Géén Plek vir Jesus

2 December, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Géén Plek vir Jesus

Lukas 2:1-7

Dit is die vyfde oggend van Josef en Maria se reis na Betlehem. Dit is nog pikdonker wanneer die groep die laaste skof aanpak. Met eerste lig worstel hulle alreeds ver teen die voetheuwels op. Die pad is bitter sleg, en kort-kort struikel die donkie. Josef se senuwees is tot breekpunt gespanne. As die donkie noú met Maria moet val...... hy wil nie eers dink aan die gevolge nie!

Uur na uur beur die groep voort, op, op, op, van die laagste stad op aarde na Jerusalem wat bo-op die berge geleë is. Betlehem is nie ver van die groot stad af nie.

Die pad is gevaarlik, en dis bitter warm. Nêrens is daar eers 'n sweempie van 'n skaduwee of énige groenigheid nie, net klippe en stof. Boonop is dit juis hiér waar die struikrowers agter die rotse sit en wag vir die reisiger wat nie op sy hoede is nie.

Vannag slaap ons in 'n sagte bed iewers in 'n gesellige herberg,” sing Josef, en Maria kners op haar tande oor die bittere ongemak. Die reis is amper verby!

Uiteindelik doem die mure van Betlehem voor hulle op, en daar gaan 'n jubeling deur Josef se gemoed. Maar dan sink sy hart in sy skoene as hy sien hoedat hierdie slapende dorpie oorstroom is van derduisende mense. “Waar bly hulle almal?” wonder hy bekommerd.

En sy bekommernis is vir géén oomblik ongegrond nie, want wanneer hulle begin soek na blyplek, word hulle by elke herberg en gastehuis weggewys. By die eerste plek waar hy aanklop, word hy sommer al klaar uitgelag: “Jy soek slaapplek? Jy maak seker 'n grap!” By die volgende plek moet hy hoor: “Jammer ou maat, alles is stampvol. Jy gaan nêrens plek kry nie, elke ou gaatjie is alreeds volgestop.” En dit help boonop gládnie as hulle Maria op die donkie sien nie, want hier kom gróót moeilikheid. Wie wil dan nou 'n jong meisie in jou huis hê as sy dalk vannag nog gaan kraam?

Uiteindelik is daar iemand wat haar oor Maria ontferm. Haar ou nors man was nog besig om die twee die pad te wys, toe sy haar kop by die deur uitsteek. Sy gee net een kyk na Maria, wat alreeds ál die tekens begin toon dat haar baba op pad is, en dan verkrummel haar hart. “Ek is só jammer Hartjie, maar ons huis is alreeds tjok-en-blok vol, maar as julle nie omgee vir die reuk nie..... daar is plek in die stal. Niemand anders sal daar wil slaap nie!”

Dankbaar aanvaar Josef die uitnodiging. Hy volg die gasvrou met die steil trappies af na die grot onder hulle huis. Hy besef maar ál te goed dat die plek onrein is, en dat hy sy reputasie as Jood sal skade aandoen as hulle hier kom slaap. Maar hy het nie 'n ander keuse nie! Haastig neem hy vir Maria af na die vuil, stinkende stal. Hy maak vir haar 'n gemaklike lêplek in 'n hoop skoon hooi, en dan pak hy die donkie af.

'n Uur of twee later wéét Maria dat die nag aangebreek het waarin haar spesiale Baba gebore sou word. Haar kraampyne het alreeds begin, en sy was baie bang vir wat sou kom. “Dankie Here,” het Josef geprewel, terwyl hy inderhaas die trappies ophardloop om 'n vroedvrou te gaan soek om te kom help met die bevalling. “Dankie, U het ons betyds hier gebring!” prewel Josef al die pad terwyl hy na die vroedvrou se huisie hardloop.

God se tydsberekening is perfek! Sy beplanning is perfek!

Maar daar is 'n vraag wat bly knaag in my binneste. Betlehem het nie plek gehad vir Jesus nie. Niemand was bereid om iewers 'n plekkie vir Hom, die Koningskind in te ruim nie. Hy moes tevrede wees met die plek wat niemand anders wou hê nie.

Maar ek, ek is mos anders! Ek het plek vir Jesus! Ek sal Hom mos nooit wegwys nie? En nou knaag die vraag, of ek rêrag só seker van my saak is?

Wat van die keer toe die manne my uitgenooi het vir 'n rampartytjie? Daar is gesuip en vuil grappe vertel en nog baie ander onnoembare dinge gedoen. Ek kon mos nie vir Jesus saamneem daarheen nie? Daar was géén plek vir Hom dáár nie! O ja, en die keer toe ek die besigheid se boeke gekook het om vir Jan Taks te verneuk. Jesus moes tóé ook maar eers buite wag tot ek klaar was met my skelmstreek. Daarna het ek my mooi gesiggie opgesit en Hom weer saamgenooi biduur toe.

Toe ons verlede Desember met vakansie was, was daar ook nie juis plek om Jesus saam te neem nie, want ons het gegaan om weg te kom van alles, ook van die kerk! Ek doen mos genoeg deur die jaar vir die kerk, so wanneer ek met vakansie is, wil ek die binnekant van 'n kerk nie sien nie. Dis in elkgeval baie lekkerder op die strand so vroeg in die oggend, nét mooi in kerktyd! Vanjaar beplan ek wéér so 'n wegbreek.

Het ek te alle tye plek vir Jesus in my lewe? As dit nie die geval is nie, dan is ek niks beter as die mense van Betlehem nie!

Gebed:

Here, vandag besef ek net weereens dat ons 'n God aanbid wat alles perfek beplan het, ook my lewe het U só beplan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026