Lukas 6:39-45
Soos jy seker al agtergekom het, is ek lief daarvoor om waarhede tuis te bring deur middel van storietjies, veral stories oor die Bos. Dis iets wat my baie na aan die hart lê. Wel, ek moet erken dat ek ‘n baie goeie Leermeester het - die beste wat daar ooit was: Jesus! Kyk maar net hoedat Hy die wonderlikste waarhede by mense tuisgebring het met storietjies en gelykenisse. Jy vergeet hulle nie sommer nie! Elke keer as jy by so ‘n situasie kom, dan dink jy onmiddellik aan wat Jesus gesê het.
Jesus se bergpreek is geen uitsondering nie, en vandag kyk ons na ons vier kort gelykenisse wat Hy gebruik het om baie diep waarhede tuis te bring. In die eerste gelykenis wil Jesus daarmee vir jou op die hart lê dat jy moet weet wat jou tekortkominge is, en dat jy dan daarvolgens moet leef. Hy gebruik die beeld van twee blindes wat mekaar probeer lei. Uiteindelik beland albei in ‘n sloot! In die praktyk het ek dit al baiemaal beleef dat mense my vrae vra wat ek net eenvoudig nie kan beantwoord nie. My natuurlike reaksie is om my eie opinie te gee, al is ek nie eers seker of dit korrek is nie. In ‘n sondagskoolsituasie is dit dalk nog erger, as ‘n kind jou ‘n strikvraag vra, dan is die versoeking groot om maar ‘n antwoord uit jou duim te suig! Hoe sal die kind tog weet? Ek bedoel, ‘n mens het darem tog jou eer en jy moet slim lyk! Hoe sal dit nou lyk as die kinders agterkom dat hulle onderwyser te “dom” is om ‘n eenvoudige ou vragie te antwoord? Dieselfde geld vir wanneer iemand jou ‘n strikvraag vra oor ‘n geloofsaak - dalk iets wat hom al jare pla.
Ons moet onthou dat niemand volmaak is nie, en dikwels moet jy maar jou trots sluk en sê: “Jammer ek weet nie wat die antwoord is nie, maar ek sal probeer uitvind!” Persoonlik het dit my al dikwels gekos om by ander mense te gaan kers opsteek met strikvrae. Ek moes dikwels al mense na iemand anders verwys om hulle vraag te probeer antwoord. Mense verloor nie hulle respek vir jou as jy nie alles weet nie! Hulle sien eerder dat jy nét so ‘n mens soos hulle is, en dat hulle daarom makliker met jou kan kommunikeer. Sluk dus maar gerus jou trots!
In die tweede gelykenis wil Jesus sê dat ek my eie beperkinge moet ken en my eie foute en sondes moet kan raaksien. Dit is dan ook belangrik dat jy nie ander mense gaan veroordeel nie, veral nie terwyl jy sélf nog met ‘n sak vol sondes in jou lewe sit nie. Alleen die persoon wat totaal sonder enige sonde is, het die reg om ander te kan oordeel! En dit verséker ek jou, daardie ou is nog nie gebore nie! Die enigste Mens wat nog óóit sonder sonde was, is Jesus! Dit is so lekker om ander mense te kritiseer en vinger te wys, veral as die persoon ‘n hoë sosiale profiel het. In die proses is daar dikwels mense wat bitter seerkry en dikwels ook onskuldiges wat in die ding betrek word!
In ons derde gelykenis vanoggend herinner Jesus ons dat ‘n goeie mens nie slegte dinge doen nie. As voorbeeld gebruik hy ‘n vrugteboom. Dis iets wat almal natuurlik ken. Oee, ek onthou uit my kinderdae, wanneer dit vyetyd was. As jy by die vyeboom verbyloop, begin jou mond outomaties al te water vir daardie heerlike, sappige, stroopsoet vye wat so in jou mond wegsmelt, en jou hele wese vul met die aromatiese geur van boom-vars vye. Ai toggie! Toe ek kind was het ek die wonderlike voorreg gehad van ‘n byna onuitputlike bron van vrugte te hê op ons plaas, geelperskes, lospitperskes en witperskes; appels, pere, pruime en appelkose; vye, druiwe en turksvye. Nie eers te praat van al die wilde vrugte nie, want teen die kliprandjie het mispels gegroei en stamvrugte en nog baie ander. Daar was te kies en te keur van die heerlikste sappige vrugte, elkeen met sy eie unieke smaak. In die kliprandjie was daar egter ook ‘n boom met galbitter wit vruggies wat tóg op sy eie manier lekker was. En daar was ook bome wat vrugte gedra het wat stink. Die varke het húlle nogal geniet!
Inderdaad is dit so dat jy geken word aan die vrugte wat jy dra. Soos ‘n goeie boom wat gereeld gesnoei, bemes, versorg en natgelei word op die regte tyd, die sappigste vrugte dra. So is dit ook nodig dat ons in die geloofslewe gereeld versorg, gesnoei en gevoed word, en gereeld drink uit die fontein van die lewe. Dán dra ons geloofsvrugte wat aanneemlik is vir God maar wat ook ‘n advertensie is van die lewe van ‘n gelowige, en ander die honger gee vir daardie lewe.
Die boom op ons plaas wat die stink vrugte gedra het, het terloops reg langs die varkhok gegroei. G’n wonder dat sy vrugte so aaklig gestink het nie! As jy jou meng met slegte vriende, gaan hulle beslis ‘n slegte invloed op jou lewe hê. Dan kan jy séker wees dat jou geloofsvrugte dalk óók gaan stink! Kry jou wortels eerder in die ryk, voedsame grond van die vrugteboord van God - die kerk. Daar moedig gelowiges mekaar aan om begeerlike, sappige geloofsvrugte te dra.
Gebed:
Here, ek wil asseblief goeie vrugte dra, en sodoende U heilige Naam verheerlik. Help my asseblief!