Genees by die Swembad

1 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Genees by die Swembad

Johannes 5:1-17

VIDEO OUDIO

Nadat Jesus ‘n tydlank in Galilea gewerk het, pak hulle weer die langpad na Jerusalem aan om ‘n fees by te woon. Ons weet van minstens drie geleenthede waar Jesus die Paasfees in Jerusalem bygewoon het. Daarom weet ons dat Jesus se bediening vir ongeveer drie jaar aangehou het.

Daar was tien poorte in Jerusalem se ringmuur in die Nuwe Testamentiese tyd. Een van die poorte, die Skaappoort was aan die noorde kant. Naby hierdie poort was ‘n openbare bad met die naam Betesda. Ons moet onthou dat mense in daardie jare nie die luukse gehad het van ‘n badkamer in die huis nie. Wanneer iemand moes was, is hy na een van die openbare baddens. Rondom die Betesda-bad was daar vyf pilaargange - ‘n afdak op pilare met ‘n muur aan die agterkant. Hier kon mense rustig sit en hulle tyd afwag om te gaan was.

Daar is egter ook geglo dat die Betesda-bad se water genesingskragte gehad het. Van tyd tot tyd het die water om die een of ander onverklaarbare rede in beroering gekom, wat volgens oorlewering veroorsaak was deur ‘n engel wat na die water neergedaal het om die water te roer. Die eerste persoon wat dan in die water kon kom, was genees van watter soort siekte hy ookal gehad het.

Johannes beskryf ‘n insident waar Jesus tydens hierdie besoek aan Jerusalem, ook by die Betesda-bad aangedoen het waar Hy ‘n man aangetref het wat alreeds agt en dertig jaar siek was. Hy was desperaat, want hy kon net eenvoudig nie gou genoeg by die water kom as dit begin roer het nie. Daar was elke keer iemand wat hom voorgespring het! Jesus het die man ‘n nuwe kans in die lewe gegee toe Hy hom vra: “Wil jy gesond word?” Wat ‘n vraag! Natúúrlik wou hy! Maar hy kon net nooit betyds in die water kom nie!

Staan op, tel jou goed op en loop,” het Jesus vir die verdwaasde man gesê. En skielik was hy gesond! Ek kan my amper voorstel hoe hierdie man moes gevoel het. Hy het nie vir hierdie Vreemdeling gevra om hom te help nie en tóg het die Man reguit na hom gegaan en hom gehelp. Hy het hierdie Vreemdeling van géén kant af geken nie en tóg het Hy presies geweet wat met hom verkeerd was en Hy het hom genees. Onmiddellik het hy gevoel hoedat die lewe in sy gebroke liggaam inloop. Hy het opgespring, sy mat opgetel en huistoe geloop. Nee, ek dink hy het dalk eerder huistoe gehuppel - jubelend!

Maar daar was ‘n probleem - toe hy hierdie Vreemdeling wou bedank vir Sy weldaad, was Hy net weg. Jesus het tussen die skare in verdwyn. Hierdie was egter nie die enigste probleem nie - die Jode was ‘n pyn! Hulle het totaal sy borrel gebars toe hulle hom uittrap oor hy sy matras huistoe gedra het, want dit was die Sabbatdag, en dan mag jy geen werk gedoen het nie. Om iets te dra was werk en hy was dus besig om die wet te oortree!

Maar ek het maar net gedoen wat die Man gesê het ek moet doen,” het hy nog probeer om sy ernstige misstap te regverdig.

Watter Man?” wou hulle weet. Nee, hy het nie geweet nie. Hy het Hom mos nie geken nie.....

Later het die man Jesus weer in die tempel raakgeloop. “Kyk, jy is nou gesond,” het Jesus vir hom gesê. “Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets erger met jou gebeur nie.” Sou dit nou beteken dat die man gestraf sou word elke keer as hy ‘n sondetjie doen? Dit sou darem verskriklik wees, want ek en jy weet dat daar nie ‘n enkele dag omgaan dat ons nie sommer ‘n streep sondes doen nie. Sonde is sonde, al is dit ook net in jou gedagtes. Nee, ek dink nie dit is wat Jesus bedoel het nie. Elders verduidelik Hy vir Sy dissipels dat wanneer iets erg gebeur, dat dit nie noodwendig oor iemand se sonde is nie, maar dat God dalk iets daarmee wil bereik.

Kom ons dink ‘n bietjie mooi: wat is ware sonde? Wat is die ergste sonde waaraan jy kan dink? Om moord te pleeg? Om te roof? Om te haat? Nee, die ergste sonde wat jy ooit kan pleeg is om Jesus te verwerp. Die straf daarvoor is die ewige verderf. Ek wil die straf nie eers beskryf nie, want dit is te gruwelik. Hoe verwerp jy Jesus? Deur nie Sy geskenk van die Ewige Lewe te aanvaar nie! In Joh 3:32 het ons gelees: “Wie in die Seun glo, het die Ewige Lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”

Wanneer Jesus dus vir die man sê dat hy nie verder moet sondig nie, dan bedoel Hy dat die man in Hom moet glo. Wat is die “iets erger” wat met hom kan gebeur? As hy nie glo nie sal die verskriklike straf van die verderf op hom wees.

Ek het al verskeie kere die vraag gevra, en ek sal dit nog baie vra: Het jy al opgehou sondig? Het jy al Jesus se geskenk aanvaar? Hierdie is ‘n baie belangrike vraag, maar jou antwoord is die belangrikste ooit in jou lewe. Dis is ‘n antwoord wat die verskil maak tussen lewe en dood!

Gebed:

Here, ek wil vanoggend ernstig bid vir elkeen wat hierdie dagstukkie lees, en nog nie geantwoord het op U pleidooi om U geskenk te aanvaar nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026