Johannes 3:1-4
Ons kan Nikodemus beskryf as ‘n hoogs-geleerde leermeester, een van die mees-gerespekteerde leiers van sy tyd. Hy was Fariseër wat toegewy was aan die wet van God en dus ‘n baie belangrike man. Maar hy was ook lid van die Joodse Raad, waar hy saam met die ander leiers belangrike besluite moes neem. Johannes skryf drie keer van Nikodemus. Die eerste keer vertel hy hoedat Nikodemus in die nag na Jesus kom, sodat sy mede-raadslede hom nie dalk saam met Jesus sien nie. Ten spyte van al sy groot titels sien ons dus dat hierdie leier bang was. Later, wanneer Jesus ’n groot krisis beleef en die kerkleiers Hom wou gevange neem, was dit egter júís Nikodemus wat vir Jesus probeer opkom het. En na Jesus se kruisiging, toe al Sy dissipels verdwyn het, was dit wééreens Nikodemus, die Fariseër en Joodse Raadslid wat na vore getree het en die nodige middele voorsien het om Jesus se lyk te balsem. Ons sien dus dat nie al die kerkleiers en Fariseërs korrup was nie en dat hulp dikwels uit die mees onverwagse oord kom!
Maar wat het daardie nag gebeur?
Nikodemus het gehoor van die nuwe Rabbi wat soveel opslae gemaak het. Die wonderwerke waarvan hy gehoor het was vir hom vreemd. ’n Klein stemmetjie hier binne in hom het vir hom bly sê dat daar baie meer in hierdie Rabbi was as wat hy wou erken. Jesus was op daardie stadium egter totaal onbekend in Israel en Nikodemus móés net eenvoudig vir homself gaan uitvind wat aangaan. Dit was ‘n bietjie van ‘n verleentheid vir hom om openlik na Jesus te gaan, want hoe sou dit nou lyk as ‘n gerespekteerde leermeester wou gaan kers opsteek by ‘n Rabbi waarvan niemand nog eers gehoor het nie? En dan was daar dinge wat hy gehoor het van hierdie Man, wat nie so baie kosjer was nie. Wat sou sy Fariseër-vriende sê? Nee, hy moes liewer in die nag na Hom gaan sodat daar nie te veel vrae sou wees nie. En dan sou hy natuurlik sy woorde baie mooi moes kies om nie sy eie onsekerheid te wys nie!
Toe Nikodemus dan daardie nag vir Jesus opspoor waar Hy besig was om die dag se gebeure met Sy dissipels te bespreek, het Nikodemus uiters ongemaklik gevoel tussen al die rowwe vissermanne en doodgewone mense. Hy moes darem wys dat hy nie sommer net ‘n hierjy se ou man was nie! Baie hoogdrawend begin hy sy betoog: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie.”
Nikodemus het dalk heimlik gehoop dat Jesus hom sou antwoord en bevestig dat Hy die Messias is - die Een waarvan hy al so baie gelees het in die Skrifte, en van Wie hy sy leerlinge al so baie geleer het. ‘n Tinteling het deur Nikodemus se liggaam gegaan: sê nou net hy het rêrag die Messias ontdek!
Jesus het egter dwarsdeur Nikodemus gesien en sy héél diepste behoefte raakgesien, ‘n behoefte waarvan Nikodemus sélf nie eers geweet het nie. Sy antwoord was gladnie wat Nikodemus verwag het nie. “Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Die arme man was stomgeslaan! Watter soort van antwoord was hierdie? Dié Rabbi praat in raaisels! Jy kan tog nie weer ‘n slag gebore word nie! Wat presies het Hy daarmee bedoel?
Nikodemus was baie ernstig oor sy ontmoeting met Jesus. Hy het sy woorde baie sorgvuldig gekies en ons kan maar aanneem dat hy eerlik was oor die dinge wat hy gesê het. As dit maar net nóg ‘n oppervlakkige uitlokking was soos so dikwels van die Fariseërs gekom het, sou hy openlik in die dag na Jesus gegaan het. Nikodemus het dus gehoop om van Jesus wáárlik iets te leer. En Nikodemus was beslis nie teleurgestel nie!
Jesus se eerste antwoord het hom nou wel tussen die oë geslaan, maar Nikodemus kon sommer voel dat hier nog ‘n baie diep gesprek kon gebeur. Sommer dadelik moes hy uitvind dat Jesus nie maar net die Wonderwerker was wat water in wyn kon verander nie, maar dat daar báie meer omtrent Hom was. Nikodemus het Jesus se eerste antwoord dalk verkeerd verstaan – moontlik selfs opsetlik! Toe Jesus sê dat iemand weer ‘n slag gebore moes word, gebruik Hy ‘n dubbelsinnige woord, wat ook kan beteken “van bo gebore”, oftewel dat dit ’n geboorte van God af is.
Jesus se gesprek met Nikodemus oor die wedergeboorte, sou hierdie man se ganse lewe verander. Dit is die héél belangrikste gebeurtenis in énige mens se lewe. Nikodemus se ore was gespits! Hy wou elke woord van hierdie gesprek indrink.
Vir my en jou is hierdie gesprek ewe belangrik en ons moet dit herhaaldelik lees sodat ons herinner kan word aan daardie belangrike gebeurtenis in ons lewens - die dag toe dit gevoel het asof die son bollemakiesie slaan van blydskap. Ons kan dus ook nie anders nie as om die volgende paar dae ‘n bietjie stil te staan by hierdie gesprek.
Gebed:
Here, dankie dat ek saam met Nikodemus opgewonde kan wees oor daardie nuwe lewe wat alleen U kan gee deur die Heilige Gees.