God se Opdrag

10 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie God se Opdrag

1 Timoteus 1:1,2

VIDEO * OUDIO

Om ‘n opdrag van God te kry om ‘n taak te verrig, is ‘n wonderlike voorreg. Eintlik is dit sag gestel, want dit is suiwer genade! Dat die Here mý gekies het, terwyl daar soveel ander is wat die taak waarskynlik baie beter sou kon verrig!

O ek kan getuig van hope genade wat ek al van God ontvang het, en ek het niks daarvan verdien nie! So het ek 23 jaar gelede die heerlike opdrag gekry om dagstukkies te skryf, en ek het nog nooit opgehou nie. Dit was die lekkerste opdrag óóit, en ek geniet elke oomblik daarvan! Suiwer genade!

Baie jare gelede was daar ‘n jong kêrel wat óók só God se genade beleef het en die mees aangrypende opdragte gekry het. Sy naam – Timoteus. En hier skryf Paulus aan hom persoonlik ‘n brief wat uiteindelik deur baie miljoene mense gelees sou word. Is dit nie genade nie!?

Sommer met die intrapslag lees ons al ‘n paar baie interessante dinge, en jy kry onmiddellik die gevoel van waaroor die res van die brief gaan handel. Op die oog af is dit net ‘n mooi groet, maar daar steek véél meer in as net ‘n “Goeie môre!” Ons lees daarin van gesag, liefde, roeping, genade en hoop.

Wie was hierdie jongman, Timoteus aan wie Paulus die baie besonderse brief geskryf het nou eintlik? Tydens Paulus se tweede sendingreis het hy by Listra aangedoen, en daar ontmoet hy hierdie jongman. Sy ma was ‘n Jodin wat tot bekering gekom het, en sy pa ‘n Griek. Timoteus was toe ook alreeds ‘n gelowige, en Paulus het sommer dadelik gesien dat hierdie man baie potensiaal het as ‘n evangelis. Daar was egter ‘n klein probleempie, noem dit maar ‘n struikelblok. Timoteus was beskou as ‘n Jood as gevolg van sy Joodse ma, maar met sy Griekse agtergrond is hy nooit besny nie. Hy sou dus toegang geweier word aan enige sinagoge, en Paulus het júís baie van sy sendingwerk begin in sinagoges. Timoteus moes maar oë toeknyp en die operasietjie ondergaan. Toe begin sy onderrig onder leiding van die groot meester, Paulus. Wat ‘n wonderlike voorreg! Én genade! Vir Paulus was Timoteus van onskatbare waarde op sy sendingreise, en hy selfs later opdrag gekry het om op te tree as die leraar in Efese!

Om ‘n opdrag van God te kry, behels onder meer twee baie belangrike elemente, gesag asook liefde. Ons sien dit duidelik in die aanhef van hierdie brief. Paulus skryf van die groot gesag wat God hom gegee het in Jesus Christus. In dieselfde asem praat hy van Timoteus as sy “eie kind,” en lees ons in sy woorde van ‘n intieme, sorgende en liefdevolle verhouding tussen hom en Timoteus. Hier sien ons dus ‘n gesagvolle dog liefdevolle pa-kind-verhouding. As gesag nie met liefde toegepas word nie, kan dit outokraties of bombasties wees.

Ongelukkig word gesag meestal baie anders toegepas. Gesag beteken dikwels dat die persoon wat dit het, homself selfsugtig verryk en diegene onder hom uitbuit. Uit Paulus se voorbeeld leer ons dat jy jou gesag onbaatsugtig en met groot deernis en liefde moet uitoefen, en dat jy jouself moet onderwerp aan dieselfde Bybelse voorskrifte as wat jy van diegene onder jou gesag verwag. En as jy onder iemand se gesag staan, dan moet jy altyd onthou wat Paulus aan die Romeine geskryf het: “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie.” (Rom. 13:1)

Iets wat hand-aan-hand gaan met gesag, is ‘n roeping. Leierskap is ‘n opdrag van God, so sien ons baie duidelik in vers 1. Jy moet ook goed verstaan, dat as God jou roep, durf jy dit nie weier nie. Vra maar vir Jona! Hy wou mos weier om God se opdrag uit te voer! Daar is baie verskillende maniere waarop ‘n gelowige leiding kan neem, en baie terreine in die lewe waar jy dit kan uitleef. As ouers het jy ‘n opdrag om leiding te neem oor jou kinders. In die kerk kan jy leiding neem as predikant, ouderling, selgroepleier, diensaksieleier, jeugleier - die moontlikhede is legio. Elke vorm van leierskap kom egter as ‘n opdrag van God.

Die vraag is: hoe weet ek dat dit werklik God is wat my geroep het? Sekerlik die belangrikste element is biddende selfondersoek. Die blote feit dat jy ‘n leemte raaksien, kan beteken dat dit God is wat jou ‘n saak op die hart lê. Saam daarmee gee God jou die nodige gawes en toerusting om die taak uit te voer. Mede-Christene se erkenning en bemoediging sal die sekerheid van God se roeping of opdrag versterk.

Leierskap kom egter nie uit jou eie krag nie, maar dit is suiwer genade. God het die inisiatief geneem met jou verlossing, en op dieselfde manier neem Hy die inisiatief met ‘n roeping of opdrag tot leierskap. Jy moet te alle tye besef dat jy slegs deur genade ‘n leier is, en dat dit niks met jou goeie hoedanighede, gewildheid of vaardighede te make het nie. Bid dus elke keer om God se genade wanneer jy as leier optree.

Laastens moet jou leierskap HOOP uitbeeld. In jou leierskap moet ander mense altyd vir Jesus kan sien. Jesus se leierskap moet dien as die rolmodel vir jou eie leierskap, en daarmee moet jy vir ander mense hoop gee en God se wonderlike genade uitbeeld!

Gebed:

Here Jesus, dankie vir die groot genade dat ek in U diens mag staan. Leer my asseblief om my leierskap in liefde uit te leef volgens U wil!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026