Hebreërs 1:1-4
Hebreërs begin met 'n geloofsbelydenis oor Jesus. Wat glo ons van Jesus? Die skrywer wil hierdie punt opklaar en duidelik maak voordat hy verder gaan met sy skrywe, sodat ons sal wéét van Wie hy skryf.
Gelowiges word dikwels verswelg deur ‘n wêreld van ongeloof, so voel dit soms vir ons. “God is dood!” hoor ons mense sê. Vrae soos: “Hoe kan daar ‘n God wees as die wêreld in so ‘n gemors is? Waar was God op 11 September 2001? En waar was God toe die Tsoenami die Ooste getref het, en skokgolwe reg rondom die wêreld gestuur het? Dink jy dat as daar werklik ’n God is, as Hy Kovid 19 toelaat? Kyk maar hoe lyk dit vandag in Suid Afrika met al die geweld en korrupsie!”
As jy met sulke neerhalende, gelooflose vrae en stellings gekonfronteer word, is die eerste paar verse van Hebreërs soos die lafenis van ‘n koel fontein in die versengende hitte van ‘n dor woestyn. Die Hebreërskrywer wil dan rég aan die begin van sy preek, met hierdie geloofsbelydenis vir ons sê dat ons met sékerheid kan glo in Jesus.
In Hebreërs se eerste verse lei die skrywer ons om te glo dat Jesus hierdie wêreld gemaak het. Hierdie is nie sommer maar net ‘n ligtelike bewering nie. Dink maar vir ‘n oomblik presies wat dit beteken. As die skrywer sê dat Jesus die wêreld gemaak het, sluit hy hiermee outomaties die heelal in. Vandag weet ons natuurlik dat die wêreld maar ‘n bitter klein spikkeltjie in die heelal is.
Maar kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die onbeskryflik groot ruimte daar buite, en ons kyk net na die dinge hier reg rondom ons. Hier waar ek sit, besig om die dagstukkie te skryf, is die Mangoboom voor my vol in die blom, en duisende bye en ander insekte kom deel in die fees. Die wewertjies sak kort-kort toe op die voëlsaad, en dit kletter en kloek dat dit 'n aardigheid is. 'n Paar frette en mossies, en selfs twee Kaapse vuurvinkies kom sit hier op die grond vlakvoor my en saadjies soek.
My hart slaan ampertjies bollemakiesie as ek die koddige Hoep-hoep met sy naald-dun snaweltjie gewaar waar hy soek vir krieke op die grasperk. Sy kleurvolle swart en oranje kuif staan windmakerig in die vroeë oggendsonnetjie. 'n Mikstert byevangertjie kom sit parmantig op 'n takkie op die uitkyk vir goggas, sy pikswart veredos glinsterend.
Ek het hierdie wondere soveel maal al gesien, maar elke keer is dit ‘n onvergeetlike ervaring. Daardie kleure kan géén kunstenaar namaak nie! Ek het al verskeie kere probeer om dit met my kamera vas te vang, maar elke keer is ek teleurgestel in die resultaat, want hoe kan jy óóit Jesus se skepping namaak?
Ten spyte van die feit dat die mensdom so hard probeer om Jesus se wonderlike skepping te verwoes, hou Hy dit steeds in stand. Hy is steeds in beheer! Dit neem natuurlik nie ons eie verantwoordelikheid weg om op te hou om Sy skepping op te mors nie! Inteendeel: dit plaas op ons ‘n groot verantwoordelikheid om juis die skepping te respekteer, en te koester, want dit is die handewerk van Jesus!
Die skrywer snak met verwondering na sy asem as hy beskryf hoe die heerlikheid van God uit Jesus straal. Die Hebreërskrywer se geloofsbelydenis word ‘n borrelende lofbetuiging aan Hom wat verhewe is bo alles en almal. “Hy is die Ewebeeld van die Wese van God”, jubel hy.
‘n Geloofsbelydenis kan net eenvoudig nie volledig wees as jy nie ook bely dat Jesus die Een is wat reiniging van sondes bewerkstellig het nie. Hier word dit dalk net in ‘n enkele sinnetjie gemeld, maar daar is véél meer aan hierdie gedagte. Reiniging van sondes het behels dat Jesus, die Almagtige Heerser en Skepper-God Homself moes verneder om as baba gebore te word in ‘n stinkende stal, en dat Hy al die vernederings moes deurgaan waaraan ‘n kind in daardie jare onderwerp was. Hy was uit Sy eie tuisdorp weggejaag, en is Hy verskeie male uitgejou. Hy is vals beskuldig, gemartel, en aan die gewraakte vloekhout, die kruis vasgespyker. So moes Hy betaal vir my en jou sondes, en so het Hy die reiniging van sondes bewerkstellig.
Maar nou sit Hy, volgens vers 3 “aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.” Hy is verhewe, selfs bo al die engele.
Voor Jesus kan ons maar net neerval in aanbidding, wanneer ons lees hoe heilig en hoog verhewe Hy is. Ons durf nooit vergeet dat Hy nie maar net ‘n “speelmaatjie” is, of Iemand wat net daar is wanneer ons skielik in die moeilikheid is nie. Nee, Jesus is groot bo alles, Sterke Verlosser, Magtige Heer en Heiland, Immanuel, God met ons, Reddende Here, Lewende Woord! Kom ons jubel dit vandag uit in ons lofbetuiging teenoor Hom, terwyl ons terselfdertyd weet dat Hy, wat so hoog verhewe is, Homself oor my en jou ontferm.
Gebed:
Jesus, ek loof U want U is groot bo alles!