Genoeg Olie

29 August, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Genoeg Olie

Matteus 25:1-13

VIDEO | OUDIO

Jesus vertel die aangrypende storie van die tien meisies wat tot laat in die nag gewag het vir die bruidegom om sy opwagting by ‘n bruilof te maak. Daar is ‘n paar vrae wat jy onwillekeurig vir jouself vra wanneer jy die storie lees wat Jesus hier vertel, dinge wat net eenvoudig nie sin maak nie! Waarom het die bruidegom die gaste so lank laat wag? Waarom het die vyf dwase meisies nie genoeg olie saamgebring nie? Het hulle dan nie geweet dat die bruidegom soms laat kon wees nie? Was die bruidegom ooit werklik laat?

As jy net eers ‘n bietjie gaan kyk na die agtergrond van die storie, begin hierdie dinge vir jou sin maak. Ons lewe in ‘n plek in die geskiedenis waar tyd werklik baie groot saak maak. Elke afspraak moet tot op die minuut nagekom word, anders is jou kliënt kwaad en boonop veroorsaak dit dat jy laat gaan wees vir jou volgende afspraak óók. Dikwels is selfs sekondes van uiterste belang. Ons horlosies word wêreldwyd gesinkroniseer. Selfs ons rekenaars en selfone is elke oomblik van die dag tot op die sekonde ná presies ingestel op internasionale tyd. Tyd het ons baas geword!

In dáárdie tyd was dit totaal anders: daar was in die eerste plek nie sulke goed soos horlosies nie en die mense het tyd bepaal deur na die son of sterre se stand te kyk. Jy het na jou liggaam geluister wanneer hy vir jou sê dat hy honger of vaak is, want dan was dit etenstyd of slaaptyd. Dit is net die heel rykes wat die luuksheid van ‘n sonhorlosie kon bekostig. Die Jode se dag het begin met sononder. So het die Sabbat byvoorbeeld begin sodra 2 Jode saamstem dat hulle 3 sterre kan sien op ‘n Vrydagaand en aangehou tot sononder Saterdagaand. Verder is die dag dan so naastenby in ure ingedeel. Die Romeine se tyd het egter begin met middernag, en vir hulle was tyd al baie belangrik want ‘n militêre masjien het op tyd geloop.

Daar is egter ‘n ander baie belangrike vraag rondom die begrip van tyd: wanneer was die regte tyd vir ‘n gebeurtenis om plaas te vind? Ons lees nêrens in die Bybel dat daar afsprake gemaak was om iemand op ‘n spesifieke tyd te ontmoet nie. Die belangrikste persoon het bepaal wanneer die tyd ryp was. So byvoorbeeld sou ‘n persoon gaste uitnooi vir ete, maar daar was nie ‘n tyd gegee nie. Wanneer die maaltyd gereed was, het die gasheer boodskappers uitgestuur om almal te laat weet dat dit tyd was. By ‘n huweliksonthaal was die bruidegom uiteraard die héél belangrikste persoon, en dit was sý voorreg om te bepaal wanneer dit die regte tyd was vir die seremonie om te begin. Almal het dit tog immers geweet en die uitgenooides het in groot opgewondenheid gewag. Die bruidegom se koms was immers ‘n groot verrassing. Natuurlik sou dit ‘n klap in die gesig wees as iemand nie gereed sou wees wanneer hy opdaag nie, want die hele seremonie het immers rondom hom gedraai!

In hierdie verhaal sien ons gaste wat in groot opgewondenheid wag vir die groot oomblik - die bruidegom se aankoms. Sommige het sékerlik verwag dat hy al vroegaand sou kom. Wanneer hy dus in die middel van die nag skielik met ‘n groot gejuig opdaag, is hulle lankal nie meer gereed nie. Dit sou ‘n skande wees!

Die belangrikheid van hierdie gedagte word beklemtoon deurdat Jesus dit oor en oor sê. Oor die afgelope paar dae het ons telkens gelees hoedat Jesus vir Sy dissipels die belangrikheid van gereed-wees inhamer. In die toepassing van hierdie verhaal sien ons God as die héél belangrikste Persoon. Hý alleen kan bepaal wanneer die wederkoms is. Natuurlik weet ons dat ál die tekens alreeds daar is en dat Hy te enige tyd kan kom. Hy het ook reeds die uitnodiging na die groot fees aan almal uitgestuur. Dus moet ons gereed wees, want daardie trompet kan enige oomblik blaas en wanneer dit gebeur wil ons beslis nie onverhoeds betrap word nie!

Ons hoor dikwels van mense wat wiskundige berekenings maak oor die presiese tyd van die wederkoms, maar dit bly ‘n groot geheimenis waarna ons met groot opgewondenheid uitsien. Daar is selfs geloofsgroepe wat beweer dat die wederkoms alrééds plaasgevind het. Maar waarom het ons dan nie daarvan geweet nie?

Natuurlik is daar ook ‘n ander faktor wat ons in gedagte moet hou, naamlik die totale onvoorspelbaarheid van die tyd waarin ons leef. Daagliks hoor ons van mense wat vermoor is. Op die pad is jy net so min seker van jou lewe en in ‘n oogwink kan jy die ewigheid ingeruk word. Is jy gereed daarvoor? Die 11de September se gebeure 'n paar jaar gelede het gewys dat jy nêrens veilig is nie. Duisende mense het binne minute gesterf in ‘n “veilige” gebou. In die plofbare Midde-Ooste, Oekraiene, Afrika word talle mense daagliks die ewigheid ingeruk. Selfs in Europa, VSA en Brittanje is daar deesdae kort-kort 'n terreuraanval wat talle lewens eis!

En asof die skrikwekkende dinge nie genoeg is nie, kan ’n hartaanval kom soos ’n dief in die nag! Het jy genoeg “olie” in jou lewenslampie vir die oomblik wanneer die Bruidegom onverwags kom? Het jy al by Jesus uitgekom?

Gebed:

Here, gee my asseblief vandag die ywer om gereed te wees vir U koms, en die geduld om opgewonde op U te wag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026