Géén Plek vir Jesus

10 December, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Géén Plek vir Jesus

Lukas 2:1-7

Video - Oudio

Josef sit nou al weke lank en tob oor die reis wat vir hom en sy brose jong bruidjie, Maria voorlê. Hy is sommer opnuut weer boos as hy net dink aan die reis, want dit is só onnodig! Net weer een van daardie goddelose keiser Augustus se giere, en nou word almal daardeur verontrief! Hy is bekommerd oor Maria, want wanneer hierdie reis aanbreek, sal sy op haar laaste wees. Sê nou net die bevalling vind plaas op die pad? Sê nou net! Dit sal ‘n ramp wees!

Hy skud die gedagtes af. Maria is mos ‘n taai meisie! Sy het nog ‘n paar maande gelede alleen by haar Tannie Elisabet in Judea gaan kuier. Sy sál dit maak! Dalk moet hy tóg maar oë toeknyp en die makliker roete deur Samaria neem. Dit sal beslis baie minder vermoeiend wees vir Maria. En daar is baie minder struikrowers. Die pad tussen Jerigo en Jerusalem is hoeka juis berug vir sy skelms wat moeë toeriste inwag en oorrompel! Die blote gedagte dat hy egter deur Samaria met daardie verfoeilike Samaritane in aanraking kan kom, laat hom gril. Nee wat, hy sal liewer maar saam met die groot groep die lang pad deur die Jordaanvallei aanpak.

Dit is nog pikdonker as Josef daardie oggend vir Maria op die donkie tel. Daar heers ‘n gemoedelike stemming onder hulle reisgenote, amper asof hulle op pad is na ‘n fees. Vir ‘n oomblik vergeet hulle wat die ware doel van hulle reis is. Die avontuur van ‘n vyf-dag-lange reis weg van die vervelige ou Nasaret af is genoeg om almal opgewonde te maak. En so vertrek hulle al singende in die vallei af in die rigting van die Jordaanvallei. Al op die ooswal van die Jordaan af stap hulle tot by die laagste stad op aarde, Jerigo.

Josef kan nie help om weer te dink oor die dag toe God die mure van Jerigo laat intuimel het nie. Tot vandag toe nog is daardie ondeurdringbare mure nóóit herbou nie. Josua het mos destyds gesê dat dié een wat dit durf waag om Jerigo se mure te herbou, vervloek sou wees! Terselfdertyd kan Josef ook nie help om angsbevange na die angswekkende berge te kyk wat anderkant Jerigo uittroon nie. Daardie berge móét hulle die volgende dag oor om by Betlehem te kom!

Die volgende oggend is dit nog pikdonker as die groep die laaste skof aanpak. Met eerste lig worstel hulle alreeds teen die voetheuwels op. Die pad is bitter sleg, en kort-kort struikel die donkie. Josef se senuwees is tot breekpunt gespanne. As die donkie noú met Maria moet val...... hy wil nie eers dink aan die gevolge nie!

Uur na uur beur die groep voort, op, op, op, van die laagste stad op aarde na Jerusalem wat bo-op die berge geleë is. Betlehem is nie ver van die groot stad af nie.

Die pad is gevaarlik, en dis bitter warm. Nêrens is daar eers 'n sweempie van 'n skaduwee of énige groenigheid nie, net klippe en stof. Boonop is dit juis hiér waar die struikrowers agter die rotse sit en wag vir die reisiger wat nie op sy hoede is nie!

“Vannag slaap ons in 'n sagte bed iewers in 'n gesellige herberg,” sing Josef, en Maria kners op haar tande oor die bittere ongemak. Die reis is amper verby!

Uiteindelik doem die mure van Betlehem voor hulle op. Maar dan sink Josef se hart in sy skoene as hy sien hoedat hierdie slapende dorpie oorstroom is van derduisende mense. “Waar bly hulle almal?” wonder hy bekommerd.

En sy bekommernis is vir géén oomblik ongegrond nie, want wanneer hulle begin soek na blyplek, word hulle by elke herberg en gastehuis weggewys. “Jammer ou maat, alles is stampvol. Jy gaan nêrens plek kry nie, elke ou gaatjie is alreeds volgestop.” En dit help boonop gládnie as hulle Maria op die donkie sien nie, want hier kom gróót moeilikheid. Wie wil dan nou 'n jong meisie in jou huis hê as sy dalk vannag nog gaan kraam?

Uiteindelik is daar iemand wat haar oor Maria ontferm. Haar man was nog besig om die twee weg te wys, toe sy haar kop by die deur uitsteek. Sy gee net één kyk na Maria, wat alreeds ál die tekens begin toon dat haar baba op pad is, en toe verkrummel haar hart. “Ek is só jammer Hartjie, maar ons huis is alreeds tjok-en-blok vol, maar as julle nie omgee vir die reuk nie..... daar is plek in die stal. Niemand anders wil daar slaap nie!”

Dankbaar aanvaar Josef die uitnodiging. Haastig neem hy vir Maria af na die vuil, stinkende stal. Hy maak vir haar 'n gemaklike lêplek in 'n hoop skoon hooi, en dan pak hy die donkie af.

'n Uur of twee later wéét Maria dat die nag aangebreek het waarin haar spesiale Baba gebore sou word.  Haar kraampyne het alreeds begin, en sy was baie bang vir wat sou kom. “Dankie Here,” het Josef net geprewel. “U het ons betyds hier gebring!”

God se tydsberekening is perfek! Sy beplanning is perfek!

Gebed:

Here, vandag besef ek net weereens dat ons 'n God aanbid wat alles perfek beplan het, ook my lewe het U só beplan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026