aan, wat sê dat hulle regverdig verklaar is om voor God te verskyn. Hulle het goue krone op, wat wys dat hulle regeer. Die getal 24 simboliseer die twaalf stamme van Israel en die twaalf apostels, wat beteken dat dit die somtotaal van al die gelowiges is.

Dit wat Johannes ervaar gaan gepaard met oorweldigende natuurverskynsels soos weerlig, dreunings en donderslae. Sulke dramatiese natuurgebeure maak dat jy in aanbidding voor die grootheid en heerlikheid van God neerval.

Die sewe Geeste van God is simbool van God se alomteenwoordigheid deur Sy Heilige Gees. Die see voor die troon beskryf die onuitspreeklike heerlikheid van God.

Die vier lewende wesens is simbole van God se skepping. Hulle het oë voor en agter, wat sê dat niks hulle wakker aandag ontglip nie. Eerstens die leeu, volgens Joodse tradisie die sterkste van die wilde diere. Dan ‘n bul, sterkste van die mak diere, ‘n arend, sterkste van die voëls, en ‘n mens, magtigste van die hele skepping. Hulle verteenwoordig dus die ganse skepping. Elkeen het ses vlerke vol oë. Dit simboliseer hulle wakker bereidwilligheid om met groot spoed God se bevele uit te voer.

Die ganse skepping loof en prys God dag en nag met die woorde: “Heilig, heilig, heilig is die Here!” Natúúrlik is God heilig! Hy is so totaal anders as Sy skepping, en daar is geen grens aan Sy mag en krag nie. Hy is die Almagtige, en Hy is tydloos, van ewigheid af en tot in alle ewigheid.

Die ouderlinge kniel voor God, en sit hulle goue krone voor Hom neer wanneer hulle Sy lof besing. Hiermee sê hulle dat hulle totaal afhanklik is van God, en dat hulle heerskappy slegs geleen is. Dit behoort immers aan God! Dan dwing dit my en jou ook vanoggend om in aanbidding voor Hom neer te val en saam met die ganse skepping uit te roep: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom!

As ek so deur my kantoorvenster na buite kyk, en ek sien die wonder van God se skepping in die blommetjies, die pragtige lowergroen bome, die voëltjies wat in hulle takke baljaar, dan kan ek verstaan wat Johannes beleef het, want ons God is groot en goed en almagtig. Kom ons aanbid Hom met alles wat binne-in ons is.

Gebed:

Almagtige Vader, Skepper van die heelal, al my lof, dank en aanbidding gaan tot U alleen. Dankie dat U hierdie wonderlike visioen deur Johannes laat opteken het. Dankie dat ek kan weet dat ek ‘n Lewende, Alomteenwoordige en Almagtige God kan aanbid.   

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026