Johannes 3:4-8
Wanneer Jesus vir Nikodemus sê dat jy weer opnuut gebore moet word, dan verstaan die kêrel dit totaal verkeerd. Hy wil redeneer dat dit dan mos sou dui op ‘n fisiese geboorte waar ‘n ou man letterlik weer in sy moeder inklim en dat die geboorteproses herhaal word. Dit is totaal onsinnig! Eintlik is dit presies wat Jesus wou hê, want dit gee Hom die geleentheid om verder te verduidelik. Hy herhaal Sy sin feitlik woord-vir-woord, maar Hy vervang die woord “opnuut” met “Water en Gees”.
Daar is al baie gestry oor presies wat Jesus met hierdie twee woorde bedoel. Die “Gees” gedeelte is nie ‘n probleem nie. Dit sê in géén onduidelike terme dat die Heilige Gees betrokke is by die wedergeboorte. Maar wat van “water?” Wat presies bedoel Jesus daarmee? Die een denkrigting sê dat dit dui op die doop as geleentheid wanneer ‘n mens in God se Koninkryk ingaan. In hoofstuk 4 sien ons egter dat Jesus teenoor die Samaritaanse vrou na Homself verwys as die “Lewende Water”.
Water speel ‘n baie belangrike rol in die simboliek van reddingswerk van Jesus, en jy kan dus met redelike veiligheid aanneem dat Jesus hier na Homself verwys as Hy sê dat jy uit “Water en Gees” gebore moet word. Dit sou met ander woorde beteken dat jy slegs gered kan word wanneer twee dinge met jou gebeur: die Heilige Gees moet in jou kom en Jesus moet jou die nuwe lewe gee deur Sy versoening.
Hierdie dinge is baie moeilik om te verstaan, want ons wil dink in konkrete, menslike terme. Ons het egter hier te doene met ‘n geesteswêreld wat vir ons onsigbaar is. Die groot wonder gebeur die dag met jou wedergeboorte. Dan begin hierdie geesteswêreld vir jou ‘n werklikheid word om die eenvoudige rede dat jy déél daarvan word. Jy word dan ook sensitief vir die geestelike dinge wat rondom jou gebeur. Jy word dus ‘n burger van die geestelike wêreld. Eintlik het jy dubbele burgerskap, want jy is steeds aardsgebonde, maar jy is nie meer beperk tot die aardse nie, want nou kan jy bo hierdie beklemmende aardse dinge uitstyg.
Praat ek in raaisels? Vir Nikodemus was hierdie óók ‘n raaisel, en Jesus het dit maar al te goed besef. Daarom gebruik Hy die beeld van die wind om vir hom te verduidelik. Jy kan nie die wind sien nie. Jy kan ook nie verduidelik waarvandaan dit kom en waarheen dit gaan nie. Nogtans weet jy dat dit daar is. Jy kan die uitwerking daarvan voel op jou vel. En jy kan sien hoedat dit die blare laat ritsel. In ‘n storm kan jy die krag daarvan beleef. Jy sien hoe dit in staat is om selfs reuse bome te ontwortel. Jy hoef egter nie antwoorde te hê op al die vrae nie. Jy hoef dit nie te verstaan om seker te kan wees dat die wind wel daar is nie.
Net so is dit met die Gees: Jy hoef nie alles omtrent Hom te verstaan nie. Jy hoef nie al die antwoorde te hê oor byvoorbeeld hoe dit moontlik is dat Hy in jou kan woon nie. Wanneer ons die geesteswêreld betree, is dit asof jou verstand gaan stilstaan. Alles is net soveel groter en meer onbegryplik as die eenvoudige wêreldse waaraan ons gewoond is. Maar net soos met die wind, ervaar jy die uitwerking van die Heilige Gees ook op ‘n tasbare wyse. Jy sien hoe Hy in mense se lewens werk en wonderlike dinge verrig. Is dit ooit moontlik vir ‘n doodgewone plaasboer om 'n miljoen mense op ‘n naweek bymekaar te kry om na ‘n preek te luister? En dit boonop sonder dat daar eers ‘n rugbywedstryd betrokke is? Nee! Baie beslis nie! Tóg gebeur die absoluut onmoontlike, en ons kan dit alleen toeskryf aan die kragtige werk van die Heilige Gees wat ‘n eenvoudige plaasboer gebruik. En ek kan talle soortgelyke voorbeelde noem, wat net eenvoudig nie anders verklaarbaar is nie.
Iemand vra my eendag: “Hoe hoor ‘n mens God se stem? Baie mense hoor Hom met hulle praat, en ek wil Hom ook fisies hoor!” Jou eerste reaksie is om te lag oor so 'n vraag, maar as jy mooi gaan dink, is dit ‘n baie diep vraag. Ja, ek kan ook onomwonde sê dat ek een van daardie mense is wat God hoor praat. Hy praat elke dag met my! Het ek al ooit Sy stem fisies gehoor, soos ‘n stem uit die hemel? Nee! Nou hoe werk dit dan?
Wanneer die Heilige Gees die dag in jou lewe kom, maak Hy nuwe deure vir jou oop. Waar die Bybel eers ‘n storieboek vol gru-verhale was, word dieselfde Bybel nou vir jou ‘n riglyn vir jou lewe en ‘n boek waarin jy God se genade en liefde raaksien. As jy Hom toelaat om deur die Woord met jou te praat, word hierdie ‘n lewende Woord, en dan hoor jy God se stem wanneer jy Sy Woord lees. Op dieselfde manier ervaar jy Sy stem in die natuur of tydens ‘n erediens of wanneer iemand preek. Jy wéét net dat dit die stem van God is. Hoe presies weet ek dit? Nee, dit kan ek jou nie sê nie. Elke persoon ervaar dit anders. Die groot geheim is dat ons sensitief moet word om Sy stem te herken wanneer Hy praat. Dit kan alleen gebeur wanneer ons gedurigdeur daaraan werk om nader en nader aan Hom te leef.
Gebed:
Here, ek dank U dat U genade oor my so groot is, dat ek U teenwoordigheid en U stem kan ervaar.