Geloofstoets

28 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloofstoets

Johannes 4:43-54

VIDEO OUDIO

“‘n Profeet word nie in sy eie land geëer nie,” maak Jesus die stelling vir Sy dissipels op pad na sy tuisland, Galilea, na ‘n uiters suksesvolle bediening onder die Samaritane. Wanneer ons die volgende paar verse van Johannes lees, verstaan jy moeilik wat Jesus bedoel het, want hier wil dit voorkom asof die mense van Galilea Hom baie goed ontvang het en Hom as’t ware terug verwelkom het.

Dit is gevaarlik om die Bybel te wil verstaan deur slegs enkele versies te lees. Dikwels moet jy ander gedeeltes daarmee saam lees om die spesifieke gedeelte in sy konteks te plaas. Ons moet onthou dat Johannes hierdie Evangelie geskryf het om bepaalde gedagtes by sy lesers tuis te bring. As ons die ander evangelies saam lees, dan kry jy ‘n breër prentjie van Jesus se bedoeling. Matteus 13:53-58 vertel byvoorbeeld hoedat die mense van Nasaret, die dorp waar Jesus grootgeword het, Hom verwerp het. Lukas skryf dat hulle selfs so ver gegaan het om Hom van ‘n krans te probeer afgooi (Luk. 4:28-30).

As Johannes dus skryf dat die Galileërs vir Jesus verwelkom het, was dit slegs ‘n tydelike ding. Toe Hy egter ongemaklike dinge begin sê het, het selfs Sy eie broers die rug op Hom gedraai!

Van Sigar af het die groep se reis hulle reg noord geneem, verby Nasaret tot by Kana, daar waar Sy heel eerste groot wonderwerk plaasgevind het, waar Hy die water in wyn laat verander het. Hulle volgende stop sou wees Kapernaum, sowat 25km verder, langs die see van Galilea.

In Kana het ‘n man Jesus tegemoet geloop, baie bekommerd. Hy was moeg, want hy het baie haastig die hele ent pad van Kapernaum geloop toe hy hoor dat Jesus by Kana was. Sy seun was baie siek, en hy kon enige oomblik sterf van die koors. Hierdie man was ‘n regeringsamptenaar, wat waarskynlik vir Herodus Antipas, die regeerder van daardie streek, gewerk het.

Toe die man uiteindelik by Jesus uitkom, moes hy eers aanhoor hoedat Jesus hom toets. Was hy nie dalk maar net daar om weereens ‘n wonderwerk te kom sien nie? Ons wil amper vra: “Maar hoe kón Jesus? Kon Hy nie sien dat die man desperaat was nie?”

Ons moet onthou dat duisende mense na Jesus gestroom het uit nuuskierigheid. Ek is séker dat baie van daardie mense egter iets gekry het wat hulle nie verwag het nie, en as veranderde mense weggegaan het. Ek kan jou verseker dat baie van die manne wat destyds Mighty Men byeenkomste bygewoon het, daar was slegs uit nuuskierigheid, maar dat baie van hulle as veranderde mense terug is huistoe.

Wanneer Jesus hierdie man “uitlok”, sien ons egter uit sy antwoord dat hy Jesus gesien het as die enigste oplossing vir sy probleem. Hy het nie eers in die een of ander teologiese gesprek met Jesus getree, soos baie van die ander gedoen het nie, maar hy het Jesus gesmeek om asseblief dadelik te kom - sy seun was besig om te sterf! Hierdie hooggeplaaste het sy hart voor Jesus uitgestort!

Maar steeds sien ons dat Jesus nie doen wat die man vra nie. Hy het nie saam met die man gegaan om die kind hande op te lê of die een of ander teken te gaan doen nie. Die mense het geglo dat ’n geneser die sieke moes aanraak, sodat sy krag van hom af kon vloei na die sieke toe. Jesus se krag was egter nie afhanklik van aanraking nie. Hy het die man se geloof nog verder getoets en bloot die man teruggestuur huistoe. Die amptenaar moes maar net glo dat sy seun sou leef. Wat het in sy gedagtes omgegaan terwyl hy die lang pad huistoe begin stap het? Vir hom het daar twee dae voorgelê - twee dae waar hy maar net kon hoop en probeer glo voordat hy by die huis sou wees. Twee dae waarin sy senuwees hom sou opvreet!

Maar op daardie presiese oomblik het die kind gesond geword - so verneem die amptenaar later van sy werksmense.

Maar daar was ‘n bonus - ‘n baie groot bonus. Hierdie ondervinding het die man en sy gesin só aangegryp, dat die hele gesin gelowig geword het. “Hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom,” lees ons in Joh 4:53.

Ek en jy word dikwels ook soos hierdie amptenaar getoets. Daar is ‘n saak waarvoor ons bid, en dan kom die antwoord dat die Here ons gebed verhoor. Maar dan volg die lang pad “huistoe” waar niks gebeur nie en jy wonder of die Here ooit onthou het van jou gebed. Hierdie is nie ‘n maklike pad nie! Jy het twee keuses: jy kan die hele pad loop en jou siek bekommer of die Here ooit van jou onthou, of jy kan loop en jubel, in die wete dat jy op Hom kan vertrou, al lyk alles op hierdie oomblik totaal verlore.

Ek weet hoe moeilik daardie pad is. Ek het hom sélf geloop en die versoeking om in die donker put van depressie in te sak, en jou probleme met die wêreld te deel, is baie groot. Positiewe vertroue in Hom, en ‘n uitleef van ware blydskap, is al wat jou op daardie pad staande kan hou.

Gebed:

Here, ek glo en ek vertrou op U beloftes, al sien ek nog niks. Here, gee my die krag om staande en vol vreugde te bly, asseblief!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026