Gereed vir die Groot Geveg

7 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gereed vir die Groot Geveg

1 Samuel 17:33-47

VIDEO | OUDIO

Koning Saul laat die jong Dawid ontbied na sy tent: “Wat hoor ek van jou? Jy is sekerlik nie ernstig om teen daardie Filistyn te gaan veg nie? Hy sal maalvleis van jou maak!”

Maar Dawid was nog nooit meer ernstig in sy lewe nie: “Mens moenie moed verloor oor hy so groot is nie,” stel hy die koning gerus. “Ek sal teen die Filistyn gaan veg - ek is nie bang nie.” Maar Saul twyfel, Dawid is gans te jonk en onervare vir hierdie Filistyn. Hy het grootgeword as ‘n soldaat, ‘n gebore vegter en boonop skrikwekkend groot en sterk!

Dawid is egter rustig oor die saak en hy vertel vir Saul dat hy nou wel nét ‘n skaapwagter is en dalk nog baie jonk, maar hy weet presies hoe om gevare te hanteer. Hy kry dikwels te doene met allerhande roofdiere, en hy’s nie bang om énige ding aan te vat nie! “Ek het al ‘n woedende beer aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan! Ek het eenmaal selfs al ‘n leeu aangevat en hom doodgemaak. Ek is nie bang vir énige gevaarlike dierasie nie! Hierdie Filistyn is niks beter as enige van daardie wilde diere nie!”

Dawid kyk minagtend in die rigting van die Filistyne: “Daai heiden is besig om ‘n bespotting te maak van die volk van die Lewende God!”

Dan speel hy sy troefkaart: “Dit is die Here wat my gered het uit die kloue van die beer en die leeu, en die Here sal my ook red uit die mag van hierdie Filistyn!”

Saul sug swaar as hy sien dat hy nie vir Dawid gaan oorreed om van sy waansinnige plan af te sien nie. “Ja toe dan, gaan veg dan maar, en mag die Here met jou wees!” Die beste wat hy nou kan doen is om darem vir die jong man behóórlike oorlogsklere aan te trek, want daardie Filistyn gaan hom vermorsel. En hy moet wapens kry vir die groot geveg! Die manne kry opdrag om sy persoonlike harnas vir Dawid aan te trek en sy eie wapens vir hom te gee. Dawid is mos al vertroud met hierdie swaard van hom, want hy was al ‘n slag of wat Saul se wapendraer.

Maar Saul het nie rekening gehou daarmee dat hy die grootste man in Israel is nie, en dat Dawid sou versuip in sy oorlogsmondering. En wanneer die bronshelm boonop op Dawid se kop kom, kan hy skaars sien - die ding is myle te groot! Dan gord die manne vir hom Saul se swaard om sy heupe.

En daar staan Dawid - onkapabel om te beweeg. Die uitrusting is so groot en swaar dat hy skaars kan loop. “Hoe moet ek teen Goliat gaan veg as ek nie uit sy pad kan bly nie?” wonder hy. “Nee, dit sal beslis nooit deug nie!”

Wat Dawid egter nie besef nie, is dat hy op daardie oomblik die koning se klere vol staan en boonop sy swaard aan sy sy gegord het - ‘n simbool van wie Dawid werklik is: gesalfde koning van Israel! Eendag sal hy nog fisies die plek inneem van hierdie einste koning!

“Jammer, maar dit sal beslis nie vir my werk nie.” sê Dawid vir Saul, en daarmee klim hy uit die swaar harnas uit. Selfs die swaard is nie vir hom gemaklik nie. Hy sal die reus aanpak met die wapens waarmee hy vertroud is, sy slingervel en kierie!

Onder in die spruit soek hy noukeurig vyf gladde klippies uit. Die klippies moet perfek gebalanseer wees, want hy sal net een enkele kans kry teen die vegter en dit moet die kol sekuur tref met die eerste probeerslag. “Here, U het my gered van die beer en die leeu, ál my vertroue is in U. Red my nou ook van hierdie heiden sodat almal sal weet dat U Here en God is!”

Dawid se wakker oë som die Filistyn op wanneer hy na die man aangeloop kom. Elke krakie in die reus se mondering word opgesom. Daar is net een enkele plek waar hy hom dodelik kan tref - waar die massiewe bronshelm oopmaak tussen sy oë. Die Filistyn maak óók ‘n opsomming van hierdie rooigesig seun wat met ‘n kierie in die hand teen hom wil kom veg. Slegs een swaai van sy swaard sal genoeg wees want die kêreltjie het dan nie eers ‘n harnas aan nie. Minagtend gluur hy vir Dawid aan: “Is ek dan ‘n hond dat jy met kieries na my toe kom?” ‘n String vloekwoorde besoedel die lug: “Kom ‘n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls kan voer!” bulder hy.

Dawid kan nie maar stilbly teen sulke lasterlike, gekruide taal nie en veral nie as hy vervloek word in die naam van allerhande afgode nie. “Jy kom met al jou magtige wapens maar ek staan hier in die Naam van die Here die Almagtige. Vandag sal dieselfde God van wie se leër jy so ‘n bespotting gemaak het, jou in my hand oorgee. Jou kop sal rol en die lyke van die Filistyne sal verstrooid lê vir die roofvoëls en wilde diere om op te vreet. Dan sal die hele wêreld moet erken dat Israel ‘n God het - dit is Hy wat oorwin!”

God is liefde - so het ons geleer en so ervaar ons dit elke dag. Maar as mense aanhou om God uit te tart, sal Sy geduld opraak (met permissie gesê). Vandag is daar talle mense wat Hom so blatant uittart - Hom totaal minag en verkleineer. Dit maak my en jou as gelowige bitter seer om dit aan te hoor. Maar die dag van afrekening gaan kom.......

Gebed:

Here, gee my asseblief die moed en krag om op te staan teen mense wat U minag en U verkleineer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026