Gabriël kom Aangevlieg

1 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gabriël kom Aangevlieg

Daniël 9:20-27

VIDEO | LUISTER

Terwyl Daniël nog besig is om te bid, kom die engel Gabriël daar aangevlieg (volgens die 1983 vertaling) - sommer so half amper in die verbygaan word dit genoem. Ek sou net daar omgekap het van die skrik! Vir Daniël is dit gebedsverhoring. Nee, dit is nie waarvoor hy gebid het nie - hy het gebid vir sy volk se verlossing en vir die herstel van die heiligdom. Maar God weet beter - hy hoor Daniël se smeking, en Hy gaan selfs so ver om vir Gabriël te stuur om vir Daniël te kom verduidelik.

So dikwels bid en bid en bid ons vir ‘n sekere ding, en dan gebeur daar niks. Het God ooit my gebed gehoor? Verstaan Hy dan nie my nood nie? Hoekom antwoord Hy dan nie? Waarom gee Hy dan nie waarvoor ek vra nie? ‘n Klein seuntjie sal vir sy pa vra: “Pappa, ek wil ‘n windbuks hê”, en die pa weet dat daardie wapen vir die outjie gevaarlik kan wees. Eendag, miskien wanneer hy baie meer wysheid het, sal hy dit dalk kry. Pa probeer verduidelik, maar hy hoor hom nie eers nie. Die seuntjie kan nie verstaan hoekom Pa so wreed is om nie NOU vir hom ‘n windbuks te gee nie. Ons is eintlik soos klein seuntjies en dogtertjies by God, ons Vader. Hy het soveel meer wysheid as ons, en Hy het ‘n groot ewigheidsplan. Dikwels antwoord God ons gebed op die een of ander wyse, maar ons gedagtes is so besoedel dat ons nie Sy antwoord hoor nie.

Maar terug by Daniël - Gabriël verduidelik vir hom: God antwoord die ou profeet op ‘n baie besonderse wyse, want Hy het vir Daniël lief. Maar die antwoord wat Daniël kry is dalk nie heeltemal wat hy wou hê nie, en boonop is dit nie ‘n maklike antwoord om te verstaan nie. Daar word gepraat van “sewentig weke”. Ouer vertalings lees: “sewentig sewetalle” of “sewentig tydperke”. Wat moet ons hiermee verstaan? Dit is simboliese getalle, en dit kan op ‘n paar maniere verklaar word. Een daarvan is dat dit die tydperk is van die aankondiging hiervan tot met die herstel van Jerusalem, en tot met die verwoesting daarvan in 70nC. Dit kan ook verstaan word as die herstel wat eindig met die dood van Antiochus Epifanes. ‘n Derde moontlikheid is om eskatologies hierna te kyk. Wat vir Daniël helder en duidelik was, is vir ons vandag ‘n raaisel, en die geleerdes stem saam dat hierdie n baie moeilike Skrifgedeelte is om te verklaar.

Hierdie Skrifgedeelte is deur baie mense aangegryp om die toekoms van die kerk, die Jode en Israel te bereken. Ongelukkig raak mense só op loop daarmee, dat die res van die Woord onderbelig word. Wat maak ons dan hiermee? Natúúrlik is dit deel van die Woord van God, en die blote feit dat God selfs vir Gabriël gestuur het om die boodskap te bring, sê vir ons dat dit baie belangrik is, en dat ons dit nie maar kan weggooi nie. Dit bring ons daarby dat dit een van slegs twee verklarings kan hê, en albei is baie belangrik: ‘n Messiaanse of ‘n eskatologiese verklaring of selfs dalk albei! (Eskatologie is die bestudering van die toekomstige dinge).

Die Messiaanse model sê kortliks vir ons: Die sewentig tydperke is simbolies en dui op ‘n volheidsgetal of -tydperk wat van ‘n besonderse betekenis is vir Israel en Jerusalem. Hierdie tyd kom in volkome vervulling van die koms van die Messias. Daar sou ‘n tydperk wees van verwoesting en ongeregtigheid. Daarna kom weer ‘n tyd van herstel (die tempel en Jerusalem), en ná dit alles sal die tempel en stad wéér verwoes word, soos dit inderdaad deur die geskiedenis bewys is! Hierdie is egter slegs die geskiedkundige deel, want midde dit alles skyn die helder lig van die koms van die Messias, die Gesalfde van God wat versoening bring vir die mens se oortredinge. In hierdie tyd word ‘n blywende geregtigheid tot stand gebring.

Daniël het gebid vir die herstel van Israel en die tempeldiens. Die antwoord op sy gebed het egter sy stoutste verwagtinge oortref! God dink sovéél groter as ons nietige mense, selfs groter as die groot profeet Daniël! Hy antwoord Daniël deur hom so ‘n klein kykie te gee in die Goddelike raadsplan met Israel. Dit gaan nie oor die onmiddelike toekoms nie, maar die profeet sien eeue vooruit wat God in die geskiedenis vir sy volk inhou. In slegs ‘n paar woorde word die sluier vir Daniël gelig oor die grootste gebeurtenis óóit in die geskiedenis van die wêreld. Die omvang van die gevolge van hierdie gebeurtenis is astronomies groot, ja baie groter as wat Daniël óóit sou kon begryp!

Oor slegs ‘n paar maande gaan ons weereens hierdie gebeurtenis, die koms van die Messias herdenk. Die ongelowiges vier ook Kersfees. ‘n Hindoe vrou vertel my dat hulle gesin ook Kersgeskenke koop, ’n kalkoen slag en Kersfees vier. Vir my en jou as gelowiges moet dit egter oor iets baie groter gaan as bloot ‘n vakansiedag, lekker eet en geskenke. Dit gaan oor God se liefde en genade. Dit gaan oor God se Geskenk aan jou en my. Het jy al daardie geskenk aanvaar? Indien wel - hoe beleef jy dit?

Gebed:

Here, dankie dat U Daniël se gebed verhoor het op so ‘n wonderbare manier, en dat ons vandag selfs die vrugte daarvan kan pluk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026