Gierigheid

31 January, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gierigheid

Lukas 12:13-34

Ek staan elke keer verstom hoe Jesus eenvoudige gebeure omgeswaai het om die mense groot lewenslesse te leer. Terwyl die skares steeds rondom Jesus saamdrom, kla iemand dat sy broer nie sy erfporsie met hom wil deel nie, en dat Jesus asseblief moet help. Jesus moet tóg vir daardie suinige broer sê dat hy moet deel! Jesus het die gesag want Hy is mos ‘n Rabbi!

Jesus het baie gou dwarsdeur hierdie man gesien: sy oënskynlik onskuldige versoek is suiwer gebaseer op gierigheid. Boonop het Jesus nie gekom om allerhande wetlike aangeleenthede op te los nie. Nogtans swaai Hy hierdie versoek meesterlik om en leer die skare oor die gevare van gierigheid. In ‘n enkele sinnetjie wys Hy die man se versoek af. “Jou lewe is nie afhanklik van die oorvloed van jou besittings nie,” sê Jesus dan vir die mense. Dan vertel Hy die storie van die ryk dwaas.

Jy kom baie gou agter dat dit in die gelykenis nie gaan oor rykdom nie, maar oor gierigheid. Let op hoe sterk die woordjie “my” uitstaan in die storie: My skure, My graan, Ek sal vir Myself sê….. Alles wat hierdie man gedoen het, was in sy eie belang. Nêrens sien ons dat hy aan enigiemand anders gedink het nie.

Die man het ‘n puik finansiële beplanning gedoen en oorgenoeg weggesit vir sy oudag (absoluut niks daarmee verkeerd nie!) Hy het selfs gesien dat sy skure te klein raak vir al sy rykdomme, en hy beplan om groter skure te bou. Tevrede met alles wat hy vir homself vermag het deur die jare, sê hy dan vir homself: “Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.” (NDV)

Ja, die man het gedink dat hy beheer het, vólle beheer oor sy eie lewe. Maar dan eis God sy lewe van hom, en hy moet uitvind dat hy absoluut géén beheer het nie. Dat ál sy aardse besittings wat hy opgegaar het vir hom totaal nutteloos is.

Hy wou sy lewe organiseer sonder God. Groot is sy ontnugtering egter as hy moet uitvind dat dit nou nie juis so werk nie! Jesus sluit die gelykenis af met die woorde: “So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaar maak en nie in God ryk is nie.

Natúúrlik moet jy goeie finansiële beplanning doen. Die groot geheim is egter dat dit nie net oor jouself moet gaan nie. Gierigheid moet géén plek hierin hê nie. Ongelukkig loop rykdom en gierigheid dikwels hand-aan-hand, en dit is dán wat daardie rykdom gevaarlik raak. Dit is baie belangriker om die ware lewe te besit as om baie besittings te hê.

Jesus verduidelik dat ‘n gelowige hom nie hoef te bekommer oor sy lewensstandaard nie. Jesus wys hulle op die voëls, hoedat God vir hulle sorg en kos gee, en hoe Hy die plante versier met asemrowende skoonheid. ‘n Mens is tog baie meer werd as voëls en plante, en daarom hoef gelowiges hulle nie te bekommer oor lewensstandaarde nie. Dit is in werklikheid ‘n kleinigheid.

Daar is egter iets baie groter as aardse gemak: die Koninkryk van God! Dit is waarvoor ‘n gelowige hom in die eerste plek moet beywer. Dit beteken dat jy jou energie sal gebruik om só te lewe dat die wêreld kan sien dat jy God as Koning erken en dien. Wanneer jy by daardie punt in jou lewe gekom het, hoef jy nie bekommerd te wees nie, want die Koning van die Koninkryk sal vir jou sorg.

God se sorg beteken natuurlik nie dat jou lewe nooit weer bedreig sal word nie. Ook nie dat jy van ‘n hoë lewensstandaard en rykdom verseker word nie. Neem maar vir Paulus as voorbeeld: Hy het ‘n briljante loopbaan as Fariseër prysgegee om ‘n volgeling van Jesus te word. Dit het beteken dat hy uitmergelende reise moes onderneem, skipbreuk moes ly, in die tronk beland, gestenig word, geminag word ensovoorts. Sy borrelende blydskap en vreugde het hierdie “klein probleempies van die lewe” egter totaal oorskadu. Waarom? Hy het die grootste skat van alle skatte, die ewige lewe gehad! Paulus het geen aardse rykdom gehad nie, nogtans was die erfporsie wat hy agtergelaat het van onskatbare waarde. Dit wat hy geskryf het, en die voorbeeld van sy lewe, het die lewe van baie miljoene mense beïnvloed en verander, en aan talle mense die ewige lewe gegee.

Ja, inderdaad het Paulus daardie beursie aangeskaf waarvan Jesus in Sy preek praat: die beursie wat nie leeg raak nie, die een met ‘n onuitputlike rykdom in die hemel. Uit hierdie einste beursie het hy net aanhou gee en gee en gee. Dit is daardie selfde beursie wat vir my en jou ook gegee is. Die probleem is dat die meeste gelowiges die beursie dig toe hou. Maak hom oop! Deel die onskatbare rykdom van God se Koninkryk met die wêreld. Terselfdertyd moet ons ook nie suinig wees om ons geldbeursie oop te maak en die wêreldse skatte wat God ons gee met ander te deel, en ook hierdie skatte te gebruik vir die uitbreiding van die Koninkryk nie.

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag my ganse lewe in U sorg kan plaas, nie alleen geestelik nie, maar ook my finansies.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026