Geloofsontploffing

24 September, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloofsontploffing

Handelinge 2:37-42

Die verskillende kerke op Ballito het ‘n paar jaar gelede bymekaar gekom en besluit om die verhoogstuk “Heaven’s Gates & Hell’s Flames” op te voer. ‘n Amerikaanse span het die verhoogstuk georganiseer en die opleiding en dekor verskaf, maar die akteurs het uit die plaaslike gemeentes gekom. Aanvanklik was ek maar uiters skepties want ek ken Ballito! Ek weet dat enige vertoning maar ‘n klein handjievol mense lok. Die skoolsaal op uMhlali (‘n ou klein gehuggie met tien spoorweghuise, ‘n kroeg en ‘n paar winkels) word bekom vir die opvoering wat ‘n volle week sou duur.

n Twintigtal akteurs word uit die verskillende kerke gewerf, asook ‘n paar dosyn beraders wat ná die vertonings met mense kon gesels. Sommige van die “akteurs” het nog nooit die bokant van ‘n verhoog gesien nie, maar elkeen is gewillig om te leer. En toe begin die harde werk! Vir ‘n volle week lank word die verskillende rolle ingedril in elke speler. Gelukkig het elkeen net ‘n ou klein rolletjie, maar saam maak dit ‘n groot verhoogstuk. Die spelers en beraders is egter maar die puntjie van die ysberg, want agter die skerms werk daar ‘n horde mense wat organiseer, help met grimeer, en ‘n reuse gebedsgroep wat vir die volle duur van die vertoning saam bid.

Openingsaand word al die gemeentes uitgenooi om te kom kyk. Nee, hierdie verhoogstuk is nie eintlik vir hulle bedoel nie, maar hulle is die mense wat die woord gaan versprei om mense hierheen te lok. Dit was ‘n sukses, en daar was ‘n goeie klompie mense, maar dié wat dit bygewoon het was in ekstase. Dit is ‘n aangrypende toneelstuk wat jou diep in die hart ruk. En hulle gaan vertel!

Die volgende aand is die saal stampvol mense. Aand drie moes honderde mense omdraai omdat daar nie plek was nie. Mense het rondom die saal gestaan en die vertoning deur die vensters gekyk. Na elke vertoning was daar ‘n massa mense wat vir berading gekom het, en die arme beraders moes bontstaan om met almal ‘n gesprek te kon voer. Aan die einde van die week se vertonings moes ons ‘n besluit neem: duisende mense wou nog die vertoning sien. Ons verleng dit vir ‘n verdere week, en elke aand is die saal steeds tot oorlopens toe vol.

Hoeveel mense daar gedurende hierdie vertoning tot bekering gekom het, weet ek nie, maar dit was ‘n reuse skare wat meestal uit die heidendom van Hindoeïsme vir die Here bereik is.

Wat het hier gebeur? Die Heilige Gees het ‘n klompie doodgewone mense gebruik, wat gewillig was om hulleself beskikbaar te stel, om die harte van derduisende mense aan te raak. Hulle het maar net gedoen wat hulle móés doen, en die Heilige Gees het al die oortuigingswerk gedoen.

Alles het eintlik begin op Pinksterdag, ná die uitstorting van die Heilige Gees. Na die asemrowende gebeure was dit die eenvoudige visserman, Petrus, wat opgestaan en gepraat het met die nuuskierige skare wat daar saamgedrom het om te kom kyk wat aangaan. Hy was g’n Skrifgeleerde, Rabbi of predikant nie, maar hy was gewillig om homself tot beskikking van die Heilige Gees te stel.

Petrus se boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle, en word gedoop in Jesus se Naam!” Dit was Petrus se antwoord, toe die mense wou weet wat hulle te doen staan.

Die resultate was absoluut verstommend: Drieduisend mense het daardie dag tot bekering gekom, genoeg om ‘n groot pawiljoen vol te sit. Die miserabele groepie van 120 gelowiges wat die oggend bymekaargekom het, het skielik ‘n reuse skare van gelowiges geword, alles op een enkele dag. Nou is daar ‘n behóórlike fondament gelê vir die kerk van Jesus. En dit deur een enkele preek! Maar wag ‘n bietjie: hierdie preek was nou nie juis wat ‘n mens sou noem ‘n oratoriese meesterstuk nie! Dit was teen alle standaarde gemeet maar redelik power! Die antwoord lê in die wonderlike, onverklaarbare werking van die Heilige Gees. Petrus was gewillig om die Gees deur hom te laat werk, en dit was heeltemal goed genoeg.

Al wat die Here van jou en my vra, is om gewillig te wees, en onsself beskikbaar te stel. Hy, die Heilige Gees sal die res doen.

Die vraag is: wat kan ek as doodgewone mens doen? Ek weet nie eers waar om te begin om die evangelie te verkondig nie?

Die goeie nuus is dat elke gelowige, maak nie saak hóé ver hy op die geloofspad gevorder het nie, ten volle by magte is om die evangelie uit te dra. Ja, ook jy! Luister fyn na die Stem van die Heilige Gees, en wees gewillig om selfs die onbenulligste takie vir Hom te verrig. Aan die einde van die dag kan dit ontplof in ‘n reuse wonderwerk. Om maar net hierdie dagstukkies na iemand anders aan te stuur, is al klaar ‘n metode van evangelisasie! Die wêreld is honger vir die evangelie! En ‘n gesig wat blydskap toon kan ‘n hele kantoor vol mense beïnvloed en van Jesus vertel.

Gebed:

Here, my gebed is dat elkeen wat vandag hierdie dagstukkie lees, bereid gaan wees om U wonderlike boodskap van verlossing te versprei.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026