Filippus in Samaria

15 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Filippus in Samaria

Handelinge 8:4-25

VIDEO | OUDIO

In gister se oordenking het ons gesien hoedat die vervolging van die Christene in Jerusalem in alle erns begin het. Gelowiges het uitmekaargespat en in alle rigtings gevlug vir hulle lewens. Omtrent die enigstes wat oorgebly het, was uiteindelik die apostels. Die Christene wat gevlug het, het die Evangelie verkondig so ver as wat hulle gegaan het en so is die blye boodskap die wêreld ingedra.

Een van die vlugtelinge was die nuutverkose diaken Filippus, een van die sewetal wat saam met Stefanus gekies was. Hy het na die landstreek Samaria uitgewyk om daar vir hom ‘n holtetjie vir sy voet te vind tussen die Samaritane. Die Samaritane en die Jode was nou nie juis die beste van bure nie en daar was gedurigdeur ‘n gestry oor waar God éintlik aanbid moes word, in Jerusalem of op die berg Gerisim. Die Jode het die Samaritane verafsku en as slegs ‘n Samaritaan se skaduwee op ‘n Jood sou val, het hy hom eers gaan was want dan was hy onrein!

Onder hierdie donker omstandighede kom Filippus die land binne. En wat doen hy? Hy begin die Evangelie verkondig aan hierdie einste Samaritane! Maar eers moes hy die reg verdien om te kon preek. Die Heilige Gees het kragtig deur Filippus gewerk sodat hy baie wondertekens gedoen het en sodoende die mense se aandag op hom gevestig het. Siekes is gesond gemaak; kreupeles kon weer regop staan; verlamdes kon skielik weer loop! Dit het veroorsaak dat die Samaritane baie gou geredeneer het: “Hierdie is nie sommer maar net iemand nie, God werk deur hom! Ons kan gerus maar luister na wat hy sê!” Die inwoners van Samaria was vol verwondering oor wat Filippus vermag het en Lukas vertel dat hulle aandagtig na Filippus geluister het. Nie alleen het die wondertekens bevestig dat hy deur God gestuur is nie maar die dinge wat hy gesê het het hulle diep aangegryp!

Nie alles was egter net maanskyn en rose nie en mettertyd het Filippus groot teenstand begin kry van ‘n man met die naam Simon, ‘n gedugte towenaar. Só sterk was Simon se mag om allerhande bonatuurlike dinge en toorkunste te verrig, dat die mense na hom verwys het as “die groot krag van God.” Baie mense het Simon uiteindelik beskou as ‘n goddelike wese wat ter aarde neergedaal het. Sommige het selfs so ver gegaan as om hom te beskou as ‘n beliggaming van God self!

Dit was nie vreemd vir daardie tyd nie want baie towenaars het daarop aanspraak gemaak dat hulle gode was. Towery was ‘n algemene ding en vir die mense van daardie tyd was die onsigbare of onsienlike eintlik die ware werklikheid! In die Grieks-Romeinse wêreld was daar ‘n hele galery van gode en godinne en hulle moes gelukkig gehou word om vir jouself die lewe gemaklik te maak. Towenaars en priesters sou oor die gawe beskik het om met hierdie godewêreld te kommunikeer. Hulle het dan ook dikwels bonatuurlike magte gekry in die proses. Hierdie mense is met groot agting bejeën. Vandag is hulle steeds met ons in die persoon van sangomas, spiritiste, fortuinvertellers ens. Hierdie is bitter gevaarlike praktyke wat heul met die magte van die duisternis. Mense wat hierdie praktyke beoefen staan eintlik in diens van die duiwel!

Simon kon wél wonderlike dinge doen maar Filippus was egter in 'n héél ander kategorie. Hy het boonop oor die wonderlikste woorde beskik, woorde wat lewe gee - wáre lewe! Geloof in God berus nie in die dinge wat jy kan sien, soos wonderwerke nie. Dit berus eerder in ‘n vaste vertroue dat Jesus se sterwe en opstanding nuwe lewe gee vir die gelowige. Simon het gesien wat gebeur en hy het begeer om ook soos Filippus te wees. Hy het na Filippus geluister en het die geloof aangeneem. Hy is selfs ook gedoop. Maar sy motiewe was nie suiwer nie en hy het slegs geglo op grond van die dinge wat hy Filippus sien doen het en nie soseer oor dit wat hy gepreek het nie.

Die gerugte het versprei oor Filippus se suksesvolle bediening in Samaria. Dit het ook die ore van die apostels in Jerusalem bereik en hulle het besluit om te gaan kyk wat daar besig was om te gebeur. Dit was immers hulle taak om toesig te hou oor die suiwer verkondiging van die Evangelie. So word Petrus en Johannes afgevaardig om 'n besoek by Filippus te gaan aflê. Daar aangekom het hulle vir die mense gebid. Die reaksie was dat die Heilige Gees kragtig op die nuwe bekeerlinge gekom het presies net soos dit gebeur het op Pinksterdag.

Hierdie gebeure het nie ongesiens by Simon verbygegaan nie en weereens het sy hart met begeerte gebrand. Hy wou ook doen wat die apostels doen want hy het gesien dat die mense die Heilige Gees kry as Petrus maar net sy hande op hulle gelê het. Hy het by Petrus gaan pleit en hom selfs probeer omkoop: “Ek is bereid om gróót te betaal vir daardie krag!”

Petrus se geskokte antwoord was bloot: “Gaan na die verderf met al jou geld en al!” God se hemelse gawes is beslis nie met geld te koop nie!

Daar is nie plek in die kerk vir mense wat God probeer dien slegs om allerlei “byvoordele” te kry soos status, mag of eie eer nie. As jy probeer om goed te doen sodat jy ‘n beter plekkie in die hemel kan verdien is jy ewe selfsugtig! Om God waarlik te dien beteken dat alle eer aan Hom alleen gaan en dat jy Hom dien suiwer uit dankbaarheid vir wat Hy alreeds vir jou gedoen het en aanbid sonder om enigiets terug te verwag!

Gebed:

Here, genees asseblief my selfsugtige hart en gee vir my ‘n hart van onbaatsugtige diens aan U alleen!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026