Gewetenswroeging

31 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gewetenswroeging

1 Johannes 3:18-24

VIDEO | OUDIO

Die Sondagoggend breek aan met ‘n wind wat loei om die hoeke van die huis. Die vorige aand het ek maar laat in die kooi gekom en ek sukkel om wakker te kom. Dit kos slegs één kyk deur die venster om my die kombers tot teen my neus te laat optrek. Die reën kom in emmersvol af en dis bitter koud.

“Vanoggend gaan ek nie kerk toe nie,” kreun ek en draai my op my sy om verder te slaap. Maar skielik het die slaap my verlaat en ek is nugter wakker! Stadigaan begin daar ‘n knop op die krop van my maag vorm aanneem. ‘n Stemmetjie iewers agter in my kop knaag aan my: “Jy gaan braai! Die Here gaan jou straf as jy nie vanoggend jou plekkie in die kerk volsit nie!”

En so kou my gewete aan my en maak my rasend gek. Ek voel skuldig want ek het nie gedoen wat van my verwag word nie. Teen die aand is ek skoon siek en my gewete gil hard en duidelik vir my: “Ja, ek het jou mos gesê! Dit het jy nou daarvan! Jy moes geluister het!”

Vanoggend wil ek ‘n uiters kontroversiële vraag vra en ek weet al by voorbaat dat ek hiervoor gebraai gaan word! Maar dan weet ek ten minste dat ek ‘n paar ouens aan die dink gesit het. My vraag: “Is my gewete die stem van God?”

As ek Johannes se redenasie reg verstaan, dan moet ek onomwonde sê dat, anders as wat ek geleer is, dit nie noodwendig God se stem is nie. Luister mooi wat Johannes sê: “As ons gewete ons veroordeel - God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.”

Nou wat is my gewete dan as dit nie die stem van die Heilige Gees is nie? Hierdie gewete waarvan Johannes skryf is ‘n selfveroordelende skuldgevoel wanneer jy nie jou plig nakom om te doen wat God van jou vra nie. As gelowige kan ek met groot vrymoedigheid sonder so ‘n gewetenslas of skuldgevoel gaan. As kind van God kry ek sekuriteit en geloof in God en in die proses kry ek totale gemoedsrus. Paulus skryf wél in Rom 9:1 dat die Heilige Gees met my praat deur my gewete. Dus moet ek mooi luister wat God se stem is en wat nie!

Om God se gebooie te gehoorsaam is nie ‘n voorwaarde vir Sy vryspraak nie, maar ‘n vrug van die persoonlike verhouding wat ek met God het. Dit is ‘n natuurlike uitvloeisel uit daardie verhouding. Wat beteken dit om God se gebooie te gehoorsaam? Om liefde uit te leef teenoor God en my medemens.

Dis alles goed en wel om mooipraatjies te maak oor liefde en om die uitnemendheid daarvan te besing en vir mekaar te vertel hoe wonderlik die liefde is. Maar liefde is nes ‘n rowwe fô-baai-fô wat net in die stad sit en mooi lyk en nooit enige rowwe paaie aandurf nie. ‘n Veldvoertuig is gemaak om die ongetemde aan te durf en presies net só is die liefde daar om prakties tot uiting te kom in die plekke waar dit saakmaak.

Om liefde konkreet uit te leef, doen drie dinge. Eerstens vereer ons God daarmee, want dit is een manier om vir Hom dankie te sê vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Tweedens maak dit dat jy tot nut is vir jou medemens en derdens doen dit ook iets vir jou innerlike sélf. Wanneer jy in opregtheid jou liefde uitleef, versterk dit jou geloof want dan sê jou gewete vir jou dat jy waarlik aan God behoort. Dit is nie maar net ‘n teoretiese “miskien” nie.

Hoe leef ons liefde prakties uit? Mense het verskillende talente en sterkpunte. Gewoonlik is dit juis dáárdie talente wat God wil hê dat jy moet gebruik om jou liefde prakties te maak. Vir die een persoon kom dit natúúrlik om iemand te troos, moed in te praat of dalk maar net ‘n skouer te wees waarop sy kan huil of ‘n oor om te luister terwyl sy haar hart kan uitpraat. Vir iemand anders weer sal dit wees om ‘n sopkombuis te bedryf waar wêreldse nood verlig kan word. Dit is juis op hierdie plekke waar die nood op sy hoogste is, waar mense se harte uiters ontvanklik is vir die Evangelie. ‘n Ander manier om liefde prakties uit te leef, is om ‘n borrelende blydskap in jou werkplek of waar jy ookal gaan uit te straal. Nie alleen doen dit wondere aan jou eie gemoed nie maar dit is wonderlik aansteeklik. Almal rondom jou is naderhand opgeruimd en voel goed oor die lewe, al druk die laste dalk swaar. Ek pak my trollie af by die supermark en die meisie by die betaalpunt glimlag vriendelik. Toe vertel ek haar dat sy die mooiste innemende glimlag het. Onmiddellik straal haar gesig en daai glimlag trek sommer rondom! Haar vervelige dag het in 'n jubeldag verander net oor 'n eenvoudige opmerking wat ek gemaak het! Vra die Here om jou te wys hoe jy liefde kan uitleef.

Om liefde prakties uit te leef, beteken ook dat ons God se gebooie sal gehoorsaam. Dit help nie dat jy ‘n wonderlike humanis is wat jou afsloof om mense in nood te help en God word op die agtergrond geskuif nie. Onthou net dat ons nie God se gebooie nakom om vryspraak te verkry nie. Dit gebeur slegs deur Sy groot genade. Ons onderhou egter God se gebooie uit liefde teenoor Hom en uit dankbaarheid vir Sy verlossing. Deur dit te doen is daar ook ‘n bonus: dit herinner jou gedurig daaraan dat jy God se kind is. Dit maak ter selfder tyd dat alle twyfel asook daardie slegte gewete wat dreig om jou aan te kla, by die venster uitvlieg!

Gebed:

Here, wys my asseblief vandag op watter maniere ek U liefde kan uitleef, en versterk my deur U Heilige Gees om dit te kan deurvoer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026