Lukas 22:39-46
Die spannende Paasmaal is verby. Jesus en Sy elf vertrouelinge (onthou, Judas het pad gevat!) stap oudergewoonte na die Olyfberg, waar hulle die afgelope week of wat elke nag geslaap het. Maar hierdie slag was dit anders, want in plaas van om te gaan kooi maak tussen die olyfbome in die tuin van Getsemane, gee Jesus die manne opdrag om te bid. Hyself stap ‘n entjie verder aan om alleen te bid.
‘n Reuse krisis staar Jesus in die oë. As Hy maar liewer nie geweet het wat vir Hom voorlê nie, sou dit dalk baie draagliker gewees het. Maar Hy het hierdie dinge al in Sy gedagtes beleef nog voordat dit gebeur het. En Hy was bang! ‘n Doodsangs het Hom omklem. Hy het gebid en vir die Vader gevra of daar nie dalk ‘n ander weg was nie. Kon hierdie marteling wat op Hom wag nie asseblief maar opsy geskuif word nie. ‘n Koorsige sweet het Sy liggaam nat gemaak, ten spyte van die koel naglug. Sy sweet het soos bloeddruppels uit Sy voorkop gepêrel, en op die klipperige grond geplof - ‘n angssweet soos niemand dit nog ooit beleef het nie. “Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied,” plaas Hy Homself onder God se wil.
Sy vriende wat veronderstel was om Hom by te staan deur hierdie verskriklike worsteling, lê lankal vas aan die slaap onder ‘n olyfboom. Die volgende dag sou hulle selfs weghardloop, wanneer Hy totaal verlate daar aan die kruis hang. Daar sou niemand wees om Hom by te staan deur die verskriklike foltering nie.
Die donker kan skrikwekkend wees. Dalk is dit omdat die bose dikwels daarin skuil - dat hy die duisternis gebruik as dekmantel vir sy sluwe, verraderlike handelinge.
Ja, dit was juis in die pikswart duisternis van Getsemane, daar teen die hellings van die Olyfberg, waar die bose sy verraderlike daad kom pleeg het. Terwyl Jesus besig was om te worstel in gebed, het Judas na die Joodse leiers gesluip. “Dis nou veilig om Hom te vang! Ek sal julle wys waar Hy slaap.” In die pikdonker van die nag het hy hulle gelei tussen die olyfbome deur na waar hy geweet het Jesus sou wees. Hy het immers sélf baie nagte daar saam met Jesus deurgebring, aan Sy voete gesit terwyl Jesus vir hom en sy mede-dissipels geleer het van die dinge van die Koninkryk. Daardie tydjies in die tuin, sonder die alewige skares mense was kosbaar. Maar alles het versuur, en nou is daar net verraad in Judas se donker hart.
Jesus het pas klaar gebid, en Hy was nog besig om Sy dissipels te vermaan omdat hulle nie kon wakker bly nie, toe die klomp mense skielik uit die pikdonker opdoem, met niemand anders nie as Judas aan die voorpunt. Hulle is tot die tande toe gewapen met enigiets wat kon slaan of sny. Gevul met afgryse moet ons sien hoedat Judas vorentoe tree en vir Jesus soen, die soen van verraad, ‘n duiwelse soen.
Skielik kry die half-aan die slaap dissipels lewe en pluk hulle swaarde uit om vir Jesus te verdedig. Die voorbok, Petrus, begin wild rondkap met sy swaard, en ‘n arme slaaf, wat waarskynlik net daar was om ‘n lamp te dra, byt in die stof. Petrus se swaard tref hom teen die kop, en met afgryse moet die arme man sien dat sy oor morsaf is. Hy wil nog kerm, maar dan raak Jesus die slaaf se oor in deernis aan, en word hy die laaste mens wat Jesus ooit genees tydens Sy drie jaar lange bediening.
“Hou op daarmee!” bestraf Jesus Sy dissipels. Geweld is beslis nie die antwoord nie.
“Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie ‘n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”
Die duisternis waarin hierdie geestelike leiers teen Jesus opgetrek het, was simbool van die verstikkende geestelike duisternis waarin hulle verkeer het. In die daglig kon hulle Hom nie vang nie, want Jesus was altyd omring deur mense vir wie die lig opgegaan het. Hulle sou teenstand kry as hulle Jesus sou arresteer. Daarom moes hulle die donker gebruik as dekmantel sodat niemand hulle sou sien nie.
Johannes beskryf die teenstelling tussen lig en duister in Joh. 8:12 “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisernis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Hoe ironies dat Jesus, die Groot Lig, juis in die duisternis verraai en gevang is deur dienaars van die duistere magte. Manne wat voorgegee het dat hulle mense is van die lig, priesters van God – hulle harte pikswart! En Judas - hý wat ‘n leerling, ‘n vriend van Jesus was en elkeen van Jesus se duisende wonderwerke aanskou het. Wat het verkeerd geloop?
In hierdie neerdrukkende verhaal is daar ‘n baie ernstige waarskuwing aan elke gelowige: Pasop dat jy nie ook in die duister beland nie! Al die betrokkenes in die verhaal was mense wat aktief gestaan het in die Godsdiens. Judas was selfs ‘n getroue volgeling van Jesus. Deur sonde het hulle in die duister beland. Moenie dieselfde pad loop nie!
Gebed:
Here, bewaar my asseblief van die duister, dat ek nie sélf ook daarin beland nie.