Lukas 6:46-49
‘n Jong paartjie het in die jare sewentig vir hulle ‘n huis met ‘n uitsig oor die wye oseaan aangeskaf in Ballito. As jy Ballito ken, sal jy weet dat huise met daardie soort uitsig hoog teen die skuinste van ‘n oer-sandduin gebou is.
En toe eendag kom die groot reëns. Die tweetjies is die aand kooi toe met die heerlike gesuis van reën in hulle ore. Terwyl sy nog so rustig lê en lees, kry sy die vreemde gewaarwording van gróót water wat ruis, maar sy steur haar nie juis daaraan nie en sy verdiep haar in haar boeiende boek.
Skielik is daar ‘n onaardse rammeling en ‘n sieklike gekraak, en sy voel met ‘n skok hoedat haar bed begin beweeg. Sy vlieg vervaard op, net betyds om te sien hoedat hulle huis besig is om onder hulle voete uitmekaar te breek. Beangs hardloop hulle in hulle nagkabaai uit die huis uit in die gietende reën. Oopmond moet hulle toekyk hoedat ‘n stroom water uit ‘n gebreekte stormwaterpyp ‘n reuse sloot onder die huis deurvreet. Helfte van die fondasies hang in die lug, en die huis is letterlik besig om stadig middeldeur te breek.
Vandag, baie jare later, is daardie einste sandduin steeds die gewildste deel van Ballito en die duurste paleise pryk teen die helling. Argitekte besef egter vandag die gevaar van so ‘n sandduin en die huise daar word ontwerp met hypale (piles) wat diep ingesink word tot op vaste rots om te verhoed dat stormwater die sand onder die fondasies kan uitspoel en die paleis kan laat intuimel.
Jesus het ‘n gelykenis gebruik oor twee tipes bouwerk, een waarvan die fondament op die rotsbodem gelê was en die ander wat sommer so op die sandgrond was. Op die oog af sien jy nie ‘n verskil tussen die twee huise nie, maar wanneer die vloedwater kom, dan tuimel die huis sonder behoorlike fondamente inmekaar, terwyl die ander bly staan. Tydens die vloede wat Ballito in 2007 getref het, was daar huise wat eenvoudig verkrummel het onder die aanslag van die golwe. Een gebou het egter almal verstom - die lewensredders se geboutjie wat reg op die strand gebou was, het ongeskonde daarvan afgekom. Die rede? ‘n Inginieur wat daarop aangedring het dat die fondament met groot moeite op vaste rots gegiet word!
Waaroor gaan dit alles?
Jesus vra die hoorders aan Sy voete: “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” Jesus is die Rots waarop ons die gebou van ons lewe moet bou, want sonder daardie Fondament sal daar die een of ander tyd baie groot probleme kom. Soos met ‘n huis, sal alles piekfyn lyk solank dit goed gaan, maar wanneer die aanslae van die lewe kom, is dit slegs die persoon wat Jesus as Fondament het wat sal staande bly.
Die vraag is: Hoe bou ek op daardie Jesus-fondament?
Jesus gee die antwoord helder en duidelik: “Doen wat Ek sê!”
Maar waar begin ek? Daar is so baie dinge?
Begin by die begin! In Openbaring 3:20 nooi Jesus jou uit met die woorde: “Ek staan by die deur en Ek klop!” Hy vra jou dus om jou hart vir Hom oop te maak en Hom binne te nooi. Jy hoef Hom nie te gaan soek nie - Hy is reeds rég by jou, en Hy wag net om toegelaat te word in jou lewe. Dit is die eerste en belangrikste stap.
Moontlik sê jy: “O, maar Jesus is reeds deel van my lewe!”
“Volg My,” het Jesus vir Petrus gesê in Mat 4:19. “Volg My”, sê Hy vandag ook vir jou en my. Om Jesus te volg is baie beslis nie maklik nie! Petrus en sy maters het dit op die harde manier uitgevind. Maar die beloning is een wat jy nie kan beskryf nie.
Om Jesus te volg, beteken nie noodwendig dat jy jou werk en huis en alles moet los, soos Petrus-hulle gedoen het nie, en te gaan sendingwerk doen in Timboektoe. Nee, maar dit beteken egter wél dat jy sekere opofferings moet maak en voluit vir Hom lewe. Dit beteken dat jy die regte prioriteite in jou lewe moet hê, waar die saak van Jesus voorrang moet kry bo énige wêreldse dinge. Dit beteken dat jy ‘n ambassadeur vir Jesus sal wees in jou werksituasie en oral waar jy gaan. Dit is baie moeilik, maar gelukkig het die Here geweet dat ons dit nie sommer so op ons eie kan doen nie, en daarom het Hy ons die Heilige Gees gegee om ons die krag, wysheid, inspirasie en moed te gee om op te staan vir Jesus.
Jesus het ook by verskeie geleenthede die groot belangrikheid van Liefde beklemtoon. Om waarlik jou lewenshuis op die Jesus-fondament te bou, is die sement van liefde uiters noodsaaklik, want daarsonder val alles uitmekaar. Jy kan die beste beton-mengsel aanmaak vir ‘n fondasie, maar sonder sement is alles puur verniet. In 1 Kor. 13 besing Paulus die betekenis van liefde. Ek en jy behoort hierdie gedeelte gereeld te lees om ons geheue te verfris, en dit dan prakties te gaan uitleef. Liefde, soos wat Paulus dit beskryf, is waarlik die sement van die fondament waarop ons lewenshuis gebou moet word.
Kom ons bou vandag in alle erns op die Jesus-fondament!
Gebed:
Here, vandag pleit ek alweer skuldig want my bouwerk is nie op standaard nie. Help my asseblief om te begin by die regte fondament.