Geskenke!

8 December, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geskenke!

2 Petrus 1:3,4

VIDEO * OUDIO

Suzette stap haar kantoor binne, dan steek sy vas en gee ‘n klein gilletjie. Op haar lessenaar lê ‘n geskenk, toegedraai in kleurvolle geskenkpapier en met ‘n reuse strik om. Skielik raak hierdie volwasse beroepsvrou soos ‘n klein opgewonde dogtertjie by ‘n kersboom, en sy borrel van pure opgewondenheid. Eers word die geskenk om-en-om gedraai, bevoel en beruik. Dan word die lint met groot omsigtigheid afgehaal. Sy is uitgelate en vrek van die nuuskierigheid, maar sy is nie oorhaastig nie. Pynlik stadig skil sy die geskenkpapier stukkie vir stukkie van die geskenk af sodat sy elke oomblik daarvan kan geniet. Die vreugde, bewondering en tevredenheid straal uit haar gesig as sy die geskenk van alle kante bekyk en bewonder. Sy begin beplan waar om dit te plaas sodat dit die mooiste sal vertoon in haar huis.

Raak jy nog opgewonde oor geskenke? Inderdaad het ek al mense gesien wat met ‘n lang, suur gesig ‘n geskenk oopmaak om dit dan ontevrede eenkant neer te sit. Hy wou eintlik iets hééltemal anders gehad het, en nou kom staan gee hulle hom hierdie “nuttelose” ding!

Is dit nie so dat ‘n mens só dikwels slegs fokus op die dinge wat jy nié het nie? Jou gebreke en tekortkominge is vir jou só prominent dat jy totaal blind raak vir al die wonderlike geskenke wat God jou wél gee. Jy bly dikwels soebat by God om ‘n sekere ding vir jou te gee, en dan raak jy suur en verbitterd as dit nie gebeur nie. Soveel só, dat jy gladnie al die ander dinge raaksien wat Hy jou wél so mildelik gee nie!

Natúúrlik sal God jou nie alles gee waarvoor jy vra nie. Gee jy vir jou kind elke ding waarvoor hy vra? Baie beslis nie! Watter ouer sal dit tog doen? Tóg voorsien God wel alles wat jy nodig het om te lewe en Hom te dien (2 Pet. 1:3). Voordat jy verder hier lees, maak eers ‘n slag jou oë toe en dink ‘n bietjie na oor alles wat jy al van God ontvang het. Besef net weereens hoe groot hierdie skat werklik is wat jy gekry het!

Ek dink jy sal saamstem dat die deel van jou erfporsie wat jy alrééds van God ontvang het jou verstand te bowe gaan. Die vraag is egter of ons ál die geskenke wat Hy gee ten volle gebruik? Ek het al geskenke van mense ontvang wat ek daar êrens in ‘n kas gebêre het, en vir jare nooit eers daarna gekyk het nie. Dan eendag ontdek ek weer die geskenk, en eers dán kom ek agter hoe nuttig dit werklik is! So is dit dikwels ook met die geskenke wat God ons gee: ons bêre dit en vergeet totaal daarvan. ‘n Voorbeeld van so ‘n wonderlike geskenk wat deur die meeste gelowiges in ‘n donker kas gebêre word, is die heerlike samesyn met ander gelowiges. Om saam te kan sing, kuier, gesels en mekaar se geloof te versterk, is seker een van die grootste geskenke óóit. Een enkele kooltjie langs ‘n vuur koel gou af, en voor jy kan sê: “Houtskool!” is sy fut uit. ‘n Hele hoop gloeiende kole is egter ‘n héél ander saak, en as jy jou vuurtjie met Hardekool, Rooibos of Mopanie gemaak het, sal daardie kooltjies dalk vir dae lank nog vuurwarm gloei, want hulle broei mekaar warm. Medegelowiges is ‘n kosbare geskenk! Moenie dit versmaai nie!

In vers 3 skryf Petrus dat ons die geskenke van God kry om twee redes: Om te lewe, en om Hom te dien. Hierdie kan ook vertaal word met: “om Godvrugtig te wees” of “om in ‘n intieme, persoonlike verhouding met God te leef.” Hoeveel van ons leef werklik in so ’n verhouding met Hom? Soveel mense het al vir my geskryf dat hulle nie kan bid nie, en dat dit voel asof hulle gebed teen die plafon vasslaan en God hulle gladnie hoor nie. As jy in ‘n intieme verhouding met God leef, sal dit nooit óóit gebeur nie, want dan sal jy jou ore oophou om Sy stem te hoor.

Dink so daaraan: jy is eintlik een van die mees bevoorregte mense op aarde, en ook een van die rykstes! “Maklik vir jou om te praat!” sal jy dalk sê. Eerstens het jy die wonderlike voorreg om vir God persoonlik te kan ken. As jy ‘n Bybel het, is daar alreeds vir jou ‘n skatkis wat wawyd ooplê en oorloop van die kosbaarste juwele waaraan jy kan dink! Uit hierdie skatkis leer jy vir God intiem ken, en sien jy wat Hy alles alreeds vir jou gedoen het. Hieruit leer jy ook van die grootste geskenk van alle tye, toe God sy enigste Seun, Jesus gegee het om te kom betaal met Sy lewe vir die sondes van elkeen wat bereid is om maar net in Hom te glo. Ons leer ook van die Heilige Gees, dié Een wat vir ons krag, wysheid en insig gee om te kan lewe in daardie persoonlike verhouding met God. Dit is ook Hy wat vandag vir my en jou hierdie boodskap van hoop en blydskap kom gee.

Onthou jy nog die ou Sondagskool liedjie: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een, seëninge jou deur God geskenk! Tel hul almal, kyk wat God verleen, en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!” Kom ons tel vandag al daardie wonderlike geskenke van God, en leef dit voluit!

Gebed:

Dankie vir al die wonderlike geskenke wat ek deur die jare van U ontvang het, Here. Maak my asseblief opreg dankbaar daarvoor, en leer my hoe om hierdie dankbaarheid uit te leef tot U eer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026