God is In Beheer

27 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie God is In Beheer

1 Samuel 25:28-43

VIDEO | OUDIO

Wanneer die beeldskone Abigajil by Dawid aankom, besef sy dat sy haar woorde baie mooi moet kies want sy sien sommer dadelik dat Dawid baie omgesukkeld is. En sy neem hom nie vir een oomblik kwalik nie want haar onbeskofte man het hierdie slag een treetjie te ver gegaan met sy beledigings. Hy het vir Dawid en sy manne so sleg gesê, dat Dawid, wat hom nie sommer laat onderkry met sulke beuselagtighede nie, woedend is en op die oorlogspad. Sy lees die moordgedagtes in Dawid se oë. “Vergewe asseblief my oortreding, Meneer,” pleit sy by hom as sy laag voor Dawid buig.

Dawid is bereid om na haar te luister, al weet hy dat sy Nabal se vrou is, dus stop hy net daar en beduie vir sy manne om eers te wag sodat hy kan hoor wat die vrou te sê het.

In ‘n lang stortvloed van woorde probeer Abigajil vir Dawid kalmeer. Sy wens hom net die beste in die lewe toe: “Aangesien die Here beslis vir my heer 'n bestendige huis sal vestig omdat my heer die oorloë van die Here voer, mag onheil nie naby u kom solank u leef nie! ” En sy wens hom toe dat die Here altyd by hom sal wees en dat hy veilig sal wees, al agtervolg iemand hom ook. En mag hy al sy vyande oorwin en mag hy koning word oor Israel. En dan pleit sy dat Dawid asseblieftog nie vir Nabal gaan doodmaak nie, want deur dit te doen neem hy die reg in eie hande en daar kan dalk onskuldige mense sterf in die proses!

Abigajil se woorde ruk vir Dawid tot besinning en skielik besef hy wat hy besig is om te doen. “Die Here, die God van Israel moet geprys word, Hy wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! Jou goeie oordeel moet geprys word, en jy moet geprys word omdat jy my vandag daarvan weerhou het om in bloedskuld betrokke te raak,” bieg Dawid. Hy vertel haar dat sy plan was om almal dood te maak.. “Gaan in vrede op na jou huis. Kyk, ek het na jou geluister en ek is jou goedgesind,” stel hy die dankbare Abigajil gerus. En daarmee draai hy en sy manskappe om, terug na hulle skuiling in die berge, tevrede en met ‘n vrag kos en lekkernye!

Hierdie verhaal het egter ‘n nadraai wat jou laat ril! Wanneer Abigajil terugkom by die huis, tref sy vir Nabal aan waar hy alreeds besig is om ‘n reuse feesmaal te geniet saam met sy werksmense, salig onbewus van al die drama. Nabal is baie vrolik en besope. Abigajil skud haar kop - in só ‘n toestand sal hy niks verstaan nie!

Vroeg die volgende oggend word Nabal wakker. Die vorige aand se partytjie lê nog vlak in sy mond maar hy is tenminste nugter genoeg om te verstaan. Sy mooi vrou, Abigajil kom sy slaapkamer binne: “Nabal, ek wil jou iets vertel.” En dan begin sy vertel van Dawid se manskappe wat by Nabal was en kom vra het om te deel in sy fees. Nabal is sommer opnuut weer kwaad vir die spul. Maar Abigajil is nie klaar nie. Nabal se oë rek groot as sy hom vertel hoe Dawid opgetrek het om hom te kom uitdelg.

“En toe? Wat het met hom gebeur?” wil hy weet.

Dan vertel Abigajil hom wat sy gedoen het - hoe sy ‘n groot klomp brode en gebraaide skape en gebraaide koring en nog baie ander geskenke geneem het om Dawid se gemoed te kalmeer. Nabal word spierwit in die gesig: “Hoe kón jy!” sis hy van woede. Maar Abigajil gaan ongestoord voort en vertel hom hoe sy voor Dawid moes kruip en pleit vir Nabal se lewe.

Skielik sien Abigajil hoe haar man se oë omdop en hoe hy stadig na een kant omval. Sy roep verskrik die slawe om te kom help, want daar is iets baie ernstig met Nabal verkeerd. Met kloppende hart sien sy hoe Nabal se gesig skeef trek. Hulle sit hom weer in die bed, en sy waak by hom. “Wat is fout?” wil sy weet, maar Nabal kan haar nie antwoord nie!

“Dis ‘n beroerte, Mevrou.....,” lig een van die slawe haar in. Tien dae lê hy so, hulpeloos en sprakeloos. En dan kry hy ‘n tweede beroerte en sterf.

Steeds is dit nie die einde van die verhaal nie. Met Dawid se huwelikslewe gaan dit onstuimig. Saul het in sy woede Dawid se mooi vrou, Mikal aan iemand anders, Palti uit Gallim gegee as vrou. Daarna het Dawid weer getrou, dié slag met Aginoam uit Jisreël. Dit was in daardie jare gebruiklik dat ‘n man meer as een vrou kan hê. Nadat Dawid dus verneem het van Nabal se dood, ontferm hy hom oor Abigajil. Hy stuur sy beste manne om vir hom die woord te gaan doen - hy wil met hierdie mooi vrou trou. Baie nederig stem sy in, en kort daarna is die tweetjies getroud!

Dawid was baie gelukkig dat daar iemand was soos Abigajil wat hom betyds tot besinning kon bring. Die boodskap is baie duidelik: moenie wraak neem as iemand jou indoen nie. Inderdaad moet jy nie eers toelaat dat enige wraak- of haatgedagtes die oorhand oor jou kry nie! Los alles in die hande van die Here. Jesus het verder gegaan om te sê dat ons ons vyande moet liefhê. In hierdie geval het die Here wél gesorg dat geregtigheid geskied en Dawid moes weereens besef dat God in beheer is. Moenie Sy werk namens Hom probeer doen nie. Selfs die mooie Mikal wat hy kwyt was, is vervang met ‘n beeldskone Abigajil.

Gebed:

Here, dankie dat ek net weereens kan besef dat U in beheer is en dat ek alles aan U moet oorlaat!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026