Gierigheid

28 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gierigheid

Lukas 12:13-34

VIDEO OUDIO

Ek staan elke keer verstom hoe Jesus eenvoudige gebeure omgeswaai het om die mense groot lewenslesse te leer. Terwyl derduisende mense steeds rondom Jesus saamgedrom het, kla iemand dat sy broer nie sy erfporsie met hom wou deel nie. Jesus moes asseblief help, en vir daardie suinige broer sê dat hy moes deel! Jesus was mos ‘n Rabbi, dus het Hy die gesag gehad om die boetie tereg te wys! Jesus het baie gou dwarsdeur hierdie man gesien want sy oënskynlik onskuldige versoek was eintlik gebaseer op gierigheid. Boonop het Jesus nie gekom om allerhande huishoudelike geskille op te los nie. Hy het egter hierdie versoek Meesterlik omgeswaai en die skare iets geleer oor die gevare van gierigheid. In ‘n enkele sinnetjie het Hy die man se versoek afgewys. “’n Mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” het Jesus dan vir die mense gesê, en toe vertel Hy die storie van die ryk dwaas.

Wanneer jy die gelykenis lees, kom jy baie gou agter dat dit nie gaan oor rykdom nie, maar oor gierigheid. Let op hoe sterk die woordjie “my” uitstaan in hierdie eenvoudige storietjie: My skure, My graan, Ek sal vir Myself sê.... Alles wat hierdie man gedoen het, was in sy eie belang. Nêrens sien ons dat hy aan enigiemand anders gedink het nie.

Die man het ‘n puik finansiële beplanning gedoen en oorgenoeg weggesit vir sy oudag. Daarmee is absoluut niks verkeerd nie! Hy het selfs gesien dat sy skure te klein geraak het vir al sy rykdomme, en hy het beplan om groter skure te bou. Tevrede met alles wat hy vir homself vermag het deur die jare, het hy dan vir homself gesê: “Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op werk: eet, drink en leef lekker.”

Ja, die man het gedink dat hy in beheer was, vólle beheer oor sy eie lewe. Maar dan kom God en eis sy lewe van hom, en die man moes uitvind dat hy slegs beheer gehad het oor sy aardse besittings. In die dood was alles vir hom totaal nutteloos! Hy het slegs beheer gehad solank sy aardse lewe geduur het!

Hierdie man wou sy lewe organiseer sonder God. Groot was sy skok en ontnugtering egter toe hy moes uitvind dat dit nou nie hééltemal so werk nie! Jesus sluit die gelykenis af met die woorde: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.

Natúúrlik moet jy goeie finansiële beplanning doen. Die groot geheim is egter dat dit nie net oor jouself moet gaan nie. Gierigheid moet géén plek hierin hê nie. Ongelukkig is dit so dat rykdom en gierigheid dikwels hand-aan-hand loop, en dit is dán wat daardie rykdom gevaarlik raak. Dit is baie belangriker om die ware lewe te besit as om baie besittings te hê.

Jesus gaan voort en verduidelik aan sy dissipels dat ‘n gelowige hom nie hoef te bekommer oor sy lewe of sy lewensstandaard nie. Jesus wys hulle op die voëls, en hoedat God vir hulle sorg en kos gee, en hoe Hy die plante versier met asemrowende mooi blomme. ‘n Mens is tog baie meer werd as voëls en plante, en daarom hoef gelowiges hulle nie te bekommer oor lewensstandaarde nie, dit is in werklikheid ‘n kleinigheid. 

Daar is egter iets wat selfs baie groter is as aardse gemak: die Koninkryk van God. Dit is waarvoor ‘n gelowige hom in die eerste plek moet beywer. Dit beteken dat jy jou energie sal gebruik om só te lewe dat die wêreld kan sien dat jy God as Koning erken en dien. Wanneer jy by daardie punt in jou lewe gekom het, hoef jy nie bekommerd te wees nie, want die Koning van die Koninkryk sal vir jou sorg. God se sorg beteken natuurlik nie dat jou lewe nooit weer bedreig sal word of dat jou hoë lewensstandaard en rykdom verseker word nie. Neem maar vir Paulus as voorbeeld. Hy het ‘n briljante loopbaan as Fariseër prysgegee om ‘n volgeling van Jesus te word. Dit het beteken dat hy uitmergelende reise moes onderneem en in die proses ‘n paar keer skipbreuk moes ly. Hy het etlike kere in die tronk beland. Hy is gestenig, uitgejou, weggejaag en gegésel. Maar die borrelende blydskap en vreugde van daardie man wat die grootste skat van alle skatte gehad het, die ewige lewe, het hierdie “klein probleempies van die lewe” totaal oorskadu. Paulus het geen aardse rykdom gehad nie, nogtans het die erfporsie van onskatbare waarde wat hy agtergelaat het miljoene mense beïnvloed!

Ja, inderdaad het Paulus daardie beursie wat nie leeg raak nie, waarvan Jesus gepraat het aangeskaf, die een met ‘n onuitputlike rykdom in die hemel. En uit hierdie beursie het hy net aanhou gee en gee en gee. Dieselfde beursie is vir my en jou ook gegee! Die probleem is dat die meeste gelowiges die beursie dig toe hou. Maak hom oop! Deel die onskatbare rykdom van God se Koninkryk met die wêreld. Terselfdertyd moet ons ook nie suinig wees om ons geldbeursie oop te maak en die wêreldse skatte wat God ons gee met ander te deel en ook hierdie skatte te gebruik vir die uitbreiding van die Koninkryk nie.

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag my ganse lewe in U sorg kan plaas - nie alleen geestelik nie, maar ook my finansies.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026