God Begin Héél Voor

13 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie God Begin Héél Voor

Jesaja 27

In hoofstuk 27 sien ons hoedat God héél voor begin met die herstel van Israel, nadat die oordeel oor die wêreld voltooi is.

In vers 1 sien ons hoedat God die “Leviatan” vernietig: “Daardie dag sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is.” Destyds is die Leviatan gesien as 'n mitologiese monster wat in die see bly. In hierdie sin verteenwoordig hy alles wat sleg en goddeloos is, met ander woorde God se vyande. God verslaan met Sy almag hierdie “monster,” dus al die goddelose magte.

God se volk word telkemale met 'n wingerd vergelyk. Ons sien byvoorbeeld telkens dat Jesus gelykenisse gebruik waarin 'n wingerd 'n groot rol speel. Hier gebruik Jesaja die beeld van 'n wingerd om Israel voor te stel, en God as die Boer wat vir die wingerd sorg. Hy lei dit nat en staan dag en nag wag daarby sodat niemand dit kan bykom om te beskadig nie.

In vers 4 sê Hy dat Hy nie meer kwaad is vir Sy wingerd nie. O, Israel het Hom sóveel keer diep bedroef, maar nou is dit verby, en Hy het daardie slegte verlede agtergelaat. Nou beskerm Hy Sy wingerd teen enige indringers, diegene wat “dorings en distels” daar wil plant. Hulle sal dit nie waag nie!

Maar 'n saak het natuurlik altyd twee kante. God verwag ook 'n teenprestasie van Sy volk. Daardie “wingerd” moet wéét dat die Here van hulle verwag om in die regte verhouding met Hom te leef. “Israel, moet met My kom vrede maak.” (v. 5) Hy nooi hulle uit, maar dit is húlle verantwoordelikheid om die stap te neem terug na God toe. Versuim hulle, dan sal hierdie “wingerd” totaal verbrand word.

Is hulle egter gehoorsaam, dan “sal Jakob wortel skiet, Israel sal groei en lote maak. Die aarde sal vol word van hulle vrugte.” (v. 6). 'n Gehoorsame kind van God se invloed strek baie wyer as net hier rondom homself. Hy kan die wêreld verander!

Jesaja sluit die derde groot onderafdeling (hoofstukke 24-27) af deur te sê, dat nadat die oordeel plaasgevind het, kom die herskepping. Ons sien hier die duidelike twee lyne: Aan die een kant het ons die oordeel van God wat onveranderlik vas staan. Hy straf Sy volk deur hulle weg te dryf na 'n ballingskap. “Met 'n sterk wind het Hy hulle weggewaai ooste toe.” Maar hierdie is nie 'n absolute straf nie, want dit is juis tydens hierdie ballingskap waar hulle Hom weer waarlik leer ken. Dan kom die tweede lyn na vore, wanneer ons die ander sy van God sien, Sy wonderlike genade. Wanneer die volk terugdraai na Hom, hulle afgode los, dan bewerkstellig God versoening. Dan begin Hy met die herstelproses.

Dit is egter nie iets wat eensklaps gebeur nie. Dit is 'n langsame proses, want die skade was baie groot. Hulle het baie ver afgedwaal oor 'n lang tydperk. Hulle begin van héél voor af om God te leer ken. Maar God se genade is baie groot, en soos koringare wat op die grond geval het, tel Hy hulle, die oorblyfsel een-vir-een weer op (v. 12).

Intussen lê Jerusalem verwoes en verlate, soos 'n woestyn. Maar uiteindelik sal dit ook weer herstel word, sodat hulle die Here weer sal kan aanbid op die heilige berg in Jerusalem (v. 13).

Ek dink ons kan die kerk in 'n sekere mate vandag met Israel vergelyk. As ek praat van “kerk” dan bedoel ek nie die NG Kerk of AGS of wat ookal nie, maar ek verwys na die gelowiges wat die kerk van Christus vorm. En ook nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld.

As ons kyk na die tendense feitlik oral, dan sien ons kerke wat leegloop. Gemeentes wat nie meer kan bekostig om 'n leraar te onderhou nie. En dis nie omdat mense armer geraak het nie, dis omdat die getalle al kleiner en kleiner word. Selfs die mega-gemeentes soos Moreletta Park se NG Gemeente, trek noustrop. Talle gemeentes het totaal ophou bestaan!

Waarom gebeur dit?

Daar is verskeie redes, maar seker die grootste is omdat gelowiges al hoe meer begin belangstelling verloor en geestelik minder aktief raak. Daar is al minder sending aksies wat geloods word. Min gelowiges is nog waarlik brandend vir die Evangelie. En diegene wat wél bereid is om te werk in God se wingerd, voer 'n sukkelbestaan, want daar is nie die nodige ondersteuning om hulle hande sterk te maak nie.

Die kerk wêreldwyd stuur af op dieselfde soort ramp as Israel daardie tyd, tensy gelowiges begin besef waarmee hulle besig is.

Dit is ook nie 'n massa aksie om 'n miljoen mense bymekaar te kry om saam te aanbid nie. Dit is elke gelowige wat eers by homself begin, sodat die korrels een-vir-een opgetel kan word soos met Israel destyds. Ek moet vandag by myself begin om van voor af die vlam van my geloof aan te blaas.

Gebed:

Here, ek bely dat ek ook lou geword het. Help my om weer brandend vir U te wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026