Gebed

20 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gebed

Lukas 18:1-14

Jesus vertel twee gelykenisse oor gebed. In die eerste wil Hy sê dat gebed vrugte afwerp, en dat jy moet aanhou bid. In die tweede maak Hy duidelik met watter gesindheid jy moet bid.

Talle mense het my al vertel dat hulle aanhou bid en bid vir ‘n sekere saak, maar dat dit voel asof die Here nie die gebed hoor nie. O dat dit voel asof hulle teen ‘n plafon vasbid, en dat hulle die Here gladnie bereik deur die gebed nie. My eie, baie edel gebed, was dat ek ‘n predikant kon word en in ‘n gemeente kon dien. Die Here het nie my gebed toegestaan nie, en ek kon nooit verstaan waarom nie. Dit was dan so ‘n eerlike en goeie gebed! Twintig jaar later kon ek terugkyk en met wonder sien waarom Hy dit nie wou laat gebeur nie, want Hy het my ‘n baie beter bediening gegee, waar ek talle meer mense kon bereik as wat ek óóit sou regkry as predikant in ‘n gemeente.

In hierdie gelykenis, vertel Jesus van ‘n regter. Van iemand in só ‘n amp, sou ‘n mens deernis en regverdigheid verwag. Wanneer ‘n weduwee egter by hom pleit om haar saak te hanteer, ignoreer hy die vrou se versoek totaal en al. Dan hoor ons dat hierdie man in die eerste plek géén respek het vir God nie, en dat hy hom boonop gladnie aan mense steur nie. Al waaraan hy dink is sy eie selfbeeld. Toe die vrou aanhou neul en neul om haar saak te behartig, gee hy uiteindelik in, bloot om sy selfbeeld te beskerm. Die vrou se optrede is volgens sosiale norme van die tyd skaamteloos. Maar sy is desperaat en beslis vasberade!

Jesus lewer kommentaar op die storietjie, en hy tref ‘n vergelyking tussen die onregverdige regter en God. Hieruit leer ons dat God soveel meer regverdig is as hierdie man wat net aan homself dink. Die tweede belangrike vergelyking is dat hierdie man niks vir mense omgegee het nie, maar die Here het oneindig baie deernis vir Sy kinders. Op talle plekke in die Bybel lees ons van Sy wonderbare, onbegryplike, oneindige liefde vir ons, en hoe Hy Hom oor ons ontferm. Ons lees dat Hy bemoeienis maak met elke gelowige. Ons mag dus maar na Hom gaan in gebed en vir Hom dinge vra. Al voel dit dikwels vir jou asof Hy nie jou gebed hoor nie, kan jy vanoggend verséker weet: Hy luister na jou smeking.

Waarom word ‘n mens se eerlike gebed dan dikwels nie toegestaan nie? Die probleem is dat ek en jy maar bitter klein dink en redeneer. Ons verstandjies is kleiner as mosterdsaadjies in vergelyking met God, en daarom sien ons dikwels net die klein huidige kolletjie rondom ons raak. God sien ‘n baie, baie groter prentjie, en Hy sien nie alleen die huidige en verlede wat ons sien nie, maar ook die toekoms. Hy het immers reeds lankal die toekoms ontwerp! Daarom gee Hy dikwels baie anders en boonop baie beter as wat ons vra. Ek weet, ek het eerstehandse ondervinding daarvan! Ek kan maar net met groot lof verkondig dat Hy groot en goed en alwetend is, en soveel groter dink as ek, nietige mensie. Die groot geheim is dat Hy wil hê dat ons moet aanhou bid!

Die tweede gelykenis wat Jesus vertel oor gebed, handel oor ons gesindheid. Ons sien die hoogdrawende Fariseër waar hy in die tempel staan en eintlik sy eie lof besing voor die Here. Hy vertel vir God (en almal wat na hom luister!) hoe ‘n goeie mens hy nou éintlik is, en wat hy alles vir die kerk doen. Hierdie man blaas net sy eie beuel, en dit is beslis nie gebed nie! Hy praat nie eers met God nie, maar hy vertel vir die mense hoe goed hy is!

Waaroor gaan dit nou eintlik in gebed? Gebed is ‘n eerlike gesprek met God waar dit in die eerste plek gaan oor die belangrikste Gespreksgenoot, God. Kom ons neem ‘n voorbeeld: as jy die geleentheid sou kry om met ‘n wêreldberoemde ikoon (sê nou maar die koningin van Engeland) te gaan gesels: wat sou jou gesprek behels? Jy sal só opgewonde wees, dat jy vir eers gladnie aan jouself sal dink nie! Jy sal vir haar vertel hoe jy haar bewonder, en haar bedank vir die wonderlike voorreg wat sy jou gegee het. Omdat sy groot mag het, sal jy haar dalk versoek om van haar ongelooflike rykdom te deel met die mense in Suid-Afrika wat in groot nood verkeer. Die geleentheid is só groot, dat jy skoon van jouself vergeet.

Gesels ons met God, dan is dit met Iemand soveel groter, en die blote gedagte laat jou bewerasies kry van opgewondenheid. Het ons ooit nog daardie respek en bewondering vir Hom? Voel ons nog klein en nietig en magteloos voor die Koning van alle konings? Wil ons nog uitbars in ‘n jubelende, opgewonde lofprysing vir Hom, elke keer wanneer ons die geleentheid kry om met Hom ‘n gesprek te voer? Wanneer ons met Hom praat, behoort ons gedagtes so groot te wees, dat ons nie onsself en ons nietige behoeftetjies raaksien nie, maar die groter prentjie van duisende en miljoene ander wat soveel slegter af is as onsself. Ag, en natúúrlik mag ons maar ons eie behoeftes ook voor Sy voete lê. Hy is immers ons liefdevolle Vader!

Gebed:

Almagtige Vader, vanoggend wil ek U grootheid uitbasuin vir die ganse wêreld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026