3 Johannes:1-8
3 Johannes is ‘n baie kort briefie, slegs 219 woorde lank. Anders as die meeste ander briewe in die Bybel, is hierdie brief baie persoonlik, en is dit nie gerig aan ‘n gemeente nie, maar aan ‘n persoon, Gaius. Johannes bedank in die brief vir Gaius omdat hy so gasvry is wanneer hy die rondreisende predikers ontvang. Dit is inderdaad die klein dingetjies in die lewe, soos gasvryheid wat saakmaak. Dit is dáár waar jou Christelike leefstyl sigbaar word vir die wêreld. Deur die klein dingetjies weerspieël jy God se liefde, en só word jy ‘n ambassadeur vir die Koninkryk.
Johannes skryf ook vir Gaius oor allerhande soorte berigte wat hom bereik het, goeies én slegtes. Hy het gehoor dat Gaius getrou bly aan die Evangelie, iets waaroor hy natuurlik baie dankbaar is. Hy praat ook met Gaius oor Demetrius, een van die gemeentelede, waarvan almal net met groot lof praat. Diotrofes, aan die ander kant, is 'n gemeenteleier waaroor Johannes diep bekommerd is. As leier moet jy ook bereid wees om gesag te aanvaar, maar Diotrofes weier om dit te doen. Boonop beskinder hy vir Johannes, en van gasvryheid teenoor rondreisende evangeliedienaars is daar geen sprake by Diotrofes nie. Dalk het Diotrofes een stappie te ver gegaan toe hy in Johannes se vorige brief gelees het dat jy versigtig moet wees vir mense wat valse leringe versprei. Dalk wou hy ten alle koste verhoed dat enige vreemdeling in die gemeente kom preek, al is hy dan nou ook ‘n evangeliedienaar. Ja, ons kom agter uit hierdie brief, dat daar verskillende soorte mense in ‘n gemeente kan wees. Daar is die yweriges en gasvryes, maar ook die oorversigtiges. Elkeen het sy plekkie in die gemeente Ons moet egter versigtig wees dat ons nie met ons optrede die Evangelie skade berokken nie.
As ek maar ons eie gemeente as voorbeeld kan gebruik: Ek onthou die jare nog uiters goed toe enigeen wat nie aan een van die drie susterskerke, NG, Gereformeerd en Hervormd behoort het nie, beskou was as “sektaries”. Sulke kerke was verdoem! Uiteindelik het die AGS darem ook die status van “kerk” gehaal! Maar hulle was maar steeds met groot versigtigheid behandel. Loof die Here dat mense, veral kerkleiers se oë oopgegaan het! Dat hulle begin besef het dat almal wat die Naam van Jesus bely deel is van die gesin van God. In Ballito NG Gemeente preek daar dikwels predikers van ander kerke, en die enigste kritiek wat ons nog ooit ontvang het hieroor was nie uit ons eie gemeente nie maar van buite. Op hierdie manier word die bande van broederskap stewig gebind.
Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat in hierdie briefie aan Gaius staan (Gaius sal nie omgee om dit met ons te deel nie!) Die skrywer stel homself voor as “Die Oudste.” Dit is nie nodig vir Johannes om sy naam te skryf nie, want daar was reeds ‘n pragtige verhouding tussen hom en Gaius, ‘n Goddelike liefdesband. Alhoewel Gaius nie noodwendig ‘n ouderling in die gemeente was nie, was hy waarlik ‘n Christen op wie jy kon steun, en met ‘n ryk geestelike lewe. Dit blyk uit die feit dat Johannes vertel hoeveel blydskap Gaius se lewe hom besorg, as hy van ander mense verneem dat hy “getrou bly aan die waarheid” en “in die waarheid leef”. Gaius se belydenis en sy leefstyl is absoluut Christusgerig, en mense sien dit raak. Dit het ‘n positiewe invloed op ander mense se lewens. En dit is presies waaroor Johannes se boodskap aan Gaius handel: Leef wat jy glo!
Nou wat is dit dan wat Gaius doen, wat Johannes se lof so verdien? Dit is sy gasvryheid wat hom so vooruit loop. Dit was seker nie maklik om in daardie jare ‘n leraar te wees nie. Vandag word ‘n leraar in ‘n gemeente aangestel en hy kry ‘n huis en lewensonderhoud. In Johannes se tyd was dit baie anders: hierdie manne moes van gemeente na gemeente gaan om die Woord te bedien, en waarskynlik op hulle eie koste. Verblyf was ‘n groot probleem, en ek is seker dat hulle dikwels bloutjies geloop het, of dalk baie kil ontvang is. Gaius het hulle met ope arms ontvang en dit vir hulle aangenaam gemaak, want hy was oortuig daarvan dat hy die regte ding doen. Op hierdie manier het Gaius sy lojaliteit en verbondenheid aan die ware leer van Christus gewys deur sy onbaatsugtige liefde wat hy op hierdie manier uitgeleef het.
Iemand het baie jare terug opgemerk dat hy nie kan verstaan hoe dit moontlik is dat Christene mekaar kan liefhê nog voordat hulle mekaar ken nie. Gaius se liefde vir vreemdelinge het ‘n integrale deel geword van die verspreiding van die Evangelie.
Deur hierdie briefie wil Johannes vanoggend ook op jou en my ‘n beroep doen om God se liefde uit te leef. Gaius het dit gedoen deur sy gasvryheid. Moontlik is daar ‘n héél ander manier waarop jy dit kan doen. Iemand vertel my ’n paar jaar gelede dat sy briewe skryf aan mense in ‘n Amerikaanse gevangenis, en so haar liefde uitleef. Wees kreatief en vind ‘n manier om jou liefde uit te leef.
Gebed:
Here, wys my asseblief op watter manier ek U liefde vandag kan uitleef.