Geslagsregister

4 December, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geslagsregister

Matteus 1:1-17

VIDEO | OUDIO

Desember het aangebreek en daarmee saam Adventstyd. “Advent” is ‘n Latynse woord wat “naderende koms” beteken en dit verwys na die koms van Jesus. Ons onderbreek Dawid se verhaal om eers na Jesus se koms oftewel Kersfees te kyk vir die volgende twee weke.

Ek wil begin met Matteus se geslagsregister. Vir enige Jood was dit baie belangrik om te weet presies waar hy vandaan kom en presies hoe sy familie inmekaar steek. Matteus se geslagsregister is egter veel meer as net ‘n ellelange lys van name. Daar verskyn ‘n paar baie interessante, selfs skokkende name in sy geslagsregister van Jesus.

Hy begin by Abraham, die vader van die gelowiges. Daar was egter ook maar ’n paar geraamtes in Abraham se kas! Soos die slag toe hy sy vrou as sy suster voorgestel het aan die farao, en so byna groot moleste veroorsaak het. God het net betyds ingegryp! Abraham het egter nie geleer nie en later herhaal hy hierdie truuk van hom by etlike geleenthede (Gen. 20:13).

Abraham was egter nie net die vader van die gelowiges nie maar ook van die ganse Arabiese wêreld. Sy eerste seun Ismael, die slavin se seun, het later teen Abraham se ander nasate oorlog gemaak. En vandag, duisende jare later gaan daardie selfde oorlog steeds voort. Hoe ironies dat sowel die Jode as die Moslems Jesus vandag as Verlosser verwerp!

Die volgende groot naam in die lys is Jakob, die Bedrieër. Selfs die heidense regter, Pontius Pilatus moes erken dat daar geen bedrog in Jesus is nie. Tóg staan die naam van die bedrieër, wat selfs sy eie broer se erfporsie gesteel het, pertinent in Sy geslagsregister. Soveel so dat die ganse Joodse volk na hom vernoem is: Israel, die nuwe naam wat God hom gegee het toe hy met God geworstel het in die Jabbok-drif.

Wanneer die Jode ‘n geslagsregister opstel, is dit slegs die mans se name wat daar verskyn. Matteus doen egter iets ongehoords, en hy sluit vier vrouename ook in. Die eerste een is die baie interessante naam van Ragab die Kanaänitiese prostituut. Dit laat jou skielik regop sit, dat ‘n heidense vrou met só ‘n beroep in Jesus se geslagslyn verskyn!

Dit raak egter nog erger, want die tweede vrouenaam is dié van die skandelike Tamar wat haar eie skoonpa verlei het en met hom geslagsgemeenskap gehad het. Die derde vrou is óók ‘n heiden, ‘n Moabiet met die naam Rut, Dawid se oumagrootjie.

Die vierde vrou, Batseba se naam word nie eers genoem nie. Sy word slegs beskryf as “die vrou van Urija” om die skande van Dawid se owerspel in te vryf. Terloops, sy was ‘n Hittiet. Wat sake nog erger maak is die feit dat daardie baie groot naam in Jesus se geslagslyn, Dawid, nie net owerspel gepleeg het nie maar boonop vir Urija koelbloedig laat vermoor het om Batseba te kon kry!

Wat lees ons in hierdie name? Jesus is onherroeplik verbind tot die doodgewone sondaar-mens! Jesus het nie na hierdie wêreld gekom slegs vir die Jode nie, want as dit die geval was, sou ons dalk vandag Sy sending as ‘n mislukking kon bestempel omdat so min Jode Hom volg. Jesus het egter vir die ganse wêreld gekom. Ons sien dit duidelik in Matteus 28, waar Jesus se opdrag is om die Evangelie aan die wye wêreld uit te dra. In die tweede plek sien ek ook dat Jesus nie net vir die “heilige” mense gekom het nie, maar vir sondaars, selfs prostitute, egbrekers, bedrieërs en moordenaars. Inderdaad sien ons Hom terwyl Hy aan die kruis hang in Sy laaste oomblikke, waar Hy ‘n veroordeelde rower vryspreek!

Wie is hierdie Jesus waarvan Matteus skryf? Waarom moet ek Sy volgeling wees? En wat verwag Hy van my as volgeling?

Ons het reeds gesien hoe menslik-gebonde Jesus is. Maar daar is ‘n ander sy van Hom wat Matteus aanraak in hierdie geslagsregister, naamlik Sy Goddelike. Die Goddelike beplanning van Jesus se geboorte word baie subtiel opgesluit in vers 16 en 17, waar Josef nie Jesus se vader genoem word nie en Maria ook nie Sy moeder nie. Josef word genoem “die man van Maria uit wie Jesus gebore is.” Hieruit sien ons dat Jesus geen aardse vader of moeder het nie, en dit impliseer Sy Goddelike karakter. Verder word die Goddelike ingryping in die planmatige ordening van die geskiedenis benadruk wanneer Matteus noem van die drie-maal-veertien geslagte van Abraham tot by Jesus se geboorte.

Wat is daar vir my persoonlik opgesluit in hierdie gedeelte? Natuurlik weet ek dat Jesus God is. Ek het dit immers my hele lewe lank geleer en as sodanig kan ek Hom aanbid. Hierdie gedeelte bring my as mens egter baie nader aan Jesus en ek kan my swakhede, my sonde, my menswees na Hom toe bring. Selfs lank voor Sy geboorte het Hy reeds hiermee te doene gehad en Hy weet alles daarvan af. Daar is niemand meër gekwalifiseerd as Hý om my daarmee te help nie!

Gebed:

Here, ek kan U nooit genoeg dank en loof en prys vir al die genade wat U my as mens bewys nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026