Gebed

27 August, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gebed

1 Johannes 5:14-21

In die laaste paar verse van Johannes se eerste brief herinner hy sy lesers weereens aan wat hulle ontvang omdat hulle kinders van God is. Die eerste sekerheid wat ons as Sy kinders het is dat ons die vrymoedigheid kan hê om na God toe te kan gaan in gebed. Maar dit is nie alleen die feit dat ons mag bid nie, maar ook dat God gebed verhoor. Daar is egter ‘n paar baie belangrike dinge wat ons moet onthou oor gebed en gebedsverhoring. Gebed is ‘n intieme gesprek met God, nie ‘n rympie wat opgesê word om God tevrede te hou nie. Nog minder is gebed om ’n wenslysie af te rammel oor dit en dat wat ons graag wil hê. Ek het ook al ‘n paar keer gehoor hoedat ‘n predikant sy preek afrond met sy slotgebed, en in die gebed net ‘n paar punte vir die gemeente beklemtoon sodat dit mooi vas sal staan. Dominee, gebed is ‘n gesprek met God, nie ‘n gesprek met jou gemeente nie!

Gebed is om jou diepste versugting, jou pyn, jou blydskap, jou verwondering, jou diepste geheime met God te deel. Gebed is ook om vir God te sê wat jy van Hom dink, om Sy grootheid en almag te besing en jou te verwonder oor Sy groot genade. Gebed is om vir Hom dankie te sê vir al die ryke seëninge wat Hy oor jou lewe strooi, en dat Hy in Sy groot, groot genade ook vir jou as sondige mens uit die poel van verderf kom ruk het en jou Sy kind kom maak het. Dit is om innig dankbaar te wees vir die Heilige Gees in jou lewe. Soms is gebed net bloot stilbly en die teenwoordigheid van God in te drink soos ‘n dorstige spons. Nie alleen is gebed ‘n gesprek met die Heilige God nie, maar dit het ook ‘n reuse bonus: daardie gesprek verryk jou geestelik en maak jou geloof sterk. Om maar net God se heilige teenwoordigheid te ervaar, en te weet dat Hy luister na jou nietige gesprek met Hom, is al klaar ‘n wonderlike opheffing van jou gemoed, al is jou gemoed ook hóé swaar.

Die vraag is of God ooit na ons gebed luister en ons gebede verhoor? Bid ek nie dalk verniet nie? Bid ek nie in ‘n vakuum in nie? Soms voel dit asof ek vir ‘n ewigheid bid oor ‘n saak, en dan gebeur daar niks! Gee God ooit wat ons vra? Kom ons kyk ‘n bietjie na ons eie menslike omstandighede. Jou klein seuntjie kom na jou toe en hy vra: “Pa, ek wil asseblief ‘n skaatsplank hê, en ‘n selfoon wat internet kan doen. Én ‘n playstation. En Pa, assegrootblieftog Pa, Jannie het so ‘n klein regte egte motorfietsie - ek wil ôk ene hê, pleeeeeze Pa!” Wat gaan jou reaksie wees? As jy alles gee waarvoor hy vra, gaan jy hom ‘n reuse onreg aandoen. Hy gaan dit natuurlik nie so insien dat dit nie tot sy voordeel is om ‘n ding te kry wat hy bitter graag wil hê nie, maar jy as ouer het al deur die lewe gegaan, en jy weet wat jou kind gaan sterk maak vir die lewe.

In ons verhouding met God vra ons ook dikwels vir goed wat ons bitter graag wil hê, en dan gebeur niks. Net soos die seuntjie raak ons ook dikbek of moedeloos oor ons nie kry nie, en ons beskuldig God daarvan dat Hy nie gebed verhoor nie. Verhoor God dan óóit gebed?

Ek het al duisende dagstukkies geskryf oor die afgelope paar jaar. ‘n Prestasie? Wel, daar is ‘n ou klein geheimpie: as dit nie was vir God wat elke dag my gebed verhoor en vir my die gedagtes in my hart lê om te kan skryf nie, sou ek dit nooit, óóit kon regkry nie!

Ek het die taak om elke Saterdagoggend vir 'n groep Zoeloesprekende mense 'n preek te lewer. Dikwels moet ek ook eredienste lei in klein dorpies in Zoeloeland, soos Eshowe en Hluhluwe. Ek het egter nie teologiese opleiding as predikant nie, en om dus 'n preek voor te berei, is beslis nie maklik nie. Dikwels moet ek worstel met 'n onderwerp. Die groot wonderwerk is egter dat God my nooit óóit teleurstel nie. Keer op keer moet ek met verwondering sien hoedat die boodskap in my gedagtes vorm aanneem. Elke keer verhoor Hy my gebed en gee Hy my die woorde om aan die gemeente oor te dra. Is dit nie gebedsverhoring nie?

Dikwels gebeur dit dat God níé gebed verhoor soos wat ons dit graag wil hê nie. Waarom? Die antwoord kry ons in 1 Johannes 5:14, waar hy skryf dat God ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra. Soms lyk iets wat ons van God vra baie edel en goed, maar God het iets totaal anders vir ons in gedagte. Wat ons vra is dalk wel goed, maar God weet beter. Sy gedagtes is immers baie, baie groter as ons s’n. Uit my eie lewe kan ek ‘n voorbeeld noem: ek wou predikant word en die Evangelie verkondig. Alles het egter vir my skeef geloop, en ek kon dit net nooit verstaan nie. En toe gee die Here vir my hierdie internetbediening in die plek daarvan. Die dagstukkies bereik nou gereeld duisende mense! Hoeveel mense sou na my preek geluister het as ek ‘n predikant geword het? Dalk twee- of driehonderd? Inderdaad het Hy my gebed verhoor, maar op ‘n baie ander manier as wat ek dit wou hê. En baie, baie beter!

Gebed:

Here, ek loof en prys U, en dank U inniglik vir die reuse voorreg om met U te mag gesels. Dankie ook dat U my gebede verhoor.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026