Gelowiges Kan Ook Struike

13 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gelowiges Kan Ook Struike

Genesis 12:10-20

Kom ons kyk vanoggend ‘n bietjie uit ‘n ander perspektief na die verhaal van ons vorige oordenking, toe Abram so hard met Moeder Aarde kennis gemaak het. Is dit nie snaaks nie, dat die terrein waar ‘n mens die sterkste staan, dikwels ook dieselfde plek is waar jou grootste swakheid na vore kom? En as dit die dag gebeur, dan voel dit vir jou asof alles skielik net onder jou padgee, asof God jou nooit óóit hiervoor sal vergewe nie.

Nogtans kan ek vanoggend vir jou die wonderlike nuus uitblaker, dat God jou nie verwerp as jy die dag sou struikel nie. Hy weet dat ons maar net doodgewone mense is. Ons is brose skepsele wat kan verbrou, al is ons ook die mees toegewyde gelowige. ‘n Paar jaar gelede het ons gesien hoedat ‘n toegewyde gelowige, ‘n Pastoor op wie se skouers duisende mense geleun het vir krag, een oggend in trane voor sy gemeente gestaan en bely het van sy gebroke huwelik. Hoeveel huwelike het hy nie sélf gered nie, en nou dit! Dink jy vir een oomblik dat God hierdie man na sy val uit die Koninkryk uitgeskop het? Baie beslis nie! Hy is ‘n liefdevolle Vader, en Hy maak ruimte vir ‘n sondaar wat val.

Toe daardie Pastoor geval het, was daar duisende mense wat hom verwerp het en vinger gewys het. Dalk was jy een van hulle! Ja, mense is bitter gou om die slegste in iemand raak te sien en te verwerp, maar God is soveel groter as ons, en soveel meer verhewe bo ons menslike aksies en verstand. Hy dink baie groter en hoër as ons, en Hy sien die potensiaal raak waar ander dit nie sien nie. Hy sal selfs die grootste sondaar nie verwerp nie. Aan ‘n kruis het daar eenmaal ‘n moordenaar gehang. Aan die kruis langs syne was Jesus onskuldig vasgespyker. Jesus het vir hierdie moordenaar gesê dat hy daardie selfde dag nog saam met Hom in die paradys sou wees. Is dit verwerping? Ek glo nie!

God vergewe nie alleen nie, Hy gryp in!

Abram het in ‘n hopelose situasie beland, en hoe meer hy probeer het om homself daar uit te lieg, hoe dieper het hy in die gemors ingesak. En die ergste van alles was dat hy dit alles oor homself gebring het. Dit was nie “omstandighede” wat hom in die sop laat beland het nie, maar sy eie doelgerigte, voorafbedagte, goedbeplande skelmstreek! Ja, dit kan as niks anders as ‘n skelmstreek beskryf word nie, want hy het doelbewus die Farao mislei.

Hoe gryp God in in hierdie situasie? Deur vir Abram te straf? Hom te slaan met ‘n siekte? Nee: God gryp in deur die Egiptenare te tref met plae. Dit herinner ‘n mens nogal aan die gebeurtenis ‘n paar honderd jaar later, toe die Farao ook deur plae getref is, kort voor die Israeliete se groot uittog. Maar daar is meer dinge in die verhaal wat herinner aan die uittog. Die Farao skrik hom spierwit as die dinge gebeur en hy jaag vir Abram weg: “Maak dat jy wegkom,” staan daar letterlik in vers 19. Die Israeliete is ook later weggejaag, tot groot verligting van Moses. Maar Abram is nie leëhande weggestuur (weggejaag) nie. Al die geskenke wat hy gekry het vir sy skelmstreek en al sy besittings kon hy saamneem, net soos dit ook gebeur het met die Israeliete.

Ek het al so dikwels gehoor dat daar gesê word dat God iemand straf oor die een of ander misstap. God straf nie gelowiges nie, al val hulle ook baie hard. God gryp wel in wanneer iemand val, en daardie ingryp kan soms baie seer maak. Maar moet dit nooit as straf beskou nie. Ek het eenkeer die mooi storietjie gehoor van ‘n pa wat moedeloos was met sy onbeheerbare seun. Op ‘n dag kom hy met ‘n hamer en ‘n paar gebuigde, geroeste spykers die seun se kamer in, en hy kap ‘n spyker in die deurkosyn. Die seun se oë rek groot - sies dis lelik! Na elke onderonsie word daar ‘n spyker ingekap, tot die seun dit naderhand nie meer kan hou nie, en hy huilend sy pa om vergifnis smeek. En toe kom Pa met dieselfde hamer en trek al die spykers uit. “Wat van die lelike gate Pa?” wil die seun weet. “Jammer, hulle kan ek nie toemaak nie. Dit is die gevolge wat jou sonde op die deurkosyn agtergelaat het.”

n Gelowige moet onthou dat wanneer hy struikel, God alles sal vergewe, maar daar bly soms letsels agter wat nooit sal toegroei nie. Dikwels is dit letsels aan ander mense, nie aan homself nie.

Abram is betyds wakkergeskud. Die geloofsheld se geloof het hom in die steek gelaat, maar God se ingrype het hom weer tot sy sinne geruk.

Ek weet dat hier vandag baie “geloofshelde” is wat hierdie dagstukkie lees. Dalk is jy een van dié wat ‘n lang pad saam met God gestap het, en nou gegly het. Ja, jy glo steeds, maar deur “omstandighede” het jy op ‘n paadjie beland waar jy ver van God af is. Jy is dalk nie meer deel van die geloofsgemeenskap nie, of dalk is jy betrokke by ‘n buite egtelike verhouding. Breek nóú met dit waarmee jy besig is! God is getrou en Hy sal vergewe. Hoe langer jy daarmee aanhou, hoe groter gaan die skade wees as jy vir God moet dwing om in te gryp. Moenie wag tot more nie, doen dit vandag nog!

Gebed:

Here, ek faal so dikwels as gelowige - doen onbesonne dinge wat ander mense kan laat seerkry. Vergewe asseblief Here, en help my om betyds te sien waarmee ek besig is voordat U drasties moet ingryp.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026